ႃႅ
HOOFSTUK 1
Vervoer
Die wyse waarop graan na die markte vervoer is, het sedert die begin van die twin-
tigste eeu deurlopend verander namate vervoermiddels en opbergingsfasiliteite
verander het. Vir die grootste gedeelte van die tydperk tot die middel 1990’s is die
oorgrote hoeveelheid graan per spoor vervoer.
Gedurende die gereguleerde era was die beheerrade in wese die enigste en-
titeite wat graan op groot skaal in Suid-Afrika vervoer het. Hulle het hoofsaaklik
van spoorvervoer gebruik gemaak, wat slegs deur die regering se Spoorweg- en
Hawensadministrasie (later Spoornet) voorsien is. Dit was dus makliker om vervoer-
behoeftes binnelands sowel as na en van die hawens te koördineer en effektiewe
werkswyses en praktyke is mettertyd ontwikkel om dit moontlik te maak.
Die beheerrade was ingelig oor verwagte oesgroottes en die verspreiding daarvan
oor die hele land en kon dus tydig toesien dat effektiewe vervoerreëlings getref
word. Die deregulering van die graanbedryf het egter die speelveld totaal veran-
der. Eensklaps was daar baie meer rolspelers in die graanbedryf wat elkeen op sy
eie behoeftes gefokus het, sonder inagneming van die totale posisie met betrek-
king tot die vraag en aanbod van vervoer en sonder enige koördinasie. Eweneens
het die in- en uitvoer van graan nie meer gekoördineerd plaasgevind nie, wat met
die toetrede van wesenlike buitelandse rolspelers, soos Cargill en Louis Dreyfus,
tot nóg groter kompleksiteit gelei het.
Hierdie faktore, tesame met ander logistieke uitdagings ten opsigte van opber-
gingskapasiteit en die hantering van baie meer unieke besendings, het ’n gewel-
dige gediversifiseerde, onvoorspelbare en onstabiele behoefte aan vervoer in die
hand gewerk. Dit, tesame met behoeftes soos korter omdraaityd, vinnige reaksie
en aanpasbaarheid wat uniek aan die vrye mark is, het die geleentheid vir alter-
natiewe vervoeroplossings geskep. Die vervoer van graan per pad het met rasse
skrede toegeneem, tot die mate dat in 2015 sowat 85% van alle graan in Suid-Afrika
na verwagting op hierdie wyse vervoer is, teenoor 15% in 1990.
Landbounavorsing en -tegnologie
Die Landbounavorsingsraad (LNR) het op 1 April 1992 as ’n relatief outonome in-
stelling tot stand gekom as gevolg van ’n herstrukturering van die Departement
van Landbou-ontwikkeling, wat die deregulering en privatisering van sekere afde-
lings daarvan behels het.
Gereed om te vaar.
Mielie-invoere.