ႆႃ
HOOFSTUK 1
uiteindelik gelei tot die instelling van die Koringraad en die beheermeganismes vir
die koringbedryf wat in Hoofstuk 2 hiervan beskryf word.
Regulering
Die wette wat die regering in 1930 en 1931 aangeneem het om die invoer van
koring en koringmeel te beperk, het bygedra om plaaslike koringverbouing aan te
moedig. Koringproduksie het van 1920 tot die eerste gedeelte van die 1930’s meer
as verdubbel, vanaf 200 000 ton tot 373 996 ton in 1931/1932 en 446 580 ton in
1934/1935.
Aan die begin van die 1930’s is die mening redelik algemeen gehuldig dat die ko-
ring-tot-brood-ketting as gevolg van swak koördinasie en skadelike mededinging
oneffektief en verkwistend was en dat die onstabiele pryse die gevolg was van
spekulasie deur handelaars in die ongereguleerde markomgewing. Die siening was
dat die Koringraad die probleem kon oplos deur die ketting te rasionaliseer en ef-
fektiewe prysbeheer toe te pas. Ook het die benarde en feitlik haglike finansiële po-
sisie waarin ’n groot deel van die land se bevolking hulle op daardie tydstip bevind
het en die gepaardgaande oorkoepelende besorgdheid oor die nasionale welvaart,
’n betekenisvolle rol gespeel in die sentiment ten gunste van staatsbeheer.
Alhoewel die beheer oor die invoer van koring en hoë beskermende invoertariewe
instrumenteel was in handhawing van die plaaslike koringprys op ’n redelike vlak,
was die pryse aan die begin van elke leweringseisoen onder geweldige afwaartse
druk as gevolg van die ooraanbod op die mark. Koöperasies het gepoog om die
aanbod aan die mark te reguleer en surplusvoorrade na volgende bemarkingsjare
oor te dra. Die koste en risiko daaraan verbonde is egter slegs deur die produsente
wat lede van die koöperasies was, gedra en nie deur al die koringprodusente nie.
Dit was dus nie volhoubaar nie.
Die Raad van Beheer oor die Koringnywerheid (die Koringraad) wat in 1935 in die
lewe geroep is, was bemagtig om opbergingvergoeding te betaal aan koöperasies
en produsente wat koring opgeberg het. Op hierdie wyse was dit vir die Koringraad
moontlik om die vloei van koring na die mark te beheer.
Gedurende die eerste twee jaar van sy bestaan is die Koringraad met surplusproduk-
sie en gevolglike plaaslike oorskotte gekonfronteer, wat die prys van koring nog ver-
der afwaarts gedruk het. Die Koringraad kon egter deur die aanwending van die
inkomste uit die heffing op koring wat in die binneland gemaal is en met bystand van
die regering daarin slaag om ’n totale ineenstorting van die koringprys te verhoed.
Die koringbedryf was onder die beheer van die Koringraad aan streng kontroles
onderworpe. Koring is in ’n eenkanaalstelsel bemark en produsente het ’n vas-
gestelde prys vir hulle koring ontvang, terwyl meulenaars ook ’n vasgestelde hef-
fing betaal het en aan streng toesig van die Koringraad oor die gehalte en prys van
brood onderworpe was. Die Koringraad het die beskerming van sowel die produ-
sente as die meulenaars, bakkers en verbruikers as sy oorkoepelende taak gesien.
Die Koringraad het die pryse van koring, meel en brood vir die eerste keer in 1939
ingevolge die Koringreëlingskema vasgestel, waarna daardie produkte slegs teen
die afgekondigde pryse verkoop kon word. Ten einde die prys van brood op die
vooroorlogse vlakke te kon handhaaf, is ’n subsidie op A-graad koring aan produ-
sente betaal om hulle te vergoed vir verhoogde produksiekoste na die uitbreek van
die Tweede Wêreldoorlog. Die regering het ook gedurende die 1940/1941-seisoen
’n subsidie aan die koringprodusente betaal, waarvan 50% deur die Koringraad
bygedra is. Die amptelike rasionaal vir dié subsidie was om plaaslike landbou te
ondersteun, 'n laekoste stapelvoedsel te verseker en inflasionêre druk te verlig.
Benewens die produksie van brood, het ander subtiele veranderings terugwaarts
in die koring-tot-broodketting begin intree namate die toepassing van die Bemar-
kingswet in die 1940’s momentum begin kry het. Die Koringraad het aan die begin
van elke seisoen ’n gewaarborgde prys vir koring aangekondig, gebaseer op ’n
koste-plusbasis. Dit het die prysrisiko vir produsente uitgeskakel en hulle slegs
met die produksierisiko gelaat. Boonop het hulle nie nodig gehad om hulle te be-
kommer oor die bemarking van die oes nie, omdat hulle dit eenvoudig by die Ko-
ringraad se agente (hoofsaaklik koöperasies) ingelewer het en teen die heersende
produsenteprys daarvoor betaal is.
DIE BETALING VAN
SUBSIDIES AAN
KORINGPRODUSENTE HET
TOT AAN DIE EINDE VAN
DIE 1956/1957-SEISOEN
VOORTGEDUUR. VANAF
DIE VOLGENDE SEISOEN
IS SUBSIDIES SLEGS OP
BROODMEEL BETAAL
EN VANAF MEI 1977
HET DIE REGERING
SLEGS SUBSIDIES AAN
BAKKERS BETAAL OP
MEEL WAT VIR DIE BAK
VAN STANDAARDBROOD
GEBRUIK IS, TEN EINDE DIE
PRYS WAT VERBRUIKERS
VIR DIÉ BROOD BETAAL HET,
SO LAAG AS MOONTLIK
TE HOU.