SA Grain January 2014 - page 38

Lewende hawe
Insette/Produksie
Januarie 2014
36
Rooiwater
– wees voorbereid
DR JAN DU PREEZ, BESTURENDE DIREKTEUR: INSTITUUT VIR SUIWELTEGNOLOGIE
Rooiwater (babesiose) is ‘n belangrike bosluisoorgedraagde siekte by
beeste en veroorsaak in Suid-Afrika verliese van meer as R30 miljoen per
jaar. Rooiwater kan doeltreffend met ‘n bloedentstof voorkom en beheer
word.
Rooiwater is ‘n algemene term en daar moet ‘n duidelike onderskeid
gemaak word tussen twee siektes, naamlik Afrika rooiwater en Asiatiese
of Europese rooiwater.
Rooiwater by beeste word deur ‘n mikroörganisme wat in die rooi-
bloedselle van besmette diere voorkom, veroorsaak. Twee tipes van die
siekteveroorsakende bloedparasiete kom in Suid-Afrika voor, naamlik
Babesia bigemina
wat Afrika rooiwater veroorsaak en
Babesia bovis
wat
Asiatiese rooiwater veroorsaak.
Beeste wat met die parasiete besmet word, bly vir lang tye draers van die
parasiet. Hierdie draertoestand in die dier gaan gepaard met langdurige
immuniteit teen rooiwater. Daar is geen kruisimmuniteit tussen die
Asiatiese en die Afrika tipe rooiwater nie. Om beeste teen ernstige
siekte en vrektes, wat deur die meer kwaadaardige rooiwaterparasiete
veroorsaak word, te beskerm, word minder gevaarlike “entstofstamme”
van die parasiete in die vorm van ‘n lewende bloedentstof gebruik om
beeste teen rooiwater te immuniseer.
Verspreiding van rooiwater
Rooiwater kom wydverspreid in Suid-Afrika voor (behalwe in gebiede
met baie lae reënval, waar min bosluise voorkom) en is in groot dele
permanent gevestig (endemies). Die verspreiding van rooiwater (kyk
na
Figuur 1
) stem dikwels ooreen met dié van bosluisoorgedraagde
galsiekte by beeste, maar galsiekte het ‘n wyer verspreiding as die twee
tipes rooiwater. Afrika rooiwater is die wydste verspreid en val saam met
die verspreiding van beide bloubosluisspesies.
Oordraging
Afrika rooiwater word oorgedra deur twee bloubosluise, naamlik
Rhipicephalus (Boophilus) microplus
en
Rhipicephalus (Boophilus)
decoloratus
, wat albei eengasheerbosluise is. Die rooipootbosluis,
Rhipicephalus evertsi evertsi
, kan ook die siekte oordra. Die bosluise is
afwesig in die droër dele van die Wes- en Noord-Kaap, die Wes-Vrystaat
en hoërliggende dele van die Drakensberg en Lesotho.
Asiatiese rooiwater het egter ‘n meer beperkte verspreiding omdat dit
slegs deur
R. microplus
, wat hoofsaaklik in hoë reënvalgebiede voorkom,
oorgedra word. Dit sluit gebiede soos die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en
oostelike dele van Mpumalanga in.
Rooiwater word slegs deur bosluise oorgedra. Bosluise raak besmet
wanneer hulle voed op beeste wat die siekte onder lede het of wat
draers is van die parasiete en dra die besmetting deur hul eiers oor na
hul nageslag. Klimaattoestande wat bosluisoorlewing bevorder, kan tot
uitbrekings van die siekte lei indien bosluise in gebiede wat normaalweg
vry van rooiwater is, ingebring word. Besmetting van die ongebore
kalf kom soms voor en kan lei tot aborsie of vrekte van die kalf kort na
geboorte.
Wanneer rooiwater voorkom
Rooiwater het dikwels ‘n duidelike seisoenale voorkoms en uitbrekings
kom meer dikwels gedurende die warmer somer- en herfsmaande voor.
Hierdie verhoogde voorkoms van die siekte hang saam met die groter
aantal bosluise, wat gedurende daardie tyd ook meer aktief is.
Kalwers jonger as twee maande gebore van koeie wat nie aan
rooiwaterparasiete blootgestel is nie, is vatbaar vir besmetting. Kalwers
gebore van koeie wat immuun teen rooiwater is, word teen die siekte
beskerm deur biesmelk-immuniteit.
Ná die ouderdom van twee maande word kalwers beskerm vir ‘n verdere
vier tot ses maande deur ‘n nie-spesifieke weerstand teen die siekte.
Hierdie weerstand verlaag egter namate die diere ouer word. Die nie-
spesifieke weerstand is waarskynlik die grootste op ongeveer ses
maande, maar kalwers tot op ‘n ouderdom van nege maande toon selde
siektesimptome of ontwikkel slegs ‘n matige vorm van die siekte.
Daarteenoor is die siekte baie ernstiger indien volwasse diere dit vir
die eerste keer opdoen. In sulke gevalle kan siekte en vrektes ernstige
Veefaktor
Figuur 1: Hierdie kaart dui die gebiede aan waar rooiwater in Suid-Afrika
voorkom.
1...,28,29,30,31,32,33,34,35,36,37 39,40,41,42,43,44,45,46,47,48,...52
Powered by FlippingBook