DIE
GRAAN- EN OLIESADEBEDRYF
VAN SUID-AFRIKA – ‘N REIS DEUR TYD
ႅႈ
Tydens die massavergadering van graanprodusente wat gedurende 2005 op die
krieketstadion te Centurion gehou is, is die moontlikheid om ’n biobrandstofaan-
leg te Bothaville in die Vrystaat op te rig, inderdaad bespreek. Dit het egter nie van
die grond af gekom nie, as gevolg van die regering se beleid dat mielies nie vir die
vervaardiging van etanol gebruik mag word nie, omdat dit ’n belangrike stapelvoed-
sel in Suid-Afrika is.
Teen 2014 was daar nog steeds geen kommersiële biobrandstofaanleg in Suid-Afrika
nie. Intussen het die regering wel besluit om ’n biobrandstofaanleg by Cradock in die
Oos-Kaap te ontwikkel ten einde etanol vir verpligte inmenging in fossielbrandstof
te vervaardig. Die aanleg sal egter etanol van graansorghum vervaardig en nie van
mielies nie, aangesien sorghum nie as ’n bron van stapelvoedsel beskou word nie.
WINTERGRAANPERSPEKTIEF
Koring
Produksie
Koringverbouing met die oog daarop om brood te bak, is een van die oudste vertak-
kings van landbou in Suid-Afrika en koringvermaling een van die oudste industrieë.
Koringproduksie het in die 17de eeu in die winterreënvalstreek van die Wes-Kaap in
aanvang geneem, kort na Jan van Riebeeck se vestiging in die Kaap in 1652.
Aanvanklik het die koringbedryf baie moeilike tye beleef, veral omdat die plaas-
like mark beperk was en dit moeilik was om koring uit te voer. In die 19de eeu
het uitbreiding van koringproduksie en die koringnywerheid in die algemeen egter
versnel namate die bevolkingsgetalle toegeneem het. Dit is verder aangehelp deur
die koms van meer gevorderde toerusting, asook die instelling van invoerheffings
op koring en meel in 1826 ten einde volgehoue plaaslike voorsiening te verseker.
Soos in die geval van ander gewasse, veral mielies, het die ontdekking van dia-
mante en goud in Suid-Afrika in die laaste gedeelte van die 19de eeu skielik ’n
groot toename in die getal verbruikers van koring tot gevolg gehad, namate dorpe
en landelike sentrums ontwikkel het. Dit is aangehelp deur die ontwikkeling van die
spoorweë en ander vervoerstelsels, wat die vervoer van koring en koringprodukte
na die nuwe markte goedkoper en meer effektief gemaak het, asook die uitbreiding
van koringproduksie na die destydse Oranje-Vrystaat gestimuleer het.
Na die stigting van die Unie van Suid-Afrika in 1910 is groter fokus op koring-
produksie geplaas en verskeie verslae het die lig gesien wat klem geplaas het op
die noodsaaklikheid van goedkoop, betroubare voedselvoorsiening en die gelyk-
tydige bevordering van plaaslike ekonomiese ontwikkeling. Die verslae het aan-
bevelings ingesluit dat die invoertarief op koring verdubbel en plaaslike produksie
uitgebrei moes word ten einde betroubare broodvoorsiening te verseker.
Met die aanvang van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 het Suid-Afrika slegs so-
wat 50% van die plaaslike koringverbruik self geproduseer. Die res moes ingevoer
word. Na die uitbreek van die oorlog het ’n tekort aan skeepsruimte invoere aan
bande gelê en die skaarsheid van koring in Suid-Afrika verhoog. As gevolg daarvan
het binnelandse pryse gestyg, wat plaaslike koringverbouing meer lonend gemaak
en verhoogde produksie in die hand gewerk het.
Na aanleiding van ’n ondersoek na koringvoorsiening in 1917 is aanbeveel dat ko-
ringverbouing aangemoedig moes word deur saad teen kosprys beskikbaar te stel
en maatreëls in te stel om groter hoeveelhede kunsmis en kraalmis beskikbaar
te stel. Ook is aanbeveel dat koringverbouing in die Wes-Kaap onproduktief was
en aanpassings noodsaaklik was. Die argument was dat die swak opbrengste wat
aanvanklik op groot gedeeltes swakker gronde behaal is, deur lae grondpryse
en voldoende beskikbaarheid van goedkoop arbeid gebalanseer is, maar dat die
situasie verander het namate die beskikbaarheid van arbeid verminder en die
produktiwiteit van veral die swakker gronde as gevolg van ’n gebrek aan wisselbou
afgeneem het.
Die belangrikste veranderings wat voorgestel is, was die vestiging van ’n groter
veeteeltkomponent en meer toeligting en leiding aan produsente. Dit was volgens
So is koring in die ou dae gedors.
’n Koringsnyer aan die werk.