Julie 2017
82
OP PLAASVLAK
Bestuurspraktyke
Om humus te vorm is grondorganismes (soos byvoorbeeld bak-
terieë) nodig en om effektief te werk, word klam grond en optimale
temperature verlang.
Hoe beweeg water in grond?
Faktore soos gravitasie en kapillêre kragte speel die hoofrol in
die beweging van water deur die profiel. Afwaartse beweging
word hoofsaaklik deur gravitasiekrag bewerkstellig. Grond is by
veldwaterkapasiteit wanneer dit met water versadig is, maar geen
vrywater bevat nie.
Alles meer as veldwaterkapasiteit beweeg in die grondprofiel af
onder gravitasiekrag of loop op die oppervlakte weg. Die benat-
tingsfront is daarom altyd by veldwaterkapasiteit na benatting.
Water beweeg opwaarts en sywaarts met kapillêre kragte. Die ka-
pillêre krag is groter in kleiner porieë.
Sodra die porieë in die grondoppervlakte vergroot soos met ‘n
deklaag (los grondlaag, strooi-deklaag of ‘n laag kleinerige klippies)
word die kapillêre beweging vertraag of gestaak en oppervlakver-
lies word verminder. ‘n Verdigte grondlaag word gekenmerk deur
klein porieë.
Water beweeg stadig deur hierdie porieë, wat ‘n opdam-effek bo
die verdigting veroorsaak en ‘n tydelike versuiptoestand skep
wat baie nadelig vir wortelfunksies is. Dit is ‘n goeie idee om die
effektiwiteit van reënbuie te meet deur vas te stel hoe diep elke
bui die grond benat.
Plantvoeding
‘n Effektiewe bemestingsplan word beïnvloed deur die opbrengs-
potensiaal van die gewas, die plant se voedingsbehoeftes, fisiese
grondeienskappe, verdeling van voedingstowwe oor die groei-
periode heen en spesifieke vereistes vir graankwaliteit.
Bemesting volgens grondontledings en opbrengspotensiaal is
krities vir optimale wortelfunksies en opbrengs. Gedurende die
groeiseisoen moet inspeksiegate gemaak word om wortelversprei-
ding te bepaal om sodoende sub-optimale benutting van die
grondprofiel vas te stel vir latere regstelling.
Onthou die boonste 30 cm- tot 40 cm-grondlaag is die vrugbaarste
deel op die plaas en dit dra die meeste by tot opbrengs. Vertroetel
derhalwe hierdie grondlaag. Indien voedingstowwe soos fosfor
en kalk wat nie loog nie, nie deeglik met die bogrond gemeng
word nie, kan dit op die lange duur veroorsaak dat hierdie grond-
laag sub-optimaal deur wortels benut word.
Vir optimale graanopbrengs moet grond in staat wees om die no-
dige voedingstowwe aan die plante te voorsien. Dit is belangrik dat
produsente die voedingstowwe wat deur die gewas uit die grond
verwyder gaan word, weer terugsit.
Die hoeveelheid plantvoeding wat toegedien moet word, word
bereken deur die onttrekking van die verskillende voedingselemente
per ton graan. In
Tabel 1
word ‘n aanduiding gegee van die ont-
trekking van voedingselemente per ton graan met 12,5% proteïen
en 13% vog.
Die halms, wortels en blare van ‘n koringplant benodig tussen 40 kg
en 60 kg N/ha vir ‘n opbrengs van 10 t/ha en hoër.
Grondmonsters vir ontleding moet verkieslik in die hoë sowel as
lae potensiaalareas van ‘n land (soos uitgewys deur die stroper
se opbrengsmonitor) getrek word en vir afsonderlike ontleding
gestuur word. Sulke ooglopende areas moet ook afsonderlik be-
stuur word.
‘n Goeie praktyk is om die GPS-koördinate van hierdie posisies
te neem sodat blaarmonsters by vlagblaarstadium op dieselfde
plekke vir ontleding geneem kan word. Die koördinate help ook
om die grondmonsters elke jaar op dieselfde plek te neem om
‘n idee te vorm van hoe die voedingstatus oor jare verander en hoe
dit vergelyk met die opbrengs van hierdie areas.
Op hierdie wyse word ‘n idee gevorm van die interaksie van die
plant/grond/voedingskompleks. Dit is ook ‘n goeie idee om moont-
like probleme van die grond in lae produserende areas vas te stel
vir moontlike regstelling, asook om dit te vergelyk met die hoë
produserende areas. Hierdie is die basiese beginsels van presi-
sieboerdery en is die enigste manier om insette en uiteindelike
produksie behoorlik te bestuur.
Die vermoë van die plant om fosfor (P) op te neem, word groot-
liks bepaal deur die verspreiding van wortels relatief tot waar die
P in die grond is. Die wortels moet dus na die P toe groei. Daarom
sal enige faktor wat wortelgroei beperk, soos verdigte lae, water-
tekorte, lae pH, onkruiddoder- en insekskade, ook P-opname beperk.
Grondsuurheid speel ‘n belangrike rol in die plantbeskikbaarheid
van P wat die oplosbaarste in die pH-reeks van 6 tot 7 is. Alles in ag
genome moet P goed met die grondlaag (0 cm - 40 cm) vermeng
wees om goeie opname deur die groeiseisoen heen te verseker.
In die geval van minimum- en geenbewerking moet hierdie eien-
skappe van P in ag geneem word en die nodige regstellings ge-
doen word voordat daar na hierdie praktyke oorgeskakel word.
Dit geld vir alle elemente wat nie loog nie.
Die hoeveelheid en verdeling van voedingstowwe, veral stikstof
(N), oor die groeiseisoen heen word ook deur die klei-inhoud en
voedingstatus van die grond bepaal. Hoe meer sanderig die grond
is, hoe minder word N vasgehou (hoe makliker loog dit) en hoe
belangriker word dit om N oor die groeiseisoen heen te verdeel.
Normaalweg word die N-bemesting oor die groeiseisoen heen
versprei, met die laaste toediening rondom vlagblaarstadium,
maar N kan ook met blom toegedien word in gevalle waar die
opbrengspotensiaal hoër is as wat aanvanklik beraam is. Soms kan
dit voordelig wees om mikro-elemente ook gedurende hierdie laat
groeistadium as ‘n blaarvoeding toe te dien.
N-bemesting wat met plant toegedien word, bevorder veral halm-
produksie terwyl N-toediening na die aanvang van stamverlenging
belangrik is om die lengte en breedte van die aar te bevorder.
Die lengte en breedte van die aar word sowat sewe weke na op-
koms oor ‘n periode van ongeveer twee weke bepaal. Die lengte
word eerste gevorm, gevolg deur die breedte.
N – 22 kg/ton
Cu – 50 g/ton - 10 g/ton Ca – 3,0 kg/ton
Zn – 15 g/ton - 30 g/ton
P – 3,8 kg/ton
Fe – 40 g/ton - 50 g/ton S – 2,5 kg/ton
K – 4,3 kg/ton
Mn – 30 g/ton - 40 g/ton Mg – 2,2 kg/ton
TABEL 1: ONTTREKKING VAN VERSKILLENDE VOEDINGSELEMENTE PER TON GRAAN.
‘n Ketting met ‘n swak skakel is ‘n stukkende ketting