Fokus op vroue
Aktueel
Februarie 2014
10
Tydskrif trots op die Nasionale
Jeug Vroue Entrepreneur
ESTIE DE VILLIERS, ASSISTENT-REDAKTEUR: SA GRAAN/GRAIN
In Augustus verlede jaar het
SA Graan/Grain
as deel van Vrouemaand
met verskeie vroue in landbou gesels – onder andere met Preline Swart
(32) van Elim in die Suid-Kaap. Dié ontwikkelende graanprodusent
het boonop verlede jaar die Ministerie se Spesiale Toekenning vir die
Nasionale Jeug Vroue Entrepreneur ontvang.
Vertel ons ‘n bietjie meer van jouself?
Ek boer op Elim in die Suid-Kaap saam met my man, Ralph, en ons twee
seuns, Leaan en Jacques. Ons twee kleiner kinders, Charmile (11) en
Hope (5), boer net so kliphard saam en kan jou alles vertel van boerdery.
Ons staan bekend as Swart Boerdery. Hierdie boerdery bestaan al 33 jaar.
Ek is die enigste dogter van Charmaine Daniels en Pieter Hans. My moeder
het my as enkelouer grootgemaak en ek hoop dat ek met al hierdie dinge
haar moederhart opreg trots gemaak het.
Waarmee boer julle?
Ons is saaiprodusente (koring, hawer, gars en korog), het ook skape,
beeste en volstruise, en plant rooibostee.
Ek is vyf jaar gelede met my “boer” getroud. Ek het geen agtergrond van
boerdery gehad nie en het die eerste jaar net so geloer na alles en het
by tye gedink “Waarin het ek my begewe?” Maar dan het ek maar self
ingespring en so doen ek vandag alles saam met hulle. Dit is elke dag
‘n uitdaging, maar Ralph en die seuns is goeie leermeesters. Ons het ‘n
passie vir wat ons doen en is van donker tot donker besig op die plaas.
Dit is ‘n groot eer vir my om te weet ek maak deel uit van een van die
belangrikste skakels in die wêreld!
Ek hanteer ook die bemarking van ons boerdery en moet daagliks kyk na
die graan- en veepryse asook kyk wat maak die markte in die buiteland.
Ek help ook met die bepanning van pligte op die plaas en die uitvoer
daarvan. Verder moet ek sorg dat alle administrasie op datum bly.
Wat is van die grootste uitdagings wat
julle in die gesig staar?
Ons grootste uitdaging op hierdie stadium is om ons eie plaas te bekom.
Ons huur al die afgelope 33 jaar grond by die Moraviese Kerk op Elim.
Ons huur tans 1 280 hektaar en het ook ons eie grond van 89 hektaar te
Spanjaarskloof (‘n buurplasie van Elim).
Weens die hoë pryse van grond in ons area, is dit baie moeilik om ons eie
grond te koop. Die gaping tussen die markwaarde en produksiewaarde
van landbougrond in ons gebied is baie groot. Ons wil ook graag
oorskakel na geenbewerkingsboerdery.
Ander uitdagings wat ons in die gesig staar, is die konstante toename in
insetkoste – ons moet gedurig opbrengs jaag om sodoende winsgewend
te kan bly produseer. Die jaarlikse stygings wat hoër as inflasie is,
verminder my as graanprodusent se winsgewendheid.
Jy is baie betrokke by die gemeenskap.
Waarop spits jy jou toe?
Ek is lid van Graan SA en die United South African Agricultural
Association Champions for Sustainable Agriculture (USAAA) en woon
gereeld hulle vergaderings en opleidingsessies by. Ek is voorsitter van
die plaaslike kleuterskool, Dennepitjies, en maak ook deel uit van die
beheerliggaam van die plaaslike laerskool op Elim.
Jy is verlede jaar vir verskeie toekennings
benoem en het ook die Ministerie se
Spesiale Toekenning vir die Nasionale
Jeug Vroue Entrepreneur gewen.
Ja, ek is benoem vir die 2013 Vroue Entrepreneur van die Jaar-toekenning.
Dit is ‘n kompetisie wat jaarliks in al nege provinsies van die land gehou
word. Ek was verskriklik opgewonde. Die seremonie van die Wes-Kaap
het op 8 Augustus in die Paarl plaasgevind. Ek was super-opgewonde
toe hul my naam uitroep – ek het die toekenning ontvang vir naaswenner
Top Vroue Entrepreneur Kommersieel vir die Wes-Kaap. Mnr Gerrit van
Rensburg (Wes-Kaapse Minister van Landbou en Landelike Ontwikkeling)
het die toekenning en prysgeld oorhandig.
Ek het ook ‘n nasionale toekenning ontvang: Die Ministerie se Spesiale
Toekenning vir die Nasionale Jeug Vroue Entrepreneur. Ongelukkig het
niemand van die departement nadat hulle my benoem het, my in kennis
gestel dat ek hierdie spesiale geleentheid moet bywoon nie, so het ek
daardie groot gebeurtenis misgeloop.
Die toekenningsaand is op 23 Augustus gehou. Ek het op 25 Augustus
‘n oproep ontvang en was stomgeslaan (en afgehaal) dat ek dit nie
kon ervaar nie. Ek was wel bevoorreg om deur minister Tina Joemat-
Pettersson uitgenooi te word na die TNA/SABC 2 Breakfast Briefing, ‘n
lewendige uitsending wat op 17 September in Johannesburg plaasgevind
het; ek was ook deel van die paneel. Die minister het daar my toekenning
oorhandig.
Dit was vir my ‘n verskriklike groot eer en ‘n ervaring wat ek vir lank sal
onthou. Ek is ook opreg dankbaar en voel werklik geëerd en nederig oor
hierdie groot gebeurtenisse in my lewe. Ek glo en vertrou van harte dat
hierdie toekennings vir my en my gesin baie deure sal oopmaak.
Ek besef ook in hierdie tyd dat alles te danke is aan my Hemelse Vader
en dat Hy dit wat ek insit gesien het en my beloon het. My werk begin
nou eers. Ek wil uitreik na kinders en jongmense en hulle aanmoedig om
groentetuine te begin en om net nog meer te leer en na ander uit te reik.
In Oktober het ek saam met die premier, Helen Zille, en die kabinet, ‘n
middagete bygewoon.
Gerrit van Rensburg (Wes-Kaapse Minister van
Landbou en Landelike Ontwikkeling), Preline Swart
en Bongiswa Matoti (direkteur van Landbou Ekono-
miese Dienste), tydens die funksie waar Preline as
naaswenner Top Vroue Entrepreneur Kommersieel
vir die Wes-Kaap aangewys is.
Die artikel oor Preline Swart wat verlede jaar
in die Augustus-uitgawe van
SA Graan/Grain
verskyn het.