Insekbeheer
Insette/Produksie
Januarie 2014
24
Wees op die uitkyk vir die
mieliewortelwurm
DR ANNEMIE ERASMUS, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE
Die mieliewortelwurm (
Buphonella
sp.) is in 1959 vir die eerste keer in
Suid-Afrika aangemeld en in 1977 is ‘n uitbraak vir die eerste keer on-
dersoek. Hierdie minder bekende plaag is voorheen al gerapporteer
in KwaZulu-Natal (Vryheid, Bloedrivier, Greytown en Howick) en
Mpumalanga (Bethal en Piet Retief). Daar is egter onlangs ook ‘n geval
aangemeld in die Noordwes Provinsie, (Koster-distrik), waar tot 42% van
die saailinge op landerye beskadig is (
Foto 1
).
In hierdie geval het die omgewing ‘n groot rol gespeel, want die skade
het voorgekom in ‘n nuutvoorbereide land wat voorheen ‘n grasveld was.
Sodra die grasvelde vernietig word, is daar geen bron van voedsel meer
nie en dit het waarskynlik daartoe gelei dat die mieliewortelwurms die
gewas aangeval het. Daar is ook sonder ‘n saadbehandeling geplant, wat
moontlik verligting vir die aanval kon gebied het.
Die mieliewortelwurm (
Foto 2
) is die larfstadium van ‘n kewer. Die kewer
rig geen skade aan mielies aan nie. Só ‘n kewer is donkergrys van kleur
en die wyfies word tot 7 mm lank en 2,3 mm breed. Die mannetjies is
gewoonlik kleiner. Eiertjies is bleek-oranje van kleur, langwerpig en
ongeveer 0,9 mm lank en 0,6 mm breed. Die larwes is bottergeel van
kleur en silindervormig en die volgroeide larwes is ongeveer 10 mm lank.
Die kop- en laaste agterlyfsegment se bokant is donkerbruin, terwyl die
res van die lyf ligbruin kolle het.
Eiers word enkel of in groepe van twaalf gelê aan graswortels of net
onder die grondoppervlak. ‘n Wyfiekewer kan tot ongeveer 30 eiers lê wat
sowat 15 tot 18 dae neem om uit te broei. Gedurende die wintermaande
verkeer die eiers in ‘n rustoestand en broei eers uit gedurende die lente.
Hierdie pasuitgebroeide larwes boor dan in die ondergrondse stamme
van die saailing in. Die larwes vervel drie keer, waarna papieselle
(
Foto 3
) in die grond gevorm word. Die papiestadium (
Foto 4
) duur sewe
tot 19 dae. Daar is drie tot vier generasies per jaar en kewers is veral
volop waar ‘n digte grasstand voorkom in lande en ook waar mielieplante
vroeër in die seisoen deur mieliewortelwurms aangeval is.
Mieliesaailinge kan só beskadig word dat die plantestand só afneem
dat dit moontlik nodig sal wees om oor te plant. Plantestand kan met
tot soveel as 80% verminder word, maar die besmetting kom gewoonlik
kol-kol in die land voor.
Hierdie plaag is veral ernstig in jare wanneer goeie lentereën opgevolg
word deur ‘n relatiewe droë periode. Die eerste waarneembare bogrond-
se skade (
Foto 5
) stem ooreen met dié van die swartmieliekewer en die
valsdraadwurm. Die kelkblare van die mielieplant verwelk en verdroog en
daarna sterf die hele plant af.
Plante kan wel hierdie skade wat aangerig is oorleef, maar ‘n bos
nuttelose spruite word dan gevorm. Die skade onder die grond word
aangerig deur die larwes wat die ondergrondse stam (
Foto 6
) van die
mieliesaailinge binnedring en verskeie gate daarin boor. Indien meer as
een larf per plant voorkom, kan die larwes die plant moontlik verlaat, oor
die grondoppervlak kruip en naburige plante beskadig.
Die larwes vreet net op plante wat aan die grasfamilie behoort. Dit is
daarom belangrik om lande waarop mielies geplant gaan word, vry te
hou van grasagtige onkruide. Dit kan gedoen word deur bewerking of, in
die geval van bewaringsboerdery, deur bespuiting. Die beste chemiese
beheer wat gebruik kan word, is saadbehandelings, wat voorkomende
beheer bied. Dis egter ‘n moeilike plaag om te beheer as skade reeds aan
ondergrondse stamme aangerig is omdat dit dan moeilik is om die larf te
bereik met chemiese beheer.
Indien daar enige navrae is oor die plaag, kan dr Annemie Erasmus gekon-
tak word by die LNR-IGG by 018 299 6113 of
Foto 1: Skade kom kol-kol in die land voor.
Foto 4: ‘n Papie.
Foto 2: ‘n Tipiese mieliewortelwurm.
Foto 5: Waarneembare bogrondse skade.
Foto 3: ‘n Larf besig om ‘n papiesel te vorm.
Foto 6: Ondergrondse skade.