

29
March 2017
Dit stel plante in staat om die gebruik van sonstrale vir fotosintese
te maksimaliseer en die grondwater eerder te gebruik in die groei-
proses (sogenaamde “groen water”), as om dit deur verdamping
verlore te laat gaan.
Die Argentyne het reeds vasgestel dat die optimale tussenrywydte
vir bewaringslandbou 0,5 m of 0,52 m is. Die meeste plaaslike
rywydtes is 0,9 m of wyer met enkele produsente wat hul somer-
gewasse in nouer rye plant.
Resultate by Ottosdal
Resultate wat deur die Mielietrust-ondersteunde proefwerk van
die Ottosdal No-till-klub gedoen is, bevestig bogemelde. In die
Ottosdal-omgewing is die optimale stand van konvensioneel-
bewerkte mielies van 18 000 tot 24 000 plante per hektaar.
Al die plantestandproewe met mielies wat tot dusver gedoen is, dui
daarop dat die optimale stand in bewaringslandboustelsels – en
dus onder geenbewerking – hoër as 30 000 is – waarskynlik in die
omgewing van 35 000 tot 40 000 plante per hektaar.
In een van die geenbewerkingsproewe wat met sonneblom ge-
doen is, is die opbrengs nie deur die stand wat van 35 000 tot
50 000 plante per hektaar gewissel het, beïnvloed nie. In ‘n tweede
proef is die opbrengs wel beïnvloed, met die optimale stand in die
omgewing van 35 000 tot 40 000. Dit is tipiese resultate wat met
bewerkte grond verwag sou word en dui aan dat die optimale stand
vir sonneblom nie deur bewerking van die grond beïnvloed word nie.
Rywydtes is ook een van die aspekte wat deur die Ottosdal No-
till-klub ondersoek word. Interessante resultate is ook hiermee be-
haal. In 50% van die mielieproewe was die opbrengsverskil
tussen 0,75 m- of 0,9 m-rye aan die een kant en die 0,5 m-rye
aan die ander kant, onbeduidend. In 31% van die proewe het die
0,5 m-gespasieerde rye beduidend beter as die wyer rye gevaar en
in slegs 19% van gevalle het die wyer rye die bo-toon gevoer.
By ‘n rywydte van 0,5 m met ‘n 40 000 plantpopulasie is mielies se
tussen- en binneryspasiëring dieselfde. Elke plant is ewe ver van
sy twee buurplante binne dieselde ry en die buurplante van die
twee aanliggende rye. Dit is dus logies dat die ideale spasiëring
die tussenplantkompetisie so laag moontlik hou, terwyl die ver-
spreiding van die blaredak en wortels so eweredig moontlik behoort
te wees.
Sonneblom vaar ook beter in die 0,5 m- as die 0,9 m-gespasieerde
rye. Vier groot proewe wat tot 9,5 ha elk beslaan het, is reeds
met sonneblom gedoen. In dié proewe was die opbrengs van
die 0,5 m-rye gemiddeld 159 kg/ha hoër as die opbrengs van die
0,9 m-gespasieerde rye. ‘n Moontlike verklaring vir die resultaat is,
soos by mielies, ‘n minimalisering van tussenplantkompetisie en
eweredig-verspreide wortels wat die grondprofiel ten beste benut
vir water en voedingstowwe.
In al hierdie proewe met nouer rye en hoër stand is gesien dat
onkruid gouer deur die gewas oorskadu word as in wyer rye. ‘n
Gebrek aan sonlig tussen die mielieplante beteken dat die groei
van onkruid beperk word, die kompetisie wat die onkruid op die
gewas uitoefen verlaag en onkruidbeheer makliker word. Sommige
onkruide skiet glad nie saad nie.
Bevindings van die proefwerk by Ottosdal is nog nie finaal nie.
Genoegsame seisoenvariasie moet eers ingebou word voordat
finale gevolgtrekkings gemaak kan word. Verder is dit ook belang-
rik om daarop te let dat heelwat gewasproduksie-aspekte, soos
die plantestand, omgewingsafhanklik is.
Bewaringslandbou, waarvan geenbewerking, wisselbou en ‘n dek-
laag van oesreste die beginsels is, verander die omgewing – veral
die grond waarin die gewas verbou word. In Suid Afrika, waar
gronde meestal gedegradeerd is as gevolg van dekades se inten-
siewe bewerkingspraktyke, sal die verwagte positiewe impak op
grondgesondheid en opbrengs nie noodwendig onmiddellik reali-
seer nie en moet ‘n langtermynvisie gehandhaaf word.
Resultate sal ook afhang van hoe korrek hierdie bewaringsland-
boupraktyke toegepas word. Produsente wat dus elders van
konvensionele bewerking na bewaringslandbou oorskakel, behoort
soortgelyke proefwerk te doen om die optimale plantestand van
gewasse in daardie omgewing te bepaal.
Sonneblom en mielies naby Ottosdal in 0,5 m-gespasieerde rye teen 40 000 plante per
hektaar. Onkruid het nie veel van ‘n kans om skade te doen met só ‘n blaredak nie.