Background Image
Previous Page  79 / 108 Next Page
Basic version Information
Show Menu
Previous Page 79 / 108 Next Page
Page Background

77

July 2017

Die plaaslike kommoditeitspryse verhandel grootliks tussen die

in- en uitvoerpariteitspryse – afhangende van die huidige situasie

in die mark. Gedurende tye wanneer daar tekorte in die land is, sal

die pryse nader aan die invoerpariteitsprys verhandel, terwyl

dit weer nader aan die uitvoerpariteitsprys sal verhandel in tye

wanneer ‘n oorskot van die graan plaaslik beskikbaar is.

Die oliesademark het egter ‘n derde komponent wat grootliks

deel vorm van die prysstrukture. Hierdie komponent word die

afgeleide prys genoem. Die afgeleide prys verwys na wat dit sal

kos om die produkte wat van die verwerking van oliesade verkry

word (met ander woorde die olie en die oliekoek) apart in te voer.

Hierdie prys word grootliks bepaal deur die internasionale

kommoditeitspryse, die olie- en oliekoekprys internasionaal en

die wisselkoers.

Markinligtingsbronne

Daar is verskeie inligtingsbronne wat deur die verskeie markdeel-

nemers gebruik word om die markte te ontleed, waardeur vasgestel

kan word wat die moontlike risiko’s in die mark is.

Hierdie inligtingsbronne sluit verslae vanuit verskeie oorde in:

Amptelike regeringsverslae, verslae van produsente-organisasies

en nie-winsgedrewe instansies, internasionale agentskappe, asook

markontledings deur plaaslike makelaars. Die verslae word maan-

deliks, weekliks en daagliks vrygestel en die gerapporteerde in-

ligting word gebruik om menings oor toekomstige prysrigting

te ontwikkel.

Dit is egter vir markdeelnemers noodsaaklik om alle moontlike

inligting te verkry en te ontleed ten einde die bes moontlike bemar-

kingsbesluit te neem. Hierdie inligting sluit beide die internasio-

nale en plaaslike inligting in en sommige van die inligtingsbronne

en gebruike daarvan word vervolgens bespreek.

Internasionale inligting

Die internasionale inligting wat oorweeg word, sluit daaglikse,

weeklikse en maandelikse inligting in. Die daaglikse inligting is

hoofsaaklik die internasionale prysbewegings en hoe die pryse die

vorige dag in die internasionale mark verhandel het (hoofsaaklik

Amerikaanse pryse).

Dit kan ‘n goeie aanduiding bied van wat moontlik die betrokke

dag met plaaslike pryse kan gebeur, alhoewel dit in gedagte gehou

moet word dat die plaaslike pryse nie die internasionale pryse

slaafs navolg nie en dat verskeie ander faktore ook bydra tot die

prysbewegings in die plaaslike mark.

Die weeklikse verslae sluit hoofsaaklik die Amerikaanse Departe-

ment van Landbou se produksievorderingsverslae in. Hierdie ver-

slae toon op ‘n weeklikse basis deur die loop van die seisoen (van

planttyd tot en met strooptyd) die vordering van die Amerikaanse

produksie.

Dit sluit in die tempo waarteen die aanplantings plaasvind, pro-

duksietoestande uitgedruk as ‘n persentasie van swak tot uitste-

kend, asook die tempo waarteen die stroopproses plaasvind. Dit

gee bruikbare inligting deur, wat gebruik kan word om afleidings te

maak rakende die moontlike Amerikaanse aanbod vir die seisoen

(Amerika is die grootste produserende land van verskeie grane

en oliesade).

Die maandelikse verslag is die wêreldvraag-en-aanbodverslag

wat deur die Amerikaanse Departement van Landbou vrygestel

word. Dit is ‘n skatting van wat die verwagte wêreldproduksie en

-verbruik vir ‘n spesifieke seisoen is.

Hierdie verslag is ‘n goeie aanduiding van wat verwag kan word

wat die internasionale pryse oor die algemeen betref en ook waar

geleenthede vir ander markte gedurende ‘n seisoen kan ontstaan.

Ander algemene internasionale inligting om in ag te neem, is

algemene weerstoestande in produserende lande, asook die

ekonomiese en beleidsaspekte van dié lande wat ‘n impak op die

internasionale pryse kan hê.

Plaaslike inligting

Plaaslik is dit belangrik om vertroud te wees met die marksamestel-

ling en alhoewel dit in soms klink na algemene kennis, is dit vir

produsente tog belangrik om dit in perspektief te sien en jouself af

te vra wat die inligting wat jy het, beteken.

Kennis oor produksieseisoene, asook die gewasse wat waar aan-

geplant word, is waardevolle inligting om in ag te neem wanneer

bemarkingsbesluite geneem word. Indien jy vertroud is met die

produksieseisoene in verskillende streke, asook met die gewasse

wat daar verbou word, kan produsente deur omstandighede in die

verskillende streke te bestudeer en dit in konteks te oorweeg, ‘n re-

delike goeie oorsig kry van wat moontlik die jaar verwag kan word.

Dit is ook belangrik dat produsente die land se algehele produksie-

omstandighede moet sien en nie net op sekere gedeeltes en/of eie

streke sal fokus nie.

Ander belangrike plaaslike verslae is die Nasionale Oesskattings-

komitee se skattings wat elke maand gedurende die groeiseisoen

van die verskillende gewasse bekendgemaak word. Die komitee

het hulself al oor die jare bewys as geloofwaardig en akkuraat en

hul verslae bied uitstekende inligting.

Die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens, beter bekend as SAGIS,

stel ook verskillende verslae op weeklikse en maandelikse basisse

vry. Hierdie verslae sluit die weeklikse in- en uitvoersyfers van

mielies en koring, asook die weeklikse mielie- en koringprodusente-

lewerings in.

Maandelikse verslae sluit algemene vraag-en-aanbodsyfers van

grane en oliesade wat heelwat meer gedetailleerde inligting ra-

kende die aanbod, verwerkings en ander faktore soos in- en uit-

voere bevat, in. Hierdie inligting is van kardinale belang vir die

bedryf en die werking van die mark en bruikbare ontledings kan

hieruit gemaak word.

SAGIS publiseer ook produktesyfers vir mielies, koring en oliesade

en hierdie syfers korreleer uitstekend met mekaar – wat dui op die

akkuraatheid van die SAGIS-inligting.

Ander verslae wat op ‘n daaglikse, weeklikse en maandelikse basis

versprei word, is algemene markverslae van verskeie organisasies

soos Graan SA, verskeie landboumaatskappye en ander organisa-

sies wat belange in die graanmark het.

Hierdie verslae sluit meer fundamentele inligting van wat in die

markte plaasvind, in. Dit is belangrik dat produsente van hierdie

verslae gebruik maak wanneer hulle bemarkingsbesluite neem.

Hierdie verslae sluit ook maandelikse vraag-en-aanbodprojeksies

in, wat uiters waardevolle inligting verskaf soos die verwagte

aanbod, verbruik, invoere en uitvoere (indien nodig), asook die

geskatte eindvoorraadvlakke van die verskillende gewasse vir die

betrokke bemarkingsjaar.

Ten slotte

Bemarkingsbesluite kan, as een van verskeie aspekte wat belangrik

is vir goeie langtermyn-volhoubare produksie, beslis ook ‘n reg-

merkie ontvang. Goed-deurdagte bemarkingsbesluite begin by

die nodige kennis en ‘n vertroudheid met die werking van die mark

en markinstrumente.

Oor die duur van die volgende paar maande sal opeenvolgende

artikels die beginsels en toepassing van die instrumente wat be-

skikbaar is en die opsies wat oorweeg kan word, verduidelik.

Deel 2 (wat in die Augustus-uitgawe verskyn) handel oor die risiko’s

wat oorweeg moet word.