SA Grain October 2013 - page 77

75
October 2013
Fokus op lewende hawe
Die
ABC
van
Trichomoniase
DR JACOBA VAESSLER, TEGNIESE BESTUURDER, ZOETIS
Tritrichomonas foetus
is sekerlik een van die mees gevreesde siektes in
‘n beesteelkudde. Swak konsepsie en aborsies kom tans wyd verspreid
in Suid-Afrika voor en is op die lippe van die meeste produsente. As jy
dalk dink Trichomoniase is net in ekstensiewe kuddes, maak jy ‘n groot
fout: Stoeterye is nie uitgesluit nie; selfs melkerye staan ‘n kans op
besmetting.
Wat is Trichomoniase?
Tritrichomonas foetus
is ‘n geslagsoordraagbare siekte waarvan
die protosoa hulself tuismaak in die skede van ‘n bul. Hier verkry die
protosoa beskutting in die voue van die skede en vermeerder deur
middel van binêre fusie.
Die protosoa bestaan uit ‘n ovaalvormige liggaam met drie flagella
(sweephare) sowel as ‘n aksosteel wat sigbaar is. Die flagella voorsien
beweeglikheid en sodoende word besmetting na die baarmoeder met
dekking verseker.
Hoe vind besmetting plaas?
Sodra ‘n besmette bul ‘n koei dek, word die protosoa oorgedra na die
koei. Die omgekeerde kan ook plaasvind– indien ‘n onbesmette bul ‘n
draer of besmette koei dek, sal hy besmet word.
In die koei beweeg die organisme ná dekking tot in die baarmoeder
waar dit vestig en vermeerder. Bevrugting kan steeds plaasvind asook
aanhegting van die fetus aan die baarmoederwand, maar as gevolg van
vermeerdering van die protosoa en die ongunstige omstandighede wat
geskep word, vind vroeë aborsie van die fetus plaas.
Die mees algemene teken wat waargeneem word, is koeie wat terugkom
op hitte ná bevestiging van dragtigheid. Die rede hiervoor is dat aborsies
plaasvind op ‘n vroeë stadium van dragtigheid; in die meeste gevalle in
die eerste drie maande van dragtigheid, maar daar was selfs al gevalle
van ná vyf maande van dragtigheid.
Kan diere genees word?
Sommige besmette koeie kan ná ongeveer drie hittesiklusse hulself
genees. In hierdie tydperk kan ‘n koei egter ‘n onbesmette bul met
trichomoniase besmet indien hy haar dek.
Daar is wel ook ‘n klein persentasie van koeie wat draers word en dié
word gekenmerk deur ‘n baarmoeder vol etterige vloeistof ook bekend
as ‘n piometra. Onthou net daar is verskeie redes vir ‘n piometra in koeie,
trichomoniase is net een moontlikheid.
Bulle is ‘n ander storie; en hier sal ‘n veearts genader moet word sodat
hy die dier intensief kan behandel. Jonger bulle kan wel genees word,
maar studies toon dat hoe ouer bulle is, hoe moeiliker is dit dat hulle
positief op die behandeling sal reageer.
Kan ek voorkomend teen Trichomoniase
immuniseer?
Daar is wel ‘n
Trichomonas
entstof beskikbaar en koeie moet aanvanklik
agt weke voor die dekseisoen geënt word, met ‘n skraagdosis vier
weke daarna. Daarna moet koeie jaarliks ongeveer vier weke voor die
dekseisoen geënt word.
Hoe toets ek of my kudde positief is?
Jou naaste kuddeveearts kan verskeie metodes volg, soos byvoorbeeld
om skedeskrapings te neem en te laat kweek vir verdere ondersoeke by
‘n gesertifiseerde laboratorium.
Bulle moet gewoonlik vier tot ses weke voor paring getoets word. Dit is
ook dan wys om weer ses weke ná paring te laat toets, dit sal ‘n goeie
indikasie kan gee of die kudde besmet is of nie.
Koeie kan ook getoets word indien nodig, maar as ‘n koei dragtig is, is
die kans dat sy positief is vir Trichomoniase, taamlik skraal.
Vir meer inligting, skakel gerus jou kuddeveearts of Zoetis
verteenwoordiger.
1...,67,68,69,70,71,72,73,74,75,76 78,79,80,81,82,83,84,85,86,87,...116
Powered by FlippingBook