SA Grain January 2014 - page 49

Nuwe Mercedes-Benz motors
voel groot en klein
M
ercedes-Benz SA het aan die einde van 2013 twee nuwe passa-
siersmodelle geloods waarvan ‘n mens moet kennis neem. Die
een is die CLA en die ander is die nuwe S-klas. Albei die modelle
het ook dieselkragbronne in hulle arsenale.
Die CLA-reeks is die sedanweergawe van die nuwe A-klas Mercedes-
Benz wat ook in 2013 geloods is. Die A-klas is die intreevlak van die
Mercedes-Benz passasiersvoertuie. Daar is twee petrolweergawes, maar
in hierdie artikel word net gefokus op die dieselmodel, die CLA 220 CDI.
Hierdie model het die turbo-ondersteunde viersilinder 2143 cc dieselenjin
wat ‘n kraglewering van 125 kW tussen 3 400 - 4 000 r/min opwek en ‘n
wringkrag van 350 Nm tussen 1 400 – 3 400 r/min lewer. Sulke krag klink
goed, maar die prentjie word selfs nog beter as ‘n mens in ag neem dat
dit nie ‘n groot, swaar motor is nie. Sy totale lengte is 4 630 mm. Dit is
basies dieselfde lengte as die modelle in die BMW 3-reeks en die 2014
Toyota Corolla-reeks.
Danksy hierdie kompaktheid kan dié voertuig ‘n topsnelheid van 230 km/
uur behaal. Sy gemiddelde brandstofverbruik is ongeveer 4,5 liter per
100 km. Die CLA diesel kom slegs uit met die sewe-spoed outomatiese
ratkas wat ook deur middel van pedale op die stuurwiel kan optree as ‘n
handrat as dit moet. Die CLA is nie klein nie. Dit is ‘n kompakte motor in
lengte, maar binne-in het dit volop ruimte vir vier volwassenes. Ideaal vir
die kleiner gesin of as ‘n tweede kwaliteit motor.
Ook is die CLA rojaal toegerus met alles wat ‘n mens nodig het om gerieflik
en veilig te bestuur. Dit sluit Mercedes-Benz se nuutste tegnologie, soos
die
attention assist
-stelsel wat kan optel wanneer die bestuurder se
volle aandag nie op die pad is nie. ‘n Duidelike vibrasie word deur die
stuurwiel gevoel en die voertuig se spoed word verminder. Dit het ook ‘n
ingeboude radar wat die bestuurder waarsku as daar iets in die pad voor
die motor is. Dit is veral nuttig as ‘n mens in die aand bestuur en daar ‘n
dier in die pad is. Ook sal die motor betyds rem as die bestuurder dit nie
doen nie. Die CLA CDI kos R397 600.
Die “groter” motor wat Mercedes-Benz geloods het, is die nuwe reeks
S-Klas. Mercedes-Benz verklaar sonder vrees vir teenspraak onomwonde
dat dit nou die wêreld se beste motor is. Alles binne die S-klas is gebou
om die beste te wees. Top bestaande tegnologie word ingespan sodat die
motor die beste, weelderigste en veiligste ryervaring moontlik bied. Net
soos by die CLA, maar met net nog meer bykomstighede, sal die S-klas
model jou waarsku as daar gevaar in die pad is. Dit sal namens jou rem en
verseker dat jy nie sommer maklik in ‘n botsing beland nie. Dit kan selfs
bepaal of die jafel agter jou te naby kom en sal die waarskuwingsligte
aanskakel om beide jou en hom te waarsku.
Daar is tans drie modelle in die S-klas. Die S 400 HYBRID (‘n kombinasie
van ‘n sessilinder 3,5-liter petrolenjin met ‘n elektriese motor), die
S 500 (‘n 4663 cc V8 petrolenjin) en die dieselaangedrewe S 350 BlueTEC.
Laasgenoemde het ‘n V6 3-liter dieselenjin met ‘n kraglewering van
190 kW teen 3 600 r/min en ‘n wringkrag van 620 Nm tussen 1 600 -
2 400 r/min. Sy topsnelheid is 250 km/uur. ‘n Gemiddelde brandstofver-
bruik van 5,5 liter per 100 km word bereik. Net soos die CLA diesel kom
die S 350 BlueTEC ook met die sewe-spoed handrat/outomatiese ratkas.
Die S-klas is groot. Binne is daar regtig genoeg plek vir vyf groot
volwassenes. Absolute luuksheid. Alhoewel groot, bestuur dit soos ‘n
kleiner motor in die sin dat dit glad nie lomp hanteer of moeilik parkeer
nie. Veiligheid het nie ‘n prys nie en as jy R1 214 000 vir die S 350 BlueTEC
kan bekostig, dan is dit die beste belegging vir jou en jou passasiers om
veilig en gerus aan die ander kant uit te kom. Soos met alle Mercedes-
Benz passasiermotors kom beide die CLA CDI en die S 350 BlueTEC met
Mercedes-Benz se gratis sesjaar/100 000 km-onderhoudsplan.
Wiele vir die plaas
GERRIE SMIT, LID VAN DIE
SA MOTORSKRYWERSGILDE
Die Mercedes-Benz CLA CDI is ‘n kompakte
sedan met baie ruimte.
Die Mercedes-Benz S 350 BlueTEC is ‘n groot
motor wat hanteer asof dit heelwat kleiner is.
Rubrieke
47
January 2014
1...,39,40,41,42,43,44,45,46,47,48 50,51,52
Powered by FlippingBook