

Desember 2016
26
Hoëveld ideaal vir
geenbewerking
T
e oordeel aan die bevindings van ‘n omvattende interna-
sionale studie is die Hoëveldklimaat, waarbinne die somer-
saaigebied lê, besonder gunstig vir opbrengsverhogings
met geenbewerking. Om sukses met geenbewerking te
behaal, moet dit nie in isolasie toegepas word nie, maar saam met
twee praktyke van bewaringslandbou, te wete die behoud van ‘n
deklaag van oesreste en die toepassing van wisselbou.
Akkerboukundige handboeke van sowat 90 jaar gelede het grond-
bewerking as ‘n vereiste vir suksesvolle gewasproduksie beskryf.
Die hoofdoel was om die grond los te maak (
to pulverise the soil
).
Grond word ook bewerk om gewasreste in te werk, onkruid te
vernietig, kompaksie en grondkorse op te hef, die waterinfiltrasie-
tempo tydelik te verhoog en chemikalieë soos kunsmis en kalk in
te werk.
Intussen is bevind dat bewerking wat die grond losmaak ver-
skeie ernstige nadelige gevolge het. Die eerste nadelige gevolg
is die vernietiging van grondkoolstof – wat onmiddellik ‘n afname
of vernietiging van die grond se struktuur en aggregaatstabiliteit
meebring.
Die resultaat hiervan is onder andere ‘n skerp afname in die grond
se infiltrasie- en waterhouvermoë, asook ‘n toename in waterafloop
en die grond se erosietempo – wat in die meeste gevalle onder
graanverbouing in Suid-Afrika die grondvormingstempo ver oortref.
Die uiteindelike nadelige gevolg is ‘n afname in die kwaliteit of
gesondheid van die grond weens die versteuring van die grond se
ekologie. Eenvoudig gestel verloor die grond sy vermoë om self te
herstel, te verbeter en vrugbaar te bly – en dus ‘n ononderhandel-
bare deel van sy produktiwiteit.
Een van die resultate hiervan is ‘n verhoging in die voorkoms van
plae en siektes wat gewoonlik ongesiens die produktiwiteit van
gewasse benadeel. Kortom is besef dat bewerking, ten spyte van
die praktiese voordele wat dit inhou, die langtermynvolhoubaar-
heid van graanproduksie ernstig ondermyn.
Sommige landbouers het tot die besef gekom dat geenbewerking
(of minimale grondversteuring) al manier is om dié ondermy-
ningsproses om te keer, die grond te bewaar, te verbeter en vol-
houbare graanproduksie te bevorder. Weens die toegewyde ywer
van dié landbouers het bewaringsbewerking eers die lig gesien
– en meer onlangs bewaringslandbou met geenbewerking (of
minimum grondversteuring) – as een van drie beginsels wat saam
toegepas word.
Die strewe na volhoubaarheid in die landbou het só toegeneem
dat bewaringslandbou tans op ‘n geskatte 157 miljoen ha wêreld-
wyd toegepas word. In Suid-Afrika word ongeveer 1,75 miljoen ha
grond deur bewaringslandbou benut, waarvan die grootste ge-
deelte in die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal is (rondom 80%), terwyl
gemiddeld rondom 20% van produsente in die Hoëveld dit toepas.
Geenbewerking op sigself het bewese besigheidsvoordele indien
dit met tradisionele bewerking van die grond vergelyk word. Die
belangrikste voordeel is dat geenbewerking ‘n aansienlik kleiner
belegging in en bedryfskoste van trekkers en implemente vereis.
Die belegging in trekkers is gewoonlik minder as 50% van die
belegging in trekkers vir konvensionele bewerking. Vir ‘n groot
persentasie produsente is die belangrikste oorweging in die oor-
skakeling na geenbewerking geleë in die besparings.
Die vraag waarmee hierdie produsente aanvanklik worstel, is hoe
die graanopbrengs en ekonomie van gewasse gaan verander teen-
oor dít wat met konvensionele bewerking behaal word. Gaan dit
dieselfde bly, verhoog, of kan ‘n laer opbrengs en winsgewendheid
verwag word?
Vir die ekonomiese voortbestaan van die produsent is hierdie
vraag krities, want dikwels word geenbewerking as besparings-
maatreël geopper sonder dat ‘n uitspraak oor die verwagte op-
brengs- of winsverandering gemaak word.
Plaaslike navorsing oor wat met graanopbrengste gebeur indien
van konvensionele grondbewerking na geenbewerking oorge-
skakel word, is onvoldoende. In 2015 is ‘n plaaslike studie gedoen
wat aandui dat konvensionele landbou se winsgewendheid oor
die volgende dekade in duie gaan stort, terwyl bewaringsland-
bou die vermoë het om graanverbouingstelsels weer te stabiliseer
en winsgewend te maak (Blignaut
et al
., 2015).
Gedurende 2015 het ‘n groep internasionale landboukundiges ‘n
studie voltooi en gepubliseer waarin die opbrengsresultate van
678 geenbewerkingsproewe wat in 63 lande uitgevoer is, saamge-
vat word (Pittelkow
et al
., 2015). Die gevolgtrekkings van dié studie
is uiters interessant, bevestig sekere vermoedens en is besonder
bemoedigend vir graanproduksie in die Hoëveldklimaatstreek.
Die eerste bevinding is dat omgewingsfaktore die opbrengs van
geenbewerkte – in vergelyking met konvensioneel-bewerkte – ge-
wasse sterk beïnvloed. Geenbewerking, in vergelyking met konven-
sionele bewerking, kan gevolglik onder bepaalde omstandighede
tot ‘n opbrengsverhoging aanleiding gee, elders geen verandering
meebring nie of in ander omstandighede tot ‘n daling lei. Die om-
standighede waarna hier verwys word, is die geografiese ligging
en klimaat.
Volgens die studie is die opbrengste van geenbewerkte gewasse in
die nat semi-humiede klimaatstreke van die trope gewoonlik laer as
dié van konvensioneel-bewerkte gewasse. In die droë semi-ariede
klimaatstreke van die subtrope daal opbrengste nie, maar is dit gelyk
aan of hoër as opbrengste met konvensioneel-bewerkte gewasse
weens, onder andere, die verbetering in die onderskepping, bewa-
ring en gebruik van reënwater.
Hierdie bevinding is goeie nuus vir die Hoëveldklimaatstreek waar
die meeste van ons mielies verbou word.
Die hele somersaaigebied is in die subtrope geleë en die klimaat
is droog – dit wil sê die gemiddelde jaarlikse evapotranspirasie is
meer as twee keer die jaarlikse gemiddelde reënval. Water, of dan
reën, is die belangrikste opbrengsbeperkende faktor vir graanver-
bouing in dié gebied.
Sommige bronne beskryf die klimaat as semi-aried terwyl ander
die oostelike Hoëveld as “droog semi-humied” beskryf. Uit ‘n
geografiese en klimatologiese oogpunt beskou, kan ons dus ver-
wag dat gewasse – waarskynlik met uitsonderings – beter onder
geenbewerking as onder konvensionele bewerking gaan presteer.
Van ons eie navorsingsresultate, wat meestal deur die Mielietrust
befonds en op plase gedoen is, bevestig hierdie bevinding.
OP PLAASVLAK
Geenbewerking / Hoëveld / Deklaag / Wisselbou
Bewaringslandbou
ANDRÉ NEL,
onafhanklike akkerboukundige en
HENDRIK SMITH,
bewaringslandboufasiliteerder: Graan SA