SA Grain October 2013 - page 30

Bewaringsboerdery
Insette/Produksie
Oktober 2013
28
Sonneblom in bewaringsboerdery
ANDRÉ NEL, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE, POTCHEFSTROOM
Bewaringsboerdery wat uit geenbewerking (of minimum grondver-
steuring), ‘n deklaag van plant- en oesreste op die grond en wisselbou
tussen gewasse bestaan, is besig om in die somerreënvalstreek toe
te neem.
Die omsit na bewaringsboerdery vereis ‘n dramatiese kopskuif, maar
produsente sal beslis daarby baat, gesien dat dit waarskynlik die enigste
wyse is waarop graan volhoubaar geproduseer kan word.
Sonneblom maak reeds deel van suksesvolle bewaringsboerderystelsels
uit, maar die vraag of dit werklik goed vaar in bewaringsboerderystelsels,
is nog onbeantwoord. Die kritieke vrae is dus kortom of sonneblom
suksesvol onder geenbewerking en ‘n deklaag verbou kan word, watter
aanpassings nodig is, watter voordele dit inhou en watter risiko’s kan
toeneem?
Plaaslik is nog geen navorsing in dié verband gedoen nie en gevolglik kan
hierdie vrae nie beantwoord word nie. Gelukkig is daar in die buiteland al
na geenbewerking en die invloed wat dit op sonneblom het, gekyk, maar
soos verwag kan word, is die bevindings nie eenvormig nie.
In bewaringsboerdery is die onmiddellike omgewing waarin die plant
groei anders as in konvensioneelbewerkte grond. Die grond se digtheid
en temperatuur verander gewoonlik. Verder is gewasreste op die opper-
vlak teenwoordig. Dié veranderings skep moontlik nuwe risiko’s en ander
kan dalk weer verdwyn.
Opkoms
In konvensioneelbewerkte grond is die stand van sonneblom dikwels
nie na wense nie weens swak opkoms. Hitte en korsvorming aan die
grondoppervlak is dikwels die oorsaak hiervan. Waarneming dui daarop
dat sonneblom ook nie so maklik opkom as die grond te los is nie.
In bewaringsboerdery is die grond relatief kompak, maar oppervlakte-
korse vorm nie so maklik nie, mits die grond voldoende met reste bedek
is. Teoreties behoort die grond ook effens koeler te wees, wat selfs meer
tot die voordeel van sonneblom in ons warm sandgrond kan strek.
Opbrengs
Die meeste navorsingsresultate wys dat geenbewerkings nie die groei
en opbrengs van sonneblom nadelig raak nie. In enkele gevalle het
die opbrengs selfs toegeneem en ‘n verdere studie het getoon dat die
geenbewerkingsopbrengs die bewerkte opbrengs gedurende droë jare
oortref, maar dat die teenoorgestelde plaasvind in nat jare.
Oorsee word meeste sonneblom in grond verbou waarvan die tekstuur
relatief swaar is. Plaaslik word die meeste sonneblom op die ligte
tekstuurgrond van die Vrystaat en die Noordwes Provinsie verbou. Die
opbrengsreaksie op sandgrond onder geenbewerking is nog onbekend.
Dit is egter die hoër opbrengs tydens droogte wat in een studie
gerapporteer is, wat belangrik is. Droogte tydens ‘n seisoen is byna die
reël eerder as die uitsondering in ons klimaat. Indien bewaringsboerdery
die impak van droogte kan verlig, is dit ‘n uiters belangrike voordeel
waarvan kennis geneem moet word.
Tydens die afgelope droogte van Februarie en Maart 2012/2013, was
die opbrengs van mielies in ‘n bewaringsboerderyproef 2,2 keer dié van
konvensionele mielies. Hopelik is dit ook die geval met sonneblom.
Onkruidbeheer
Bewaringsboerdery vereis dat die grond so min as moontlik versteur
word en gevolglik kan meganiese onkruidbeheer nie toegepas word
nie en chemiese beheer is die enigste alternatief. Gelukkig is daar
tans onkruiddoders beskikbaar wat na-opkoms gebruik kan word.
Clearfield kultivars, waarvan die meegaande onkruiddoder ‘n betreklik
wye spektrum onkruid beheer, kan veral ‘n belangrike rol speel waar
sonneblom deel van die bewaringsboerderystelsel uitmaak.
Siektes
Bewaringsboerdery gaan waarskynlik sekere siektes bevoordeel, terwyl
die omgewing vir ander ongunstig kan word. ‘n Verskuiwing in die
spektrum van siektes gaan moontlik voorkom. Dit is veral dié wat op
plantreste oorleef wat ‘n gevaar inhou. Houtskoolvrot (
Macrophomina
phaseolina
) is ‘n siekte wat verskeie gasheergewasse het en wat op
reste oorleef en dus fyn dopgehou sal moet word.
Sonneblom word reeds suksesvol in bewaringsboerderystelsels verbou, maar aanpassings in praktyke gaan waarskynlik nodig wees.
1...,20,21,22,23,24,25,26,27,28,29 31,32,33,34,35,36,37,38,39,40,...116
Powered by FlippingBook