DIE
GRAAN- EN OLIESADEBEDRYF
VAN SUID-AFRIKA – ‘N REIS DEUR TYD
ႉႄ
Daar word beoog om nog meer soortgelyke projekte onder opkomende boere te
loods. Vir daardie doel sal die benadering by die bestaande twee studiegebiede
onder opkomende boere – een in die Bergville-distrik in KwaZulu-Natal en die
ander in die Matatiele-distrik in die Oos-Kaap – gebruik word om produsente met
die verbouing van mielies en peulgewasse by te staan.
Daar word verder alreeds met die Graan SA se Ontwikkelende Landboupro-
gram (Farmer Development Programme) gewerk om bewaringslandbou by hulle
studiegroepe te implementeer. Die Program se klem sal dus ook tot ’n groter mate
na bewaringslandbou verskuif omdat die praktyk soveel voordele ook vir opko-
mende boere inhou.
Die stelsel
Bewaringslandbou word gesien as die ideale stelsel vir volhoubare en omgewings-
vriendelike intensifisering in landbou, waardeur produsente hoër produktiwiteits-
vlakke en winsgewendheid kan bereik en terselfdertyd grondgesondheid en die
omgewing verbeter. Dit is ’n stelsel wat uit drie beginsels bestaan, wat verkieslik as
een geheel geïmplementeer moet word:
• Verminderde meganiese versteuring van die grond.
• Gewasdiversifikasie, insluitende rotasie en die gebruik van dekgewasse. Die
siening is dat hoe meer gewasse in ’n rotasiestelsel gebruik word, hoe beter is
die resultate.
• Permanente organiese grondbedekking.
Wanneer daardie beginsels gelyktydig en behoorlik deur ’n produsent toegepas
word, beïnvloed dit veral sy grondgesondheid, wat stabiliteit in die hand werk ten
opsigte van produksie (deur die negatiewe effek van ongunstige klimaatstoestande
teen te werk), inkomste en winsgewendheid, arbeidspraktyke, ensovoorts.
’n Belangrike voordeel van bewaringslandbou is dat dit die gronddegradasieproses
stop en bydra tot die herstel van die grond se vrugbaarheid. Dit lei daartoe dat pro-
dusente kunsmis meer optimaal kan toedien en dat die gebruik van chemikalieë,
soos pes- en onkruiddoders, oor die algemeen kan verminder, terwyl oesopbrengs-
te stabiliseer en oor die lang termyn selfs kan verhoog.
Kundiges verduidelik dat, indien die agro-ekologiese stelsel ten opsigte van graan-
verbouing verbeter, dit veroorsaak dat meer positiewe mikro-organismes in die
grond gevorm word wat die negatiewe mikro-organismes, wat siektes veroorsaak,
teenwerk. Biodiversiteit word sowel bogronds as in die ondergrond verbeter sodat
die balans in beide gevalle deur die aanhoudende toepassing van die bogenoemde
drie beginsels, herstel word.
Bewaringslandbou hou ook ander voordele in, wat ’n bydrae tot langtermynvolhou-
baarheid van boerderyeenhede maak. Dit gaan byvoorbeeld gewoonlik gepaard
met goeie algemene boerderybestuur, soos tydsbeplanning, grond- en vogbe-
stuur, gebruik van kwaliteit saad en gekoördineerde bestuur van siektes, plae,
onkruid en kunsmis. Integrasie van ’n veefaktor speel ook ’n belangrike rol in die
verbetering van grondgesondheid.
Spoorverkeer/Rip-op-die-rystelsel
Die toepassing van bewaringslandbou verskil volgens die tipe grond waarop
gewerk word. Dit is aansienklik makliker om te implementeer op grond met ’n hoër
klei-inhoud en hoër reënvalgebiede en baie moeiliker onder droër toestande en
sandgronde, soos wat tipies aangetref word in veral die Noordwes-Vrystaat en
dele van die Noordwes Provinsie waar diep watertafelsandgronde aangetref word.
Indien daar werklik baie sand is en die gebied baie droog is, moet die grond eers
biologies opgebou word alvorens bewaringslandbou suksesvol toegepas kan
word. Die mate van gronddegradasie en die verdigting in die ondergrond van daar-
die gebiede maak dit tans nodig om van ’n rip-op-die-rystelsel gebruik te maak. Dit
is die praktyk om grondverdigting op te hef deur gebruik te maak van skeurploeë
of ripploeë en dan op die rip-ry te plant, sonder dat enige ander deel van die grond
versteur word. Dit word tans oor die algemeen aanvaar as die beste praktyk op die
diep sandgronde in die droër gebiede van Suid-Afrika se graanverbouingsarea.