Background Image
Previous Page  36 / 112 Next Page
Basic version Information
Show Menu
Previous Page 36 / 112 Next Page
Page Background

FOKUS

Diere

Spesiale

Oktober 2016

34

Met bloedoortapping en met tuberkulientoetse vir tuberkulose

is besmetting ook moontlik. Minimale hoeveelhede bloed (een

honderdste van ‘n bloeddruppel – wat nie met die oog waargeneem

kan word nie) is nodig om die besmetting oor te dra.

Meganies kan beesleukemievirus deur die bloedsuiende steekvlieg

Tabanus fuscicostatus

oorgedra word. Daar is nog nie bewys dat

bosluise (byvoorbeeld hartwaterbosluis,

Amblyomma hebraeum

)

die virus meganies oordra nie.

Oordrag van die virus deur melk en biesmelk na kalwers is bewys.

Tans lyk dit nie asof liggaamsvloeistof of uitskeidings soos speeksel

en mis ‘n rol in besmetting speel nie. Die virus is ook nog nie tot

onlangs geïsoleer in semen of embrio’s nie. Kongenitale besmetting

(besmetting van kalf in baarmoeder) kom in 4% tot 8% van besmette

koeie se kalwers voor. Hierdie kalwers word dus met die besmetting

gebore.

Navorsing (Beuhring

et al

., 2015) het bewys dat beesleukemievirus-

besmetting ‘n assosiasie of verbintenis met borskanker in die mens

het. Daar moet nog net bewys word of die mens besmet is voor of na

borskanker voorgekom het en hoe dit plaasgevind het. Die virus kan

moontlik deur die inname van ongepasteuriseerde melk, halfgaar

vleis of deur mense wat reeds besmet is, oorgedra word.

Siektesimptome

Nadat die dier met beesleukemievirus besmet is, ontwikkel daar

binne twee tot drie weke teenliggame. Hierdie diere se bloed sal

positief vir ensoötiese beesleukose toets. Sigbare simptome in

besmette diere onstaan gewoonlik eers na drie jaar.

Drie tipes simptome of omstandighede word waargeneem:

Besmette beeste ontwikkel teenliggame (toets positief vir

ensoötiese beesleukose) en die simptome is onopvallend in

‘n sekere persentasie beeste. Hierdie beeste bly lewenslank

besmet, maar ontwikkel geen sigbare letsels nie.

30% en meer van die besmette diere ontwikkel ‘n blywende

limfositose (oormaat van limfosiete – wat ‘n sekere tipe wit-

bloedsel is). Hierdie vorm van besmetting gee nie tipiese

simptome van die siekte nie. Sommige koeie bly vir hul

produksieleeftyd in die voorkliniese siektestadium (geen sigbare

simptome nie) met blykbaar minimale effek op prestasie. ‘n

Groot persentasie van die diere word uitgeslag omdat hulle

swak presteer weens ‘n onderdrukte immuunstatus. Diere

met ‘n onderdrukte immuniteit het ‘n verhoogde voorkoms

van sekondêre besmettings, verhoogde somatiese seltellings,

afname in produktiwiteit en reproduksie en hul lewensverwag-

ting is korter.

‘n Klein persentasie (0,1% tot 10%) van die beesleukemievirus-

besmette diere ontwikkel gewasse as hulle vier tot agt jaar oud

is. Hierdie koeie is meestal in hul derde tot sesde laktasie. 5%

tot 10% van die diere wat sigbaar siek is, vrek skielik. Diere met

gewasse het gewoonlik die volgende simptome: Vreet nie of

vreet sleg, vermaer, hulle onderpresteer en hul melkproduksie

daal. Die vergroting van een of meer limfknope is van die

eerste tekens wat gesien word. Wydverspreide aantasting van

limfknope en limfoïede weefsel kan voorkom en gewasse kan

in die beenmurg, milt, longe, lewer en baarmoeder ontwikkel.

Meer as 50% van siek diere het bloedarmoede. Kankerselle

penetreer die beenmurg en onderdruk rooibloedselvorming. In

die terminale stadium van die siekte ontwikkel die meeste diere

leukemie (oormatige abnormale witbloedselle). Ander sigbare

(kliniese) simptome wat ontwikkel, is verlamming in die agterlyf,

hartversaking (skielike vrekte), moeilike asemhaling, bloed in

die mis en oë wat uitpeul. Sodanige aangetaste diere met

bogemelde simptome vrek gewoonlik binne weke of maande

as gevolg van uithongering, sekondêre bakteriese besmetting,

bloedarmoede en vitale organe wat ingee.

Diagnose

Die siekte kan soms ooreenkomstig die simptome deur ‘n veearts

gediagnoseer word. Met rektale ondersoek kan ensoötiese bees-

leukose ook gediagnoseer word – met die vergroting van limfknope

as die urogenitale sisteem aangetas is. Indien ‘n kliniese diagnose

gemaak word, moet dit met histologie en serologie (ELISA- of PCR-

toetse) bevestig word. Kalwers onder ses maande kan ‘n valse

positiewe toetsuitslag gee.

Voorkoming en beheer

Belangrike redes waarom ensoötiese beesleukose voorkom en

beheer moet word, is omdat dit erge ekonomiese verliese tot ge-

volg het, die diere onderpresteer en hulle ‘n lewenslange bron van

besmetting vir gesonde diere is.

Lande wat vry van ensoötiese beesleukose is, laat nie toe dat beeste

vanaf lande waar die besmetting voorkom, ingevoer word nie. In

verskeie lande in Europa, soos Denemarke en Swede, is ensoötiese

beesleukose uitgeroei. Dit is gedoen deur alle beeste te toets en dan

die positiewe diere uit te slag. Die staat vergoed die produsent wie

se beeste geslag is.

Waar beeskuddes positief toets, moet daar met tussenposes van

drie tot ses maande weer getoets word en positiewe diere moet

geslag word totdat die kudde negatief toets. Indien ‘n kudde elke ses

maande vir twee jaar lank getoets word en al die toetse is negatief,

word die kudde vry van ensoötiese beesleukose verklaar.

Dit is belangrik dat die besmette kudde in afsondering en kwarantyn

moet wees met die “toets en uitslag”-metode van beheer. Kalwers

moet nie melk wat met bloed gekontamineer is, ontvang nie. Elke

kalf moet apart aangehou en grootgemaak word. Met hantering van

kalwers moet die jongste klawers altyd eerste hanteer word.

Daar is nog nie ‘n entstof beskikbaar wat ensoötiese beesleukose

kan voorkom nie. Tans is daar ook geen doeltreffende behandeling

vir diere wat ensoötiese beesleukose het nie. Met die aankoop van

diere by vendusies of beesprodusente op plase moet daar verseker

word dat die diere negatief getoets het vir ensoötiese beesleukose.

Verseker dat alle tersaaklike biosekuriteitmaatreëls met betrekking

tot ensoötiese beesleukose nagekom word. Na besmetting met

ensoötiese beesleukemievirus toets die beeste eers na twee weke of

langer positief vir teenliggame.

Indien negatief-getoetste beeste van ‘n positiewe kudde gekoop

word, moet die aangekoopte diere in kwarantyn gehou word en

‘n tweede keer – verkieslik na drie of ses weke – vir ensoötiese

beesleukose getoets word. Indien alle beeste die tweede keer vir

ensoötiese beesleukose negatief toets, is dit veilig om hulle na jou

plaas te neem.

Raadpleeg jou veearts aangaande ensoötiese beesleukose se

omvang, impak en die uitwerking daarvan op melkbeeskuddes se

welvaart en prestasie en/of as diere ingekoop word. Die meeste

melkbeeste in Suid-Afrika word op weidings aangehou en hul

lewensduur is langer as beeste op die nulbeweidingstelsels. Die

fisiese uitwerking van die siekte kom eers na drie jaar voor en

dit is moontlik dat melkbeeste op weidings erger geraak sal word in

hul produksie en voorkoms.

Vir meer inligting hieroor, kontak dr Jan du Preez by 083 656 3638 of

drjanh.dupreez@gmail.com .

Wat is ensoötiese beesleukose?