Augustus 2016
68
Waterverbruik van sojabone
onder die loep
D
ie beskikbaarheid van varswater is nie net in Suid-Afrika
nie, maar wêreldwyd onder enorme druk. Gevolglik raak
die bestuur en benutting daarvan al hoe meer omstrede.
Daar word beraam dat ongeveer 86% van alle varswater
ter wêreld vir voedselproduksie aangewend word.
Die watervoetspoor van produkte sal dus al hoe belangriker raak.
Daar word geskat dat die watervoetspoor van 1 kg dierlike proteïen
ongeveer 1,6 tot twee keer hoër is as die produksie van plantaar-
dige proteïen.
Sojabone (
Glycine max
) is een van die belangrikste bronne van olie
en proteïen wêreldwyd. Sojaboonproduksie in Suid-Afrika het oor
die afgelope aantal jare drasties toegeneem as gevolg van onder
andere die verhoogde parskapasiteit (2 300 000 ton) wat ontwikkel
is. Die sojaboonproduksie word hoofsaaklik gedryf deur die aan-
vraag na dierlike proteïen vir gebruik in die veevoerbedryf.
Gedurende die 2015-produksieseisoen het sojaboonproduksie in
Suid-Afrika vir die eerste keer die 1 miljoen ton merk oorskry. Tydens
die 2015/2016-seisoen het die produksie, as gevolg van die ernstige
droogte, drasties gedaal wat gelei het tot ‘n laer produksie per
hektaar, maar ook omdat 26,8% minder oppervlakte aangeplant is.
Volgens die Oesskattingskomitee is daar slegs 502 800 ha aangeplant
met ‘n verwagte totale produksie van 691 750 ton. Slegs ongeveer
50 000 ha (± 10%) van die totale aanplanting word onder besproei-
ing verbou.
Die gewildheid van sojabone as deel van ‘n wisselboustelsel neem
toe as gevolg van die stikstofbindingsvermoë van sojabone sowel
as die verbeterde grondstruktuur wat te wyte is aan die uitgebreide
wortelstelsel van sojabone.
Vir beplanningdoeleindes is dit belangrik om te weet wat die totale
waterbehoefte van sojabone is en die bestuursbesluite daarvolgens
te neem. Die waterverbruiksdoeltreffendheid van sojabone wissel
tussen 4 kg en 7 kg graan per hektaar per mm waterverbruik.
Laer opbrengste gaan gewoonlik met ‘n lae waterverbruiksdoel-
treffendheid gepaard, terwyl hoë opbrengste weer met ‘n hoë
waterverbruiksdoeltreffendheid gepaard gaan. Meer sojabone
word dus per mm waterverbruik geproduseer in die geval van hoër
opbrengste as in die geval van lae opbrengste.
Waterbehoefte van sojabone
Seisoenale waterverbruik van sojabone word, soos vir alle gewasse,
deur die atmosferiese verdampingsaanvraag en die beskikbaar-
heid van water in die grondprofiel bepaal. Indien die verdam-
pingsaanvraag die toevoer van water (reën en besproeiing) oorskry,
sal sojabone slegs die water wat redelik beskikbaar is, gebruik.
Die tekort veroorsaak dat die gewas dan ‘n waterstremming ont-
wikkel – iets wat gereeld onder droëlandverbouing in Suid-Afrika
ondervind word en ‘n verlies in opbrengs tot gevolg het.
Sojabone se waterbehoefte sal deur die seisoen wissel na ge-
lang van die weersomstandighede en die groeistadium van die plant
wat meer of minder water vereis. Ongeveer 6 kg per hektaar per
mm water vir saadproduksie kan vir beplanningsdoeleindes aan-
vaar word.
Om dus ‘n opbrengs van 3 000 kg per ha te produseer, sal
(3 000 kg per ha/6 kg per ha per mm water) = 500 mm water be-
nodig word. Hou in gedagte dat atmosferiese aanvraag ‘n invloed
op waterverbruiksdoeltreffendheid het. Waterbehoeftes is dus
hoër in gebiede met hoë verdampingsyfers.
Evapotranspirasie per definisie is die transpirasie van water uit
plante asook verdamping/evaporasie van water uit die grond. Trans-
pirasie op sigself is baie belangrik omdat opbrengs linieer gekorre-
leer is met die hoeveelheid water wat ‘n sojaboonplant transpireer.
Kennis oor sojabone se waterbehoeftes verseker beter besproei-
ingskedulering en stel die produsent ook in staat om die regte
kultivarkeuse te maak in die geval van droëlandverbouing.
Faktore wat evapotranspirasie beïnvloed
Die waterverbruik van sojabone word beide deur die weersom-
standighede asook die groeistadium van die plant beïnvloed. Fak-
tore om in ag te neem, is:
Weersomstandighede
Evapotranspirasie word beïnvloed deur die heersende lugtempera-
tuur, relatiewe humiditeit, wind en straling. Hoë temperature, lae
humiditeit, wolkloosheid asook sterk wind verhoog die evapotrans-
pirasieproses.
Tipe grond
Waterhouvermoë van die grond asook die heersende waterinhoud
in die grondprofiel. Die plantbeskikbare water wat die grond kan
hou (plantbeskikbare waterkapasiteit) is die maksimum water be-
skikbaar vir die plant wanneer die spesifieke grond veldkapasiteit
bereik het (
Tabel 1
).
Faktore wat plantbeskikbare waterkapasiteit beïnvloed, is die
grondsoort, organiese materiaal, worteldiepte en die digtheid van
die wortels. Gronde met ‘n hoër klei-inhoud en fyner tekstuur kan
meer water hou, maar is moeiliker beskikbaar in tye van droogte. By
veldkapasiteit is plante se watergebruik dus maksimaal.
Die gewas kan op ‘n wye verskeidenheid gronde aangeplant word
met die wete dat die risiko vir knopwortelaalwurm teenwoordigheid
verhoog op sanderige gronde. Knopwortelaalwurm veroorsaak
dat die plant nie behoorlik voedingstowwe en water deur die
wortelstelsel kan opneem nie, met gevolglike oesverliese.
Sojaboonwortels is minder sensitief vir grondsuurheid as mielies
en sojabone kan gevolglike droogtestremming in suurgronde beter
oorleef as mielies. Gronde met ‘n vlak watertafel verhoog ook die
risiko vir versuiptoestande, omdat sojabone veral in die vroeër
groeistadium meer vatbaar is vir versuiping.
Groeistadium van die plant
Die waterbehoeftes van die plant wissel na gelang van die groei-
stadium van die plant. Jong plante transpireer minder vanweë die
kleiner blaaroppervlakte (
Grafiek 1
).
FOKUS
Sojabone
Mini
ANNELIE DE BEER,
LNR-Instituut vir Graangewasse, Potchefstroom