SA Grain October 2013 - page 67

65
October 2013
Fokus op lewende hawe
Wat om alles te oorweeg by die
oorskakeling van saai na vee
IZAK DU PLESSIS, VEEKUNDIGE, SENWES
Is oorskakeling van saai na vee die antwoord? Hierdie is nie ‘n maklike
vraag om te antwoord nie, siende dat die besluit nie ligtelik geneem kan
word nie.
Die twee boerderybedrywighede lê wêrelde uit mekaar. Dit verg
verskillende insette en bestuursvaardighede. Dit is onderhewig aan
verskillende markkragte en lewer verskillende opbrengste.
Alhoewel veeboerdery allerweë as minder riskant as saaiboerdery
beskou word, is dit nie uitgesluit van risiko nie, soos vanjaar duidelik
bewys is. In groot dele van die sentrale streke van die land is ‘n droë
seisoen ervaar. Dit het vleisprodusente gedwing om hul veekuddes te
verklein, wat veepryse onder druk hou.
Wanneer ‘n ingrypende verandering in die boerderystelsel, soos die
oorskakeling van saaiboerdery na veeboerdery oorweeg word, moet ‘n
paar belangrike dinge in gedagte gehou word:
Bestuurstyl
Is jy werklik bereid om elke dag aandag aan jou vee te gee? Vee vra
nie soos saaiboerdery net op sekere piektye bestuursinsette nie, maar
elke dag. Veeboerdery het nie verskansingsopsies nie. Jy is heeltyd
uitgelewer aan die markkragte. Die enigste besluit wat in die produsent
se hande is, is die besluit van wanneer om te verkoop of nie. Meestal
neem die beskikbaarheid al dan nie van voer die keuse ook uit die besluit.
Verandering in leefstyl
Indien 500 ha mielies geplant word, kan ‘n marge van ongeveer
R1 084 500 gerealiseer word. Indien dieselfde oppervlakte na weiding
omgeskakel word en korrek bemes word, kan ongeveer 250 koeie op die
oppervlakte onderhou word en kan ‘n marge van R481 643 gerealiseer
word. Hierdie situasie sal noodwendig drastiese aanpassings in
leefstyluitgawes tot gevolg hê.
Skuld
Uit bogenoemde syfers is dit duidelik dat die inkomste wat met vee
gegenereer kan word, nie voldoende sal wees om saaiboerdery se skuld
te kan delg nie. Sorg dus dat die boerdery se saaiskuld eers uit ander
bronne gedek word alvorens na ‘n veeboerdery oorgeskakel word. Voorts
moet in gedagte gehou word dat saai- en veeboerderye verskillende
skuldlaste kan diens. Alhoewel saaiboerdery tot 40% skuld kan hanteer,
kan veeboerdery nie meer as 15% skuld hanteer nie.
Kontantvloei
Meeste veeboerderye se hoofinkomste word uit een of twee bemarkings-
aksies verkry en tesame met die kleiner inkomstestroom, is dit duidelik
dat kontantvloeibestuur ‘n redelike groot prioriteit in ‘n veeboerdery
moet geniet.
Indien vrede gemaak kan word met hierdie groot aspekte rakende
veeboerdery, is die kanse groot dat die veeboerdery suksesvol bedryf
kan word. Daar is egter nog ‘n aantal kleiner, maar nie minder belangrike
aspekte nie, wat ook aan aandag gegee moet word. Hierdie aspekte
handel grotendeels oor die beplanning en bestuur van die veeboerdery.
Indien die basiese dinge reg gedoen word, raak die bestuur van die vee
baie makliker.
Proses
‘n Omwentelende verandering van die boerderystelsel kan nie oornag
gebeur nie. Dit is ‘n proses wat noukeurig beplan en uitgevoer moet
word. Weidings moet eers gevestig en vee aangekoop word. Verder gaan
inkomste uit die veeboerdery eers ongeveer ‘n jaar ná die aankoop van
die vee realiseer, afhangende van die produksiestatus van die diere wat
ingekoop word.
Dit is dus duidelik dat omdraai nie ligtelik gedoen kan word nie. Daar is
vir ‘n saaiprodusent geen lekkerder reuk as wanneer ‘n ploeg vars, nat
grond omkeer nie, maar onthou baie tyd en geld word in die omskakeling
van saaiboerdery na veeboerdery bestee. Dit gaan altyd weer geld kos
om die veeboerdery te verklein of toe te maak, sou daar later weer van
plan verander word.
Hulpbronontleding
Selfs met vee begin alles by die primêre hulpbron, naamlik die grond.
Deur die grond te karteer word riglyne vir die onttrekking en omskakeling
van lande geskep.
Vervolg op bladsy 66
SA Graan/Sasol Nitro
fotokompetisie
1...,57,58,59,60,61,62,63,64,65,66 68,69,70,71,72,73,74,75,76,77,...116
Powered by FlippingBook