Background Image
Previous Page  88 / 108 Next Page
Basic version Information
Show Menu
Previous Page 88 / 108 Next Page
Page Background

Julie 2017

86

Spanbenadering van

landboukundige en produsent

essensieel vir sukses

P

rodusente sê dikwels dat hulle nie veel vertroue het in die

raad wat landboukundiges verskaf nie. In ekstreme gevalle

kom ‘n mens ook produsente teë wat geensins van advi-

seurs gebruik maak in die besluite wat op die plaas geneem

word nie.

Daar is talle grondige redes vir hierdie toedrag van sake en daar is

waarskynlik net soveel grondige redes waarom landboukundiges

van tyd tot tyd met hulle hande in hul hare sit omdat hul advies

op dowe ore geval het – of nie die resultate opgelewer het wat dit

moes nie.

Wêreldwyd is dit ‘n algemene verskynsel dat produsente op die

een of ander wyse van die kundigheid wat by vakkundiges opgesluit

lê, gebruik maak. Hierdie spesialiste het gewoonlik almal ‘n waar-

devolle kombinasie van teoretiese kennis en praktiese ervaring in

hul mondering.

Dit word oor die jare heen verder versterk deur die diepgaande

ondervinding wat in hul betrokke spesialisveld opgedoen word

– hetsy die geografiese area waarin hulle werk of die onderwerp

waarin hulle spesialiseer.

Dit is uiters noodsaaklik dat beide die produsent en die landbou-

kundige dieselfde vertrekpunt moet hê om die regte vrae te vra en

om sodoende die regte advies te verskaf. Indien dit nie die geval

is nie, sal die advies nie geïmplementeer word nie of die verkeerde

resultate sal verkry word.

Waar begin ‘n mens?

‘n Produsent wat al jare op sy grond boer, het ‘n diepgaande kennis

van sy grond. Hierdie kennis word opgebou deur ‘n fyn waarne-

mingsin, asook gewas- en kuddeprestasie waarvan hy deeglike

kennis besit.

‘n Groot aantal produsente kan byvoorbeeld ‘n klipkol in ‘n land

akkuraat uitwys, sonder dat hy grondkartering op sy plaas laat

doen het. Hy weet dus reeds dat daar ‘n onderpresterende gedeelte

is, asook die redes daarvoor.

Behalwe vir die produksiekennis, weet die produsent presies hoe

dit met die finansies staan. Hierdie kennis is net so belangrik as die

produksiekennis, omdat die beskikbare finansies sal bepaal wat,

waar en hoe geproduseer moet word.

Die produsent is ook terdeë bewus van waarheen die besigheid op

pad is. Moet daar dalk uitgebrei, ingekrimp, krediet verminder en

risiko verlaag word?

Dit is alles aspekte wat die advies gaan beïnvloed. Die produsent

se voorkeure is net so belangrik. As die produsent byvoorbeeld

nie van die verbouing van droëbone hou nie, sal daar met moeite

‘n sukses daarvan gemaak word.

In teenstelling met bogemelde feit, is die landboukundige op ‘n

uiters beperkte wyse blootgestel aan die eienskappe van die

hulpbron en moet daar dikwels staat gemaak word op brokkies

inligting wat moontlik ‘n rol in die aanbeveling gaan speel.

Die verantwoordelikheid val hier beslis op albei se skouers. Vir

die adviseur om ‘n wetenskaplik-gefundeerde aanbeveling te kan

doen, moet al die relevante feite bekend wees en moet die produ-

sent in alle opsigte ywerig meewerk om die feite te verskaf. Alleen

dán kan albei partye verseker wees daarvan dat die feite weten-

skaplik behoorlik oorweeg en toegepas is.

In die praktyk beteken dit dat die produsent alle beskikbare inlig-

ting, soos grondkarteringsinligting, chemiese ontledings, name

van kultivars en plaagbeheermiddels wat gebruik is, onkruiddoder-

programme gevolg en toepaslike datums eerlik moet kan verskaf

indien dit relevant is. Die adviseur moet ook deel in die produsent

se toekomsbeplanning en stand van finansies.

Dit is uiters belangrik dat die produksievermoë van die hulpbronne

bekend moet wees. Die gronde se effektiewe dieptes, kleipersen-

tasie en langtermynreënval sal gebruik word om die produksie-

potensiaal te bepaal. Met al die inligting beskikbaar en bekend,

kan ‘n holistiese benadering gevolg word om die hulpbronne te

optimaliseer en die besigheid se wins te maksimaliseer.

Die verhouding tussen die

adviseur en produsent

Boerdery het in afgelope aantal dekades daadwerklik verander

en is allermins nog die ongekompliseerde, nie-gejaagde bestaan

van jare gelede. Die produsent is deesdae die bestuurder van

‘n onderneming wat toenemende finansiële druk ervaar weens

krimpende marges. Hiermee saam is ‘n ellelange lys van wetlike

voorskrifte waaraan daar voldoen moet word en wat heelwat tyd

in beslag neem.

Die hedendaagse moderne produsent het daarom geen ander

keuse nie as om sy eie tyd en bestuursvermoëns te “rek” deur

gebruik te maak van ‘n span kundiges om sy onderneming op die

regte pad te hou. Die landboukundige moet nou in dieselfde kon-

teks as die arbeidskonsultant, die finansiële adviseur, die prokureur

en die rekenmeester beskou word.

Meer as een paar oë wat op die toekoms gerig is en op dieselfde

doelwitte fokus, sal die besigheid beslis verbeter. Waar plaas dit die

produsent se verhouding met die landboukundige?

Produsente moet hul langtermynplanne sorgvuldig met die advi-

seur kan deel en daarom is dit belangrik dat die regte adviseurs

gekies word. Uiteraard kan dit nie anders as dat daar ‘n pad met die

landboukundige geloop word nie.

Ideaal gesproke moet dit ‘n lang pad wees, waar die professionele

verhouding later omskep word in ‘n vriendskapsverhouding waar-

binne die uiterste vertroue in mekaar en ‘n gedugte spanbenadering

hoogty vier.

OP PLAASVLAK

Landboukundiges / Kundigheid / Advies

Bestuurspraktyke

ARNO VAN VUUREN,

bestuurder: Landboubestuursdienste, NWK Beperk