September 2015
90
vir die 2015-grondboonplantseisoen gedoen?
E
lke jaar bring sy eie uitdagings. Hetsy dit droogte is of ‘n laat
koue, daar is maar altyd een of ander struikelblok waaroor
elke grondboonprodusent moet gaan. Dit is belangrik om op
die uitkyk te wees daarvoor om sodoende struikelblokke te
systap en die weg voor te berei vir ‘n goeie plantseisoen.
Die beginpunt van ‘n goeie seisoen, is ‘n goeie wisselbouprogram.
Dit is uiters noodsaaklik om te weet op watter lande daar aange-
plant gaan word en wat die geskiedenis van daardie lande is. Dit in
ag genome, behoort ‘n goeie rekordstelsel die wonder oor watter
chemiese middels toegedien is, uit die weg te ruim.
Maak seker dat onthoudingstydperke wat op seker middels geplaas
is, noukeurig nagekom word. Wanneer daar gepraat word van ‘n
wisselboustelsel met grondbone, hou in gedagte dat hier ‘n ver-
melding gemaak word van drie tot vier somergroeiseisoene.
Die gewenste wisselboustelsel sal soos volg wees: Grasgewas
(mielies) – olie-/peulgewas (grondbone) – grasgewas (mielies) – olie-/
peulgewas (sojabone of sonneblom). Moenie die fout maak om ‘n
olie-/peulgewas direk ná mekaar aan te plant nie, aangesien hier-
die kombinasie wel noodlottige siektedruk tot gevolg het.
Kultivarkeuse gaan hand aan hand met dít wat die produsent ver-
kies om te plant en watter kultivars deur die prosesseerder
beskikbaar gestel word in die vorm van beskikbare saad. Daar
moet ook in gedagte gehou word dat dit beter is om meer as een
kultivar te plant, maar daarby kom die verantwoordelikheid in om
hierdie kultivars van mekaar geskei te hou vanaf planttyd, regdeur
die oestyd tot nadat dit gelewer is.
Naspeurbaarheid is deesdae die wagwoord. Produsente moet ook
kwaliteit saad plant. SANSOR-gesertifiseerde saad verseker die
produsent daarvan dat saad wat deur die saadsertifiseringskema
gegaan het, voldoen aan die vereistes van suiwerheid en kiem-
kragtigheid.
Grondontledings op die plaas het ‘n belangrike werktuig geword
waarsonder die hedendaagse produsent nie kan klaarkom nie. Vir
die grondboonprodusent is dit net so belangrik. Met een wysiging
moet hy weet wat gaan aan in die 30 cm- tot 60 cm-vlak van die
grond. Dít is die diepte waarop die grondboonplant die meeste
van sy voedingselemente uittrek. Die stelling “grondbone gebruik
geloogde kunsmis wat buite bereik van jou ander gewasse is,” is
so waar.
Dit is wel baie belangrik om kalsium toe te dien aangesien grond-
bone kalsium direk deur die peul opneem. Gipstoediening is uiters
belangrik sodat daar genoegsame kalsium teenwoordig sal wees
binne die peulsone wanneer peulvorming begin.
Voor-opkomsonkruidbeheer is baie belangrik by grondbone. Die
korrekte dosering en korrekte toediening gee gemoedsrus deur die
seisoen en bespaar op insetkoste. Vir enige grondboonprodusent,
hetsy gevestig of ‘n beginner, is beplanning aan die begin van elke
seisoen noodsaaklik.
Onthou:
Wees op hoogte van wat die heersende weerstoestande is.
Woon boeredae by om die nuutste inligting rondom kultivars en
tegnologie te bekom.
Gebruik die tegnologie wat tot jou beskikking is om
op hoogte te kom met die nuutste verwikkelinge.
Vooruitgang kom deur navorsing.
Sorg vir jou grondbone en hulle sorg vir jou.
OP PLAASVLAK
Grondbone / Struikelblokke / Wisselbouprogram
Bestuurspraktyke
LOUREINE SALOMON,
LNR-Instituut vir Graangewasse
“
Maak seker dat onthou-
dingstydperke wat op
seker middels geplaas is,
noukeurig nagekom word.
“
SA Graan/
Sasol Chemicals (Kunsmis) fotokompetisie
Vir enige grondboonprodusent, hetsy gevestig of ‘n beginner, is beplanning aan die begin van elke seisoen noodsaaklik.