37
January 2014
verliese veroorsaak. In gebiede waar genoeg besmette bosluise
voorkom, behoort alle kalwers op ‘n vroeë stadium (tot die ouderdom van
nege maande) besmet te raak. Kalwers word dus op ‘n jong ouderdom
“natuurlik geïmmuniseer” en geen uitbrekings van die siekte behoort by
ouer diere in dié gebiede voor te kom nie.
Wanneer te min besmette bosluise in ‘n gebied voorkom, hetsy as gevolg
van te streng bosluisbeheerpraktyke of natuurlike invloede (byvoorbeeld
droogtes), is van die kalwers vatbaar vir rooiwater.
Net 0,04% van die bosluise is met die bloedparasiete
B. bovis
en 0,23%
met die bloedparasiet
B. bigemina
besmet (studie in Australië). Alle
kalwers word dus nie aan die besmetting blootgestel nie en uitbrekings
van die siekte kan in die volgende jaar by hierdie diere (wanneer hulle
ouer en meer vatbaar is) verwag word.
Hoewel kalwers verkieslik deur natuurlike besmetting (dit wil sê deur
bosluisoorgedraagde besmetting) geïmmuniseer behoort te word, kan
die invloed van natuurlike faktore (soos reënval) of bosluisbevolkings nie
beheer word nie. Daaromword rooiwaterentstof gewoonlik as toevoeging
tot natuurlike besmetting gebruik om dié diere, wat nie as kalwers besmet
geraak het nie, teen die ernstige nagevolge van natuurlike besmetting op
‘n later stadium te beskerm.
Indien diere in ‘n rooiwatergebied van een plaas na ‘n ander plaas of
van een kamp na ‘n ander kamp verskuif, kan hulle nogtans rooiwater
opdoen. Wees bedag op die uitbreek van rooiwater met die verskuiwing
van diere. Rondom kalwing verlaag die koei se weerstand teen siektes en
kom daar dikwels erge gevalle van rooiwater voor.
Siektetekens
Rooiwater word gewoonlik gekenmerk deur ‘n hoë koors, ‘n ligte tot
donkerrooi of bruin verkleuring van die urine, bloedarmoede en selfs
geelsug in gevorderde gevalle. Beeste toon gewoonlik kliniese tekens
van die siekte ongeveer twee tot drie weke ná blootstelling aan besmette
bosluise.
Klinies is dit moeilik om te onderskei tussen die twee tipes rooiwater
aangesien die siektetekens van Asiatiese en Afrika rooiwater baie
ooreenstem. Die siekte verloop vinnig en diere kan vrek indien hulle nie
betyds behandel word nie.
‘n Koorsreaksie (liggaamstemperatuur van 40°C - 41,5°C in die oggend)
is gewoonlik vir ‘n paar dae teenwoordig voordat ander tekens sigbaar
word. Dit word gevolg deur tekens van ‘n swak eetlus, lusteloosheid,
swakheid en onwilligheid om te beweeg. Bloedarmoede of selfs geelsug
ontwikkel en is veral opvallend in die meer gevorderde gevalle. ‘n Droë
neus, dowwe haarkleed en diarree is minder spesifieke siektetekens wat
moontlik kan voorkom.
Met Asiatiese rooiwater is die urine nie altyd verkleur nie, maar
senuweesimptome, soos ‘n verhoogde of verminderde reaksie op
stimuli, swak koördinasie, spiertrillings, konvulsies (stuiptrekkings) en
selfs ‘n koma kan in gevorderde gevalle voorkom. Wanneer hierdie tekens
teenwoordig is, word die siekte serebrale rooiwater (babesiose) genoem.
Dit kan onder meer met hartwater verwar word.
Diagnose en nadoodse ondersoek
Raadpleeg ‘n veearts om ‘n voorlopige diagnose van rooiwater op grond
van die siektetekens en/of nadoodse letsels te maak. Ter bevestiging van
die siekte sal die veearts ‘n bloedsmeer en/of breinsmeer mikroskopies
ondersoek vir die aanwesigheid van die bloedparasiete.
Behandeling
Siek diere moet so gou as moontlik nadat siektetekens waargeneem
word en/of ‘n positiewe diagnose met behulp van ‘n bloedsmeer gemaak
is, behandel word. Daar is verskeie effektiewe rooiwatermiddels wat die
produsent sonder ‘n voorskrif in Suid-Afrika kan bekom.
Dit is belangrik om die liggaamsmassa van die dier akkuraat te bepaal,
sodat die korrekte dosis van die middel aan die dier toegedien kan word.
Indien die dier vroeg in die verloop van die siekte behandel word, sal
die dier waarskynlik herstel. In gevorderde gevalle is die kans op herstel
egter skraal.
Vervolg op bladsy 38
‘n Bloedsmeer van ‘n bees met rooiwater onder die ligmikroskoop. Die rooi-
waterbloedparasiete (
Babesia
) is duidelik in die rooibloedselle sigbaar.
Die bloubosluis (
Rhipicephalus decoloratus
en
R. microplus
) dra die bloed-
parasiet (
Babesia
) wat rooiwater veroorsaak oor.
Ná die ouderdom van twee maande word kalwers meestal beskerm vir ‘n
verdere vier tot ses maande deur ‘n nie-spesifieke weerstand teen rooiwater.
Beeste kan op enige ouderdom teen rooiwater ingeënt (geïmmuniseer) word.
Die aanbeveling is dat kalwers vanaf drie tot nege maande ingeënt word.