DIE
GRAAN- EN OLIESADEBEDRYF
VAN SUID-AFRIKA – ‘N REIS DEUR TYD
ႄႆ
’n totale massa van 4,4 miljoen ton ter waarde van ongeveer R800 miljoen in die
tydperk ingevoer. Die laaste van die ingevoerde mielies het op 18 Maart 1985 met
die skip Nosira Sharon in Kaapstad aangekom. Aan die begin van die invoerpro-
gram is beraam dat slegs sowat 225 000 ton mielies/maand ingevoer kon word,
weens kapasiteitsbeperkings. In sommige maande is daar egter tot soveel as
335 000 ton afgelaai, danksy die uitstekende samewerking tussen die verskillende
betrokkenes, naamlik die Suid-Afrikaanse Vervoerdienste, inspekteurs en klarings-
agente van die Mielieraad en die dokwerkers.
Ten einde die tekort aan mielievoorrade na die droogtes van die voorafgaande
jare te verlig, is met goedkeuring van die Minister van Landbou, mnr Greyling
Wentzel, ooreengekom dat ’n premie op vroeë mielielewering in die 1984/1985-
seisoen betaal sou word. Die premie was egter beperk tot die eerste 300 000 ton
wat gelewer is.
Grondomskakelingskema
By ’n spesiale kongres van NAMPO wat op 27 Augustus 1987 te Potchefstroom
gehou is, het Minister Wentzel maatreëls aangekondig om ’n geleidelike struktuur-
aanpassing in die aanwending van grond in die somersaaigebiede moontlik te
maak. Dit het nie net vir grond waarop mielies geplant is, gegeld nie, maar ook
vir ander somergraangewasse. Die belangrikste komponent daarvan was ’n spe-
siale grondomskakelingskema wat ingestel is om landerye wat op marginale grond
gevestig was, in aangeplante weidings te omskep.
Die grondomskakelingskema was uitsluitlik ’n NAMPO-inisiatief onder leiding van
mnr Cerneels Claassen wat in meer besonderhede in Hoofstuk 4 bespreek word.
Dit was ’n projek wat oor ’n tydperk van ongeveer vyf jaar infaseer sou word en
het ten doel gehad om veral mielieproduksie tot ongeveer die vlakke van die bin-
nelandse vraag te beperk, deur sowat een miljoen hektaar saaigrond na weiding
om te skakel. Dit het gepaardgegaan met bystand van die regering om verliese met
mielie-uitvoeraksies gedurende die omskakelingstydperk te verlig.
Uitbreiding van beheerde gebiede
In 1988 is die beheerde gebiede ingevolge die eenkanaalstelsel vir mielies uit-
gebrei om alle landdrosdistrikte waar meer as 5 000 ton mielies/jaar geproduseer
word, onder beheer te plaas. Die probleem was deels veroorsaak deur die feit
dat die Suid-Afrikaanse produsenteprys vir mielies hoër was as die internasionale
prys, wat op daardie stadium baie laag was as gevolg van ’n ooraanbod van mielies
op die internasionale markte. Die Mielieraad was van mening dat ’n “kunsmatige”
internasionale marksituasie geskep is deur die feit dat buitelandse regerings hulle
mielieprodusente swaar gesubsidieer het en dat dié marksituasie daartoe sou lei
dat produsente in die nie-beheerde gebiede ten koste van dié in die beheerde ge-
biede bevoordeel word.
Brandkomitee (1988)
Op daardie stadium was die mieliebedryf in ’n oorgangsfase en die Mielieraad het
daarop gewys dat die aanpassings wat oorweeg is, slegs suksesvol kon wees in-
dien al die mielieprodusente daarby betrek is.
Benewens verskeie ander bemarkingsalternatiewe wat oorweeg is, was die Komitee
van Ondersoek na Alternatiewe Bemarkingsreëlings (die sogenaamde Brand-
komitee) byvoorbeeld besig met ’n ondersoek na die moontlikheid om ’n graanbeurs
daar te stel. Die gaping tussen die produsenteprys en die verbruikersprys van mie-
lies was problematies en een van die komponente wat tot dié prysgaping bygedra
het, was juis die hoë bemarkingskoste van die Mielieraad. Dit het die koste van op-
berging, hantering en beroking, sowel as die Mielieraad se administratiewe uitgawes
en rentekoste ingesluit. Enige alternatief sou moes poog om hierdie probleem ook
aan te spreek en ’n strukturele verlaging in dié kostes te bewerkstellig.
Die Brandkomitee, wie se verslag op 14 November 1988 aan die Minister Wentzel
(Landbou), oorhandig is, het uiteindelik aanbeveel dat ’n eenkanaalbemarkingstelsel
vir mielies behou word, omdat dit na die komitee se mening die beste sou voldoen
aan die kriteria wat vir ’n mieliebemarkingstelsel in Suid-Afrika gestel is. Die komitee
het ook aanbeveel dat die bestuur en bedryf van so ’n bemarkingstelsel met verloop