35
November 2017
Die son het gesak en ons moes nog tot by die kamp in die duine ry.
Die dag was woes, maar ons het die wonderlikste ervarings gehad.
Die maan was vol. Dit was springgety. Doodsakkerdag. Die gevrees-
de stukkie kuslyn is een van daai plekke waar jy jou plan agter-
mekaar moet hê en jou motorfiets moet ry. Een foutjie en jy verloor
jou fiets deur die see wat dit met sy branders neem. Ons plan was
goed, die see was ons genadig en die sand het darem nie te veel aan
die motorfietse gegryp nie. En die Doodsakker was agter ons. Daar
was nog net die ordentlike stuk strand tot by Foz do Cunene oor.
Ons was verbaas oor die motorfietse se brandstofverbruik: 110 km
op ‘n GS en hulle was droog. Die sand is swaar op toerusting.
Ons het egter vir Rico by ons en hy het petrol. By Foz het ons die
see uit die motorfietse gespuit en ons alles wat petrol kan vat vol-
gegooi. Ons het oos gedraai: Die rivier het die pad aangedui. En die
woestyn was woes en leeg. ‘n Pap wiel of twee later was ons by
Espenhierra – die einde van die Iona Nasionale Park.
Ons het ‘n rivierloop gesoek en kamp opgeslaan: Nog ‘n rustige
nag in die middel van nêrens. Die volgende dag was harde ry. Die
terrein is ongenaakbaar. Dit lyk of al die klippe van die planeet daar
vervaardig word. Maar ons het gevorder. Pap wiele het ons besig
gehou: Agt dié dag. Die petrol het weer min geraak en ons moes
plan maak.
Oncocua het ons gered. Die polisieman kon Afrikaans praat. Én hy
het geweet waar om petrol te kry. Ons het ‘n jerrykan vol gekoop en
dit met ‘n wynbottel in die motorfietse ingegooi: Liter vir liter. Die
Himbas ('n inheemse ras in Kaokoland) het vir ons water gebring.
Ruacana en die grensposte het na ‘n rukkie verskyn. Ons was terug in
Namibië. Die plan was om ‘n vriend van ons, Gert, en sy twee seuns
by Kunene River Lodge te kry. Ons het hulle langs die pad gekry
– besig om nog ‘n pap wiel reg te maak. Ons span was nou drie
man, twee motorfietse en ‘n Prado sterker.
Ons het weer die pad gevat Epupa-valle toe – al langs die rivier
af. Van Zylspas was die volgende bestemming. Ons het rustig van
daar af gery en uitgekyk vir die Himbas en hulle bokke, die berge en
die klippe. Die roete was hier en daar bietjie grof, maar ons het dit
geniet. Op die einde van die pas het ons so ‘n bietjie gerus en toe
laat vat na Rooidrom toe.
Puros was hierna ons mikpunt. Die pad loop deur harde wêreld
en ons het nie so flink gevorder soos ons wou nie. Die rivierbed het
sag gelyk en ons het daar en dan gekamp. Ons het Puros uitein-
delik gekry en in die canyon afgery. Die water het sterk geloop, ons
het klomp wild gesien en die ry was uit die boonste rakke. Ons het
sommer in die canyon, langs die water gekamp.
Die volgende oggend het ons die slegste pad in Namibië gery:
Sinkplate wat stopsels vernietig – van Puros tot by Sesfontein. Petrol
was beskikbaar en ons het net volgemaak en weer gery. Die pad was
beter en ons het lekker gery. Verby Palmwag het ons nog ‘n paar
pap wiele reggemaak en deurgery na Kamanjab toe. Dit was donker,
maar ons wou by Otjiwarongo slaap. Net voor middernag het ons
by Otjiwarongo aangekom: Nog ‘n ervaring vir die geheuebanke.
Al wat oorgebly het, was huis toe ry. Ons het die sleepwa en die
bakkie gepak en weggespring. Wat ‘n voorreg om die motorfietse,
energie en gesondheid te hê om so iets te kan aanpak. Ons het ‘n
ongelooflike ekspedisie voltooi. Alles was onverbeterlik. Gaan ons
weer? Verseker! Wie ry saam?
Vir diegene wat video’s van die avontuur wil sien, gaan kyk by
YouTube
:
Expedition 2017: Part 1 Angola
en
Expedition 2017: Part 2
Namibia.
3: Tundavala – dit is senutergend om op die rand van die afgrond te sit!
4: Die motorfietse word by Flamingo Lodge nagegaan voor die Doodsakker
aangedurf word.
5: Die sand is baie los in die Doodsakker en ruimte vir foute maak, is baie min.
3
5
4