SA Graan November 2013 - page 49

Grondbone
Insette/Produksie
Novembermaand in die
grondboonland
47
November 2013
LOUREINE SALOMON, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE
Planttyd bring ‘n gevoel van afwagting en hoop dat die seisoen wat voor-
lê goeie vrugte sal lewer. Dit hang egter van die produsent en sy beplan-
ning af wat die potensiaal vir die grondboonoes gaan wees.
Wisselbou
Goeie beplanning begin by ‘n goeie wisselboustelsel waar daar in ag ge-
neem is dat grondbone slegs ná drie tot vier jaar weer op dieselfde stuk
grond geplant mag word. Die rede hiervoor is om siektes asook nema-
todes te beheer.
‘n Goeie wisselbouprogram vir grondbone sal soos volg lees: Jaar 1
– grondbone; Jaar 2 – mielies; Jaar 3 – sonneblom/sojabone/mie-
lies; Jaar 4 – mielies/grondbone (slegs as die vorige jaar ook mielies
geplant is).
Daar moet in gedagte gehou word dat wisselbou voordelig is vir die op-
bou van landbougrond en indien dit reg bestuur word, baie meer wins-
gewend vir die produsent self is.
Grondvog en -temperatuur
Grondvog en -temperatuur is twee van die belangrikste faktore wat
ontkieming van grondboonsaad beïnvloed, maar kan ook die onvoor-
spelbaarste wees. As daar nie vog beskikbaar is binne die voorgeskrewe
plantdiepte van 5 cm tot 7 cm nie, sal die kiemingsproses nie begin nie en
sal die grondboon dormant bly tot daar voldoende vog beskikbaar is. Dit
is dus wenslik om in klam grond te plant.
Daar moet gewaak word om nie agter vog aan te plant en sodoende die
plantdiepte aan te pas nie, aangesien dit ‘n vorm van operding veroor-
saak wat op die uiteinde oesverliese veroorsaak.
Dit is voordelig om ‘n oog op weervoorspellings te hou om moontlike
nadelige koue tydperke te omseil en daarvolgens plantdatums te beplan.
Dit is uiters belangrik om grondtemperature in ag te neem aangesien ‘n
daling onder 15°C skade aan die ontwikkelende saad veroorsaak.
Ontkiemende grondboonsaad is op sy gevoeligste binne die eerste
48 uur na-plant aangesien dit die tydperk is waar daar wateropname
plaasvind wat die chemiese reaksies binne die saad aanskakel. As daar
gedurende hierdie tydperk ‘n koue skok plaasvind, kan daar ‘n onderbre-
king in die chemiese reaksies plaasvind en skade aan selwande veroor-
saak word, wat loging van stowwe vanuit die selle sal laat plaasvind.
Dit alles lei daartoe dat die kiemplantjie seerkry en daar dus ‘n verswakte
plantjie ontwikkel. In sommige gevalle is die skade so groot dat die kiem-
plantjie sterf. Verswakte plantjies is ook meer vatbaar vir saailingsiektes,
soos verwelksiektes en
Aspergillus
-kroonvrot, daarom is dit ook uiters
belangrik dat korrekte saadbehandeling toegepas moet word.
Voorbereiding
Grondvoorbereiding is baie belangrik vir die produksie van ‘n goeie ge-
halte grondboonoes. Gronde wat goeie waterhouvermoë het, goed ge-
dreineer is en maklik deurdringbaar is vir die grondboonwortels, is alles
positiewe punte vir goeie produksievooruitsigte.
Onthou dat ‘n fyn, gelyk saadbed bevorderlik is vir gelyke ontkieming wat
lei tot goeie, eenvormige plantestand. ‘n Korrekte gekalibreerde planter
wat op die korrekte plantdiepte gestel is, dra ook by tot ‘n goeie, eenvor-
mige plantestand.
Om planterspoed in gedagte te hou, is ook belangrik aangesien ‘n gejaag
na wind net probleme inhou en veroorsaak dat daar meer
splits
geplant
word as heel grondboonsaad.
Voeding
Die voedingstatus en pH van die grond loop hand aan hand. Daar is dalk
voldoende voedingstowwe in die grond teenwoordig, maar dit is nie
noodwendig beskikbaar vir die grondboon nie.
Grondbone is verdraagsaam teen lae pH-peile, maar ‘n te suur grond
benadeel die vorming van wortelknoppies en dus die binding van stikstof.
Alhoewel ‘n pH van 5,5 in H
2
O of 4,5 in KCl nog aanvaarbaar is, behoort
daar gestreef te word na ‘n pH van 6 in H
2
O of 5 in KCl.
Daar moet ook in gedagte gehou word dat kalk gebruik word vir die reg-
stelling van pH en dat die kalsium binne die kalk oor ‘n baie lang tydperk
vrygestel word. Hierdie kalsium is nie altyd so maklik beskikbaar vir die
grondboon om op te neem nie, daarom word daar aanbeveel dat daar wel
ook gips toegedien word teen 300 kg/ha tot 700 kg/ha, breedwerpig om
aan die grondboonplant se kalsiumbehoeftes te voorsien.
Gips is die beste bron van kalsium vir grondbone aangesien dit hoogs
oplosbaar is en maklik binne die boonste 10 cm van die grondlaag kan
inbeweeg waar die grondboon dan in staat is om die kalsium direk deur
die peul op te neem.
Blaartoedienings van kalsium het nie die gewenste uitwerking nie,
aangesien die grondboonplant kalsium direk deur die peulwand opneem
en kalsium nie afwaarts binne die grondboonplant verplaas word nie.
Onkruidbeheer
Die korrekte toediening van voor-opkoms onkruiddoders is baie belang-
rik om goeie onkruidbeheer binne grondboonlande te bewerkstellig,
daarom is dit baie belangrik om met die samewerking van ‘n chemiese
verteenwoordiger die korrekte chemiese middels te kies.
Daar moet streng gehou word by middels wat op grondbone geregistreer
is, aangesien daar swaar klem gelê word op naspeurbaarheid binne die
grondboonbedryf. Hou by die korrekte dosering en toedieningsmetodes
om die beste resultate te verkry. Voorsorg is altyd beter as nasorg.
Onder besproeiingsprodusente is daar ‘n gebruik om voor-opkoms on-
kruiddoders “in te was” na-toediening. Daar moet baie versigtig te werk
gegaan word om te verhoed dat daar nie ‘n mikro-koueskok toegedien
word in die vorm van koue besproeiingswater nie en sodoende onnodige
probleme geskep word nie.
Dit is beter om voor-plant voldoende besproeiing toe te dien en in nat
grond te plant; waar voor-opkoms onkruiddoders dan op klam grond toe-
gedien kan word. Poog ook om besproeiingsaanplantings nie binne die
eerste vier dae na-aanplanting te besproei nie, om sodoende moontlike
nadelige effekte van koue besproeiingswater uit te skakel.
Goeie beplanning en uitvoering daarvan verseker ‘n goeie plantaksie
vir grondbone. Toepassing van sorg gedurende die aanplantingsproses
verseker sterk, gesonde plante wat die potensiaal het vir ‘n goeie oes.
1...,39,40,41,42,43,44,45,46,47,48 50,51,52,53,54,55,56,57,58,59,...100
Powered by FlippingBook