SA Grain January 2014 - page 40

Januarie 2014
38
Ondersteunende behandeling, wat selfs bloedoortappings kan insluit,
kan in sulke gevalle ‘n lewensredder wees. Raadpleeg ‘n veearts oor die
detail van behandeling. Siek diere moenie onder stres geplaas word nie.
Hulle behoort teen ongunstige weersomstandighede beskerm te word en
vrye toegang tot goeie gehalte voer en skoon water te hê.
Beheer van rooiwater
Raadpleeg ‘n veearts oor besonderhede van bosluisbeheer vir rooiwater.
In gebiede waar rooiwater normaalweg voorkom (endemiese gebiede)
moet beesboerdery aanpas by die omstandighede.
Inenting van diere met Onderstepoort Biologiese Produkte se
bloedentstowwe (Afrika en/of Asiatiese rooiwaterentstof) verleen goeie
beskerming en word ten sterkste aanbeveel. Die bloedentstof vir Afrika
en Asiatiese rooiwater kom in ‘n bevrore vorm voor. Daar word aanbeveel
dat kalwers tussen die ouderdom van drie en nege maande geënt word.
Ouer, vatbare diere is meer gevoelig en neig om ernstiger rooiwater
siektetekens te ontwikkel met die toediening van die entstof. Rooi-
waterentstofreaksies ontwikkel gewoonlik op een tot drie weke ná
inenting.
Siektetekens met die Afrika rooiwaterentstof word binne sewe dae gesien
en die Asiatiese rooiwaterentstof binne tien tot 14 dae. Die tekens varieer
van verhoogde rektale temperatuur tot erge kliniese tekens in vatbare,
nie-gesoute diere.
Jong kalwers toon die hoogste weerstand teen die siekte en ontwikkel
selde ernstige siektetekens ná enting, maar in volwasse vatbare diere kan
erge kliniese tekens ontstaan. Die twee lewende rooiwaterentstowwe
(Afrika en Asiatiese stamme) kan gelyktydig toegedien (ingeënt) word.
Entstofreaksies moet verkieslik nie met imidokarb behandel word nie,
omdat dit gewoonlik die besmetting steriliseer (alle organismes dood) en
daarom die ontwikkeling van ‘n langdurige immuniteit belemmer.
Waar entstofreaksies met diminaseen behandel word, sal dit nie die
ontwikkeling van immuniteit teen Asiatiese rooiwater beïnvloed nie,
maar indien beskerming ook teen Afrika rooiwater verlang word, word
herinenting op ‘n later stadium aanbeveel.
Behandeling van die entstofreaksies waar bevrore entstof gebruik is met
‘n derde blokdosis diminaseen, maak die bevrore entstofstam dood. Die
entstof moet op droë ys (-70°C) of in vloeibare stikstof (‘n temperatuur
laer as -70°C) bewaar word tydens vervoer en berging. Die entstofdosis
is 1 ml ongeag die grootte of ouderdom van die dier en moet binnespiers
toegedien word.
Die bevrore entstof kan vinnig of stadig ontdooi word. Vinnige ontdooiing:
Ontdooi net genoeg entstof in louwarm water (40°C) om onmiddellik
die diere te ent ná ontdooiing. Stadige ontdooiing: Die bevrore entstof
word direk op smeltende ys geplaas en so na die werksplek vervoer. Die
entstof ontdooi op die smeltende ys en moet binne vier ure nadat dit uit
die droë ys of vloeibare stikstof verwyder is, gebruik word (daar moet
altyd ‘n oormaat ys in die houer wees).
As die entstof eers ontdooi het, kan dit nie weer gevries word nie.
Entstof wat tydens vervoer/berging ontdooi het, is beskadig en moenie
gebruik word nie. Moenie bevrore entstof in ‘n gewone vrieskas (-10°C
tot -18°C) berg nie. Om ‘n soliede beskermende immuniteit in die geënte
dier te verseker, moet die dier gereeld deur bosluise wat die natuurlike
veldstamme bevat, gebyt word.
Volledige aanwysings vir die gebruik van die entstof word verskaf in
die voubiljet wat die entstof vergesel. Bestudeer die voubiljet elke keer
goed wanneer die entstof toegedien word, aangesien voorskrifte en
gebruiksaanwysings mettertyd kan verander. Dragtige verse en koeie kan
aborteer as ernstige entstofreaksies ontstaan. Rooiwaterentstof kan saam
met anaplasmose- of enige ander entstof, behalwe hartwaterentstof,
toegedien word.
Rooiwateruitbrekings
Die stappe wat tydens ‘n rooiwateruitbreking gevolg word, sal hoofsaaklik
afhang van die hanteerbaarheid van en die aantal diere betrokke, die
beskikbaarheid van arbeid asook die koste verbonde aan die middels,
entstof en dipstof.
Die produsent word aangeraai om ‘n veearts te skakel vir meer inligting.
Alternatiewe wat tydens ‘n rooiwateruitbreking gevolg kan word om
verdere verliese te bekamp, is die behandeling van siek diere, streng
bosluisbeheer, voorkomende behandeling van alle diere en die inenting
van diere.
Toets beeskudde vir vatbaarheid
Bloed kan van diere in ‘n kudde geneem en serologies getoets word om te
bepaal of die kudde vatbaar is vir Afrika en/of Asiatiese rooiwater. Indien
die kudde vatbaar is, kan die regte immuniseringsprogram vir rooiwater
gevolg word.
Lewende hawe
Insette/Produksie
Die klem op rooiwater
Vervolg van bladsy 37
Dié koei het as gevolg van rooiwater geaborteer. Bloederigheid by die
stert en vulva is prominent.
1...,30,31,32,33,34,35,36,37,38,39 41,42,43,44,45,46,47,48,49,50,...52
Powered by FlippingBook