DIE
GRAAN- EN OLIESADEBEDRYF
VAN SUID-AFRIKA – ‘N REIS DEUR TYD
ႃႊ
Aangesien stikstof in die vroegste jare nie beskikbaar was nie, het produsente
hoofsaaklik fosfaat en kraalmis as bemestingstowwe gebruik. In 1903 is fosfaat
deur die kunsmisfabriek SAFCO, wat in Durban gebaseer was, vervaardig. Later,
teen ongeveer 1919/1920, het maatskappye soos Kynoch en Cape Explosives,
groot hoeveelhede fosfaat as neweproduk van plofstof vervaardig.
In 1907 is met navorsing oor droëlandverbouing van mielies begin en in 1911 is die
eerste kongres daaroor gehou. Op daardie stadium was reeds sowat 863 000 ton
mielies in die Transvaal geproduseer. Die navorsing was hoofsaaklik op vogbewa-
ring en die kweek van beter saad toegespits. Die Hickory King-kultivar, ’n vroegryp-
wordende mieliesaad wat vir droëlandverbouing op die hoëveld geskik was, is in
1912 beskikbaar gestel. In die Vrystaat en Wes-Transvaal is ook goeie resultate met
die Sahara Yellow-kultivar bereik.
Toename in produksie en verbruik
In die tydperk vanaf 1918 tot ongeveer 1930 was daar nie noemenswaardige groei
in die oppervlaktes wat onder mielies verbou is nie. Mielieproduksie het wel na
afloop van die eerste Wêreldoorlog in 1919 stelselmatig begin toeneem, maar
pryse was onstabiel, bemarking was ongeorden en as gevolg van die Depressie is
’n groot tekort aan finansiering ondervind.
Vanaf ongeveer 1930 het mielieproduksie egter ’n sterk stygende tendens ge-
toon. Heersende klimaatstoestande het die grootste invloed gehad op die grootte
van die oppervlakte waarop mielies geplant is, maar meer moderne boerdery-
metodes en toenemende meganisering het opbrengste per eenheid verhoog. Ten
spyte van ’n aansienlike toename in die gebruik van kunsmis, trekkers en gemega-
niseerde implemente, was mielies se gemiddelde droëland-opbrengs voor 1940
minder as een ton/ha, met die hoogste, naamlik 0,94 ton/ha, in die 1939/1940-
seisoen.
Die binnelandse verbruik van mielies het van 683 000 ton in 1911/1912 tot
1 430 000 ton in 1939/1940 toegeneem. Die voortslepende droogte in die vroeë
1940’s tesame met die groeiende vraag na mielies weens die uitbreek van die
Tweede Wêreldoorlog, het uiteindelik tot groot mielietekorte in Suid-Afrika gelei
wat nie deur die beheermaatreëls ingevolge die Bemarkingswet alleen opgelos
kon word nie. Gevolglik het die regering vertoë tot die London Food Council en die
Combined Food Board gerig vir groter graantoekennings aan Suid-Afrika. Dit was
nie baie suksesvol nie, omdat al die produserende lande eers in hulle eie behoeftes
wou voorsien. Die regering was gevolglik verplig om ander bronne te ondersoek
en het in 1945 daarin geslaag om ’n ruilooreenkoms met Argentinië te sluit in terme
waarvan Suid-Afrika steenkool aan Argentinië gelewer het in ruil vir mielies. Die
ooreenkoms is later ook vir 1946 en 1947 hernu.
Die Mielieraad se eerste amptelike mielie-uitvoerkontrak is in 1973 met Taiwan ge-
sluit vir die uitvoer van 1,2 miljoen ton mielies oor ’n tydperk van drie jaar. Dit het nie
net die weg gebaan vir ander handel tussen Suid-Afrika en Taiwan nie, maar is ook
opgevolg met uitvoerkontrakte in 1975 (vir 1,35 miljoen ton), 1979 (vir 1,8 miljoen
ton) en 1982 (vir 1,8 miljoen ton).
TUSSEN 1924 EN 1940 IS
GEMIDDELD 312 094 TON
GRAAN/JAAR DEUR
DIE SUID-AFRIKAANSE
HAWENS UITGEVOER
EN GEMIDDELD SOWAT
900 000 TON/JAAR
OOR LAND NA
NABURIGE LANDE.
Ondertekening van die eerste langtermyn mielie-uitvoerkontrak tussen die Mielieraad en
die Republiek van China in Pretoria op 24 Januarie 1973.