SA Grain February 2014 - page 3

1
February 2014
Voorpunt
Sjoe, ‘n mens sukkel om mooi in die saal van hierdie nuwe jaar te bly.
Vir my voel dit al of dié perd onder my wil uitjaag – of dat ek soos
Liewe Heksie skoon agterstevoor op die donkie beland het!
Tussen skryf, proeflees en sperdatums deur; sorg dat die huishouding
klopdisselboom verloop en dat daar darem brood en melk vir môre-
oggend se ontbyt is; ‘n nuwe graad 1-mamma wees wat nou al sukkel dat
Sussa haar huiswerk moet doen; die kinders smiddags rondry vir buite-
muurs (hoe gaan dit gaan as hulle op hoërskool is?); gou ‘n vriendin sms
en Manlief se hare voor werk sny, voel dit of my kop behoorlik draai. En
dan is dit ook nog die vrou se plig om ‘n vriendelike, aangename, hartlike,
nooit-kwaadword-atmosfeer in die huis te bepaal.
Ek vermoed dat ons vrouelesers dadelik sal identifiseer met ‘n ma-van-
die-huis wat somtyds – selfs so vroeg in die jaar – stomp, afgeplat en
onkreatief voel. Al geniet jy as vrou dit om in en om die huis en tuin te
vroetel en mooi te maak, bring die spanning van dinge soos die weer-
voorspelling en die jongste dieselprys jou gevaarlik naby aan tou opgooi.
Dankie tog vir krag van Bo en die kans om ‘n vinnige traan in die spens of
om die hoek in die tuin af te vee...Staan vas, staan op, gaan aan.
Dit was vir my só lekker om die maand David Viljoen (van ons tuinmaakru-
briek) se artikel te lees. Om te sien hoe kreatief ‘n mens met min (en ou
weggooigoed) kan wees. Dit het my laat dink aan ‘n vrou van Bothaville
waarby ek en my ma Desember gaan koffie drink het. Mens, praat van
entoesiasme en kreatiwiteit! As jy daar wegry, is jy morsdoodmoeg – jou
brein is oorlaai. Dit is net te veel om in te neem.
Sy het net ‘n oog om die potensiaal in enige iets raak te sien: ‘n Verrinne-
weerde werksbank uit iemand se stoor word ‘n koffietafel; ‘n melkkan
vanmelewe se dae kry ‘n geroeste plan-
tersitplek op en word ‘n stoel; ‘n outydse
Cobra blik word ‘n unieke lampskerm;
‘n stukkende sink watertenk word in ‘n
stort omskep...Hoe kan een persoon
so kreatief, vol entoesiasme en energie
wees?
Net soos David. Dit is aansteeklik. Ek het sommer dadelik in die motorhuis
gaan rondkrap; ‘n mankoliekige stoel rooi geverf en Ouma se ystergieter
met die gat in ‘n ereplek in die voortuin gegee. Soms het jy net so iemand
in jou lewe nodig – net om jou te help om weer met nuwe oë na die ou
bekende goed (en mense) om jou te kyk om die potensiaal raak te sien.
Moet egter nie nalaat om met nuwe oë na jouself te kyk nie.
Ek hoop die Februarieboek laat jou ook met nuwe oë na jou boerdery
(en jou mense) kyk. Ons het vir dié uitgawe met Kallie Schoeman van
Schoeman Boerdery gaan gesels oor goeie arbeidspraktyke en -verhou-
dinge en vertel op bladsy 18 hoe hy sy personeel hanteer. Op bladsye 40
beveel Annemie Erasmus (LNR-Instituut vir Graangewasse) produsente
aan om eerder op geïntegreerde plaagbeheer te fokus en in die Hoof-
artikel (bladsy 4) verduidelik Jannie de Villiers (uitvoerende hoofbestuur-
der: Graan SA) hoekom hy sê: “Dit is nie meer
business as usual
nie”.
Lekker lees tot volgende maand.
Estie de Villiers –
Assistent-redakteur
Ontmoet ons
medewerkers...
Dr Sonia Steenkamp is in Pretoria gebore en het in
Randfontein grootgeword. Ná skool gaan studeer
sy aan die Pukke BSc., BScHons (Dierkunde), MSc
(Nematologie) en PhD (Nematologie) onder leiding
van prof Alex McDonald (Noordwes-Universiteit) en
prof Dirk de Waele (Universiteit van Leuven, België).
In 1994 begin sy werk as tegnikus by die LNR-
IGG. In 2001 word sy as navorser en in 2009 as
senior navorser aangestel. Sonia kyk hoofsaaklik
na alternatiewe beheermaatreëls vir aalwurms sou
aalwurmdoders van die mark gehaal word. Sy doen
veral navorsing oor aalwurmweerstand in verskeie
gewasse wat dan in teelprogramme gebruik kan
word.
Sonia is dol oor lees. “Ek het omtrent ‘n klein
bibliotekie by my huis”. Verder swem sy en ry graag
fiets en het al twee keer die Midmar Myl en die Argus
voltooi.
Dit is die taak van
die Nasionale Oes-
skattingskomitee (NOK)
om soveel as moontlik
data in te samel om
sodoende akkurate en
tydige oesskattings
daar te stel, aangesien
dit ‘n direkte impak op
prysvorming in die vrye
mark het. Op bladsy 8 kyk
Petru Fourie (Graan SA)
hoe akkuraat die skattings
van NOK die afgelope
seisoen was.
Bloednier is een van
die vernaamste siektes
onder skape in Suid-
Afrika en word aangetref
by jong skape van twee
ouderdomsgroepe:
Tussen die ouderdomme
van drie weke tot drie
maande asook tussen
ses tot twaalf maande;
maar skape van enige
ouderdom kan aangetas
word. Dr Jan du Preez
(Instituut Vir Suiwelteg-
nologie) verduidelik op
bladsy 25 die ontstaans-
wyse, siektetekens,
nadoodse tekens, diag-
nose en voorkoming en
beheer van bloednier.
In ons “Ken jou
onkruiddoder”-reeks
bespreek dr Charlie
Reinhardt (Universiteit
van Pretoria) onkruid-
doder-selektiwiteit. Dit
verwys na die vermoë
van onkruiddoders om
tussen plantsoorte te
onderskei wat betref
skadelike uitwerking.
‘n Onkruiddoder wat
selektief is, beheer of
beskadig sekere soorte
plante en ander weer
nie. Meer hieroor op
bladsy 34.
Herwinning is die
nuutste tendens regoor
die wêreld en veral
oudhede en items met
karakter, is baie gesog.
Op bladsy 60 vertel
David Viljoen van ons
tuinmaakrubriek, hoe
jy met kreatiewe oë na
jou weggooigoed moet
kyk en alternatiewe
gebruike daarvoor moet
soek. Dikwels lê daar
soveel potensiaal ver-
steek in oudhede wat
weer opnuut gebruik
kan word deur nuwe
lewe daaraan te gee.
Medewerkers vir hierdie uitgawe
André Agenbag, Pietman Botha, Cathy de Villiers, Jannie de Villiers, Jan du Preez, Annemie Erasmus,
Bradley Flett, Deidre Fourie, Petru Fourie, Koos Kirsten, Adam Mostert, Hangwani Muedi, EP Nel,
Nadia Nichols, Moses Ramusi, Charlie Reinhardt, Ruth Schultz, Wandile Sihlobo, Gerrie Smit,
Hendrik Smith, Johann Strauss, Dirk Strydom, Sonia Steenkamp, Funzani Sundani, Vicki Tolmay,
Coretha Usher, Hans van der Berg, Nico Vermaak en David Viljoen
1,2 4,5,6,7,8,9,10,11,12,13,...68
Powered by FlippingBook