Background Image
Previous Page  86 / 124 Next Page
Basic version Information
Show Menu
Previous Page 86 / 124 Next Page
Page Background

September 2017

Winsgewende mielieproduksie feitlik

onmoontlik teen huidige lae mieliepryse

D

ie huidige seisoen se rekordmielie-oes plaas geweldige

druk op mieliepryse wat winsgewende mielieproduksie

die komende seisoen feitlik onmoontlik maak. Daar heers

kommer oor ‘n groot aantal graanprodusente se finan-

siële stand, want dié lae pryse volg nadat produsente vir twee

seisoene lank met geweldige droogtetoestande gekonfronteer is

en in ‘n diepe finansiële verknorsing gelaat is.

Die komende plantseisoen beloof inderdaad om ‘n uiters uitda-

gende een, in terme van winsgewendheid, te wees. Dit is opvallend

dat produsente kop krap en somme maak vir die planttyd wat

voorlê: Kommer heers oor of inkomstes koste sal kan dek weens

die toenemende styging van insetkoste en die lae mielieprys.

Met die finansiële druk wat tans ervaar word, raak die samestelling

van produksiebegrotings, voor die aanplant van gewasse, al meer

noodsaaklik. Dit moet nie ligtelik opgeneem word wanneer produk-

siebesluite geneem word nie.

Graanprysbestuur begin by ‘n gedetailleerde koste-ontleding

van elke graanvertakking en in dié artikel word slegs gepoog om

die produksiekoste vir die algemeenste produksiepraktyke vir

verskillende streke voor te hou. Produsente se praktyke verskil

uitermate van mekaar en daarom moet elke produsent sy eie

berekeninge deeglik doen.

Beraamde mielieproduksiekoste

en gelykbreekpunt

Tabel 1

dui die beraamde produksiekoste vir mielies vir die komen-

de seisoen (2017/2018) vir verskillende produserende gebiede aan.

In die westelike dele van die land word die produksiekoste vir ‘n

gemiddelde opbrengspotensiaal asook ‘n hoër opbrengspotensiaal

getoon, terwyl al die ander streke se koste op slegs ‘n gemiddelde

opbrengspotensiaal bereken is.

Volgens Graan SA se produksiekosteberekeninge wissel die ver-

anderlike koste van mielies vir verskillende produserende streke

byvoorbeeld vanaf R8 046 vir ‘n 4,5 t/ha-opbrengsmikpunt in die

Sentraal- en Noordwes-Vrystaat, R10 186 vir ‘n 5,5 t/ha-opbrengs in

Mpumalanga tot R27 638 vir ‘n 14 t/ha-opbrengsmikpunt vir mielies

onder besproeiing in die Noord-Kaap. Alhoewel vaste koste drasties

van produsent tot produsent verskil, word ‘n x-bedrag daarvoor

voorsiening gemaak om ‘n beraamde totale produksiekoste te

bereken.

Indien slegs veranderlike koste bestudeer word, kan die afleiding

gemaak word dat produsente, teen die huidige Safex-pryse, in die

meeste van die streke nie hul veranderlike koste sal kan dek nie – en

vaste koste is dan nog nie eers in ag geneem nie. Die Julie 2018

Safex-prys (R2 000) is dus minder as die meeste streke se verander-

like koste (R/ton) vir mielieproduksie.

Die Safex-gelykbreekprys (vaste plus veranderlike koste) vir die

genoemde produksie-omgewings wissel heelwat hoër as die hui-

dige Julie 2018 Safex-prys. Volgens Graan SA se produksiekoste-

berekeninge wissel dié Safex-gelykbreekprys tussen R2 533/ton

en R2 942/ton – afhangende van die omgewing.

Die Safex-gelykbreekprys was slegs laer as die Julie 2018 Safex-

prys vir die hoër opbrengsmikpunt van Sentraal- en Noordwes-

Vrystaat. Dit beteken in kort dat mielies, wat die komende seisoen

op marginale gronde aangeplant word, nie winsgewend behoort

te wees nie.

Teen die heersende mieliepryse behoort tot topproduksiegebiede

nie ‘n wins te maak nie, omdat die mielieprys laer as die pro-

duksiekoste daarvan is. Die oordragvoorrade is eenvoudig net

te groot – wat pryse onbepaald tot en met die komende seisoen

onder druk kan hou.

OP PLAASVLAK

Beplanning / Produksiebegrotings

Bestuurspraktyke

PETRU FOURIE,

navorsingskoördineerder en produksiekoste-analis, Graan SA

OPBRENGS

(T/HA)

VERANDERLIKE

KOSTE

(R/HA)

VASTE KOSTE

(R/HA)

TOTALE

PRODUKSIE-

KOSTE

(R/HA)

SAFEX- GELYK-

BREEKPRYS

(SONDER VK)

(R/HA)

SAFEX-GELYK-

BREEKPRYS

(VK INGESLUIT)

(R/HA)

WESTELIKE DELE VAN DIE LAND

Noordwes Provinsie

(gemiddelde opbrengs)

3,5

R6 816

R2 611

R9 427

R2 197

R2 942

Noordwes Provinsie

(hoër opbrengs)

4,5

R7 666

R2 611

R10 277

R1 953

R2 533

Sentraal- en Noordwes-Vry-

staat (gemiddelde opbrengs)

4,5

R8 046

R2 457

R10 503

R2 059

R2 605

Sentraal- en Noordwes-Vry-

staat (hoër opbrengs)

7,3

R10 053

R2 457

R12 510

R1 648

R1 985

OOSTELIKE DELE VAN DIE LAND

Oos-Vrystaat

4,5

R9 064

R2 599

R11 663

R2 319

R2 897

Mpumalanga

5,5

R10 186

R2 543

R12 729

R2 129

R2 591

BESPROEIING

Noord-Kaap besproeiing

14

R27 638

R6 937

R34 575

R2 305

R2 801

Limpopo besproeiing

12

R23 375

R7 305

R30 680

R2 138

R2 747

Safex-gelykbreekprys sluit die liggingsdifferensiaal en hanteringskoste vir daardie spesifieke streek in

VK= Vaste koste

TABEL 1: MIELIES: BERAAMDE PRODUKSIEKOSTE EN SAFEX-GELYKBREEKPRYS (2017/2018-PRODUKSIESEISOEN).

84