Previous Page  42 / 75 Next Page
Information
Show Menu
Previous Page 42 / 75 Next Page
Page Background

DIE

GRAAN- EN OLIESADEBEDRYF

VAN SUID-AFRIKA – ‘N REIS DEUR TYD

ႆႄ

Kritici van die Koringraad was van mening dat die praktyke en besluite van dié

Raad uiteindelik daartoe gelei het dat ’n aantal groot firmas ’n monopolie in die

bedryf gevestig het. Die Koringraad het, onder andere, besluit om sekere beper-

kende praktyke toe te pas, soos om kleiner meulens te sluit en die maalbedryf

rondom die groter stedelike sentra te konsentreer. Hierdie praktyke is ook na die

bakkersbedryf uitgebrei, waar die Koringraad se voorkeur was om slegs ’n paar

groter bakkerye te vestig in plaas van ’n groter aantal kleineres.

Deregulering

In 1995 is kwantitatiewe beheer afgeskaf en met tariefbeheer vervang. Daarna was

kopers geregtig om koring vryelik in te voer teen betaling van die heffing en was

die Koringraad nie meer die enigste verkoper van koring in Suid-Afrika nie.

Hoewel die produsenteprys van koring tot 1996 steeds deur die Koringraad vas-

gestel is, kon enigiemand vanaf 1995 koring maal, brood bak en self die prys van

hulle brood bepaal. Die enigste vorm van staatsbetrokkenheid by die broodprys

was die heffing van BTW op witbrood, terwyl bruinbrood van BTW vrygestel was.

Op 1 Januarie 1997 het die Wet op Bemarking van Landbouprodukte van 1996 in

werking getree, wat die einde van beheerde bemarking vir koring en ander graan-

produkte beteken het. Koringprodusente moes eensklaps in die internasionale

mark meeding, met minder staatsondersteuning as in feitlik elke ander industriële

landbouland in die wêreld. Dit het groot onsekerheid in die koringbedryf veroor-

saak en sommige leiersfigure het selfs gemeen dat dit die einde van die plaaslike

koringbedryf kon beteken.

Soos in die geval van mielies is plaaslike koringpryse sedert die afskaffing van

prysbeheer op Safex bepaal.

Rantsoenering

Na die uitbreek van die tweede wêreldoorlog het die regering begin om die ver-

bruik van brood te rantsoeneer ten einde moontlike tekorte te voorkom en op

5 Mei 1941 is die produksie van witbrood in geheel gestaak. Witbrood is vervang

met wat as ’n oorlogsbrood bekend gestaan het. Die meel waarvan dit gebak is, is

teen ’n baie hoë ekstraksiekoers (minstens 90%) vervaardig, wat beteken het dat

meer brode van ’n gegewe hoeveelheid koring gebak kon word. Dit was growwer

en donkerder as die tradisionele bruin- en volgraanbrood en was vir die volgende

sewe jaar die enigste brood wat in Suid-Afrika beskikbaar was.

Baie Suid-Afrikaners was uiters ontevrede met hierdie toedrag van sake, veral dié

wat teen Suid-Afrika se betrokkenheid by die Tweede Wêreldoorlog gekant was.

Om sake te vererger, het die Suid-Afrikaanse regering na die beëindiging van die

oorlog op aanbeveling van die Britse Ministerie van Voedsel verdere beperkings op

die verbruik van brood en ander koringprodukte ingestel as gevolg van geweldige

tekorte aan koring, soos ander graansoorte, wêreldwyd.

Die produksie van meel wat vir die bak van beskuitjies en koek gebruik is, is totaal

verbied, selfs in privaat huishoudings. Hotelle is verbied om roosterbrood te be-

dien en die daaglikse individuele aankoop van brood en koringmeel is beperk tot

agt onse (0,226 kg) brood en ses onse (0,170 kg) koringmeel per individu per dag.

Verbruikers is in die pers, per radio en in films aangemoedig om die verbruik van

brood te verminder en teen die einde van 1946 is die verkoop van brood op Woens-

dae en tussen 15:00 en 16:00 op ander dae verbied. Koringverbruik het gevolglik

in hierdie tydperk laag gebly en eers weer begin toeneem nadat die Nasionale

Party in 1948 aan bewind gekom het. Die geskiedenis leer dat die Nasionale Party

se voorverkiesingsbelofte dat hulle sou toesien dat brood, veral witbrood, teen

bekostigbare pryse beskikbaar sou wees, ’n redelike belangrike rol in die party se

oorwinning in die 1948-verkiesing gespeel het.

Sedert die 1920’s is verskeie ondersoeke na wanvoeding in Suid-Afrika geloods en

teen 1948 het redelike groot kommer daaroor bestaan, veral onder arm witmense

sowel as die al groter wordende getalle stedelike swartmense. Benewens die hu-

manitêre aspek daarvan, is geglo dat dit tot siektetoestande, soos tuberkulose,

bygedra het.

DIE OORLOGSBRODE

IS TEEN SES PENNIES

VERKOOP EN VOLGENS

DIE KORINGRAAD SE

STATISTIEK IS GEMIDDELD

SOWAT 300 MILJOEN

BRODE/JAAR GEDURENDE

DIE SEWE JAAR VANAF

1941 TOT 1948 VERKOOP.