Somergrane:
Bemes vir sukses in 2018
89
September 2017
OP PLAASVLAK
Bemesting
S
tygende insetkostes, onsekere marktoestande en verskeie
potensiële risiko’s gedurende die groeiseisoen plaas pro-
dusente onder konstante druk om meer met minder te
produseer. Alhoewel die 2016/2017-somergraanproduksie-
seisoen gesorg het vir rekordoeste, het talle produsente gesukkel
om hul insetkostes te delg.
Een van die eerste stappe vir ‘n suksesvolle seisoen is om risiko
te beperk deur slim bemestingspraktyke toe te pas. Die geheim is
om by die grond te begin.
Begin hierdie seisoen reg
Om ware potensiaal uit boerderye te ontgin, is goeie voorbereiding
aan die begin van ‘n seisoen van groot belang. Grondklassifikasie
verseker dat ‘n produsent se voorbereiding gegrond is op ‘n soliede,
wetenskaplike basis. Daarsonder begin die produsent die seisoen
op die agtervoet.
Fisiese eienskappe van grond is bepalend vir die potensiaal wat
deur die plant ontsluit kan word. Voorts verminder dit risiko deur
meer ingeligte besluitneming.
Grondklassifikasie behels die bepaling van verskeie fisiese eien-
skappe van grond, soos grondvorm, effektiewe worteldiepte, klei-
persentasie, bewerkingsdiepte en -metode, grondbeperkende lae
en plantbeskikbare waterkapasiteit.
Deur hierdie fisiese grondeienskappe te identifiseer, lei tot waar-
devolle insigte in terme van die gewaspotensiaal vir die spesi-
fieke klimaat en geografiese area waarin die grond geleë is.
Aangesien grond in verskillende geografiese liggings verskillende
produksiepotensiale het, is hierdie belangrike faktore wat in ag
geneem moet word.
Diep Hutton-grond gaan byvoorbeeld nie dieselfde potensiaal in
die ooste van Suid-Afrika hê as in die weste van die land nie.
Moenie dobbel met jou
winsgewendheid nie
Verskeie prosesse sal in die komende seisoen vir somergraan-
produsente ‘n aanwins wees, maar die volgende fokusareas moet
veral uitgelig word:
Fokusarea 1: Variërende bemesting
Grondpotensiaal verdeel ‘n produsent se boerdery in verskillende
bestuursones. Hierdie proses stel die produsent in staat om
insette baie akkuraat aan te wend – ‘n hoër besteding aan insette
vir hoëpotensiaalsones en ‘n laer besteding aan insette vir
laepotensiaalsones.
Die omvattende inligting stel dan die produsent in staat om die
grond beter te bestuur, praktyke te verbeter en opbrengste op die
lang termyn te verhoog, wat lei tot ‘n meer winsgewende en volhou-
bare boerdery. Variërende bemesting volgens grondpotensiaal is
dus die basiese beginsel van presisieboerdery en waarskynlik die
mees doeltreffende manier om risiko’s te beperk.
Variërende bemesting word deur grondpotensiaal, langtermyn-
weerdata, geografiese area en die gewas bepaal, terwyl grond-
potensiaal gebaseer word op beide grondklassifikasie (fisiese
eienskappe), grondchemiese eienskappe en vorige seisoene se
graanopbrengste.
Daar is reeds verduidelik waarom grondklassifikasie ‘n aansienlike
rol in suksesvolle presisieboerdery speel, maar dit is belangrik om
uit te lig dat akkurate stroperkaarte ook krities vir sukses is.
Die inligting in die stroperkaarte help om, met behulp van die
grondpotensiaalkaarte, voorskrifkaarte meer akkuraat op te stel.
Die voorskrifkaarte verseker dat die korrekte voedingstof teen
die korrekte peil op die korrekte tyd en op die korrekte plek toege-
dien word. Nog ‘n area waar ‘n effektiewe variërende bemestings-
plan ‘n belangrike rol speel, is in die groeistadiums van somergrane.
Vir somergrane is daar twee verskillende groeistadiums – vege-
tatiewe groei en reproduktiewe groei.
Die meeste somergrane groei eers vegetatief uit en gaan dan oor
na die reproduktiewe fase, terwyl ander somergrane (soos soja-
bone) terselfdertyd vegetatief en reproduktief groei. Produsente
moet derhalwe versigtig wees om nie die een tipe groei bo die
ander te bevorder met sulke gewasse nie.
Fokusarea 2: Variërende saadtoediening/
plantpopulasie
Die hoeveelheid saad wat per hektaar geplant moet word (vari-
erende saadtoediening) word ook bepaal deur die grondpotensiaal.
Deur hierdie metode toe te pas (die plantestand by hoër-
potensiaalareas te vermeerder en by laerpotensiaalareas te ver-
minder) bespaar produsente op insetkoste. Só word die boerdery
se opbrengspotensiaal met elke stap verhoog.
Groot sukses is veral reeds behaal deur hierdie metode in areas
met natter gronde toe te pas, soos laerliggende lande waar water
lateraal onder die grond beweeg as gevolg van ‘n hoë klei-inhoud
dieper in die grond, wat daartoe lei dat die grond meer water, later
in die seisoen begin stoor. Deur meer plante per hektaar in sulke
tipe grond te vestig, word die transpirasie per oppervlakeenheid ver-
hoog en die suurstofspanning verlaag. Só word versuiping voorkom.
Vir gronde wat hoër geleë is of ‘n lateraal-bewegende waterprofiel
het, kan saadtoediening afgeskaal word om kompetisie vir water en
wortelspasie tussen die plantpopulasie te verminder.
Bemes vir sukses
Die gevaarlikste benadering vir die komende somergraanseisoen
is om risiko in silo’s te probeer bestuur. Een verkeerde besluit of
bestuurspraktyk wat nie op die wetenskaplik-beproefde metodes
gebaseer is nie, kan ‘n boerdery se winsgewendheid kniehalter.
Om hierdie situasie te vermy, bied Agri Technovation, in samewer-
king met Laeveld Agrochem, aan produsente die geleentheid om
hul risiko’s te bestuur deur besluite te neem gebaseer op weten-
skaplike, verifieerbare en akkurate data.
Plaasspesifieke data en verskillende kaarte word ook bruikbaar
wanneer dit op die MyFarmWeb™-platform gelaai word. Deur so
‘n holistiese benadering tot bemestings- en bestuurspraktyke te
volg, kan ‘n positiewe domino-effek verkry word: Insette word op
‘n koste-effektiewe wyse aangekoop, bemesting en saad word vol-
gens grondpotensiaal aangewend en sodoende word die boerdery
op ‘n volhoubare, winsgewende manier bestuur.
Produsente kan derhalwe gerus wees dat elke stap wat gedurende
die seisoen geneem word, doeltreffend gaan wees, elke oomblik
van swoeg en sweet gaan lei tot resultate en dat die 2018-mylpaal
suksesvol behaal gaan word.
Produk-inligting
MARTIN SMITH,
senior landboukundige: Graan, Agri Technovation