SA Graan November 2013 - page 98

November 2013
96
Skeertyd in die voljaar
– November 2013
Beste Grootneef,
M
et al die tweebeenjakkalse en ander ongediertes wat die skapies
so uitdun, word die trop wat ons aanhou, al hoe kleiner. Laas
week het ek weer ‘n plek gekry waar ‘n potslagter ‘n hamel keel
afgesny het, met die kop, pote en binnegoed in die vel toegedraai. As die
vel eers af is, verander jou skaap in ‘n karkas sonder naam...
Ou Neef, dié tyd van die jaar laat my altyd dink aan vergange se dae
toe skeertyd nog ‘n groot ding op die plaas was. Skeertyd het altyd
saamgeloop met ‘n jaar wat amper volgeloop het, gewoonlik hier oor laat
November, begin Desember.
Daar is eers gewag dat die laaste winterkoue oorwaai, voordat skeertyd
beplan is. Die BKB-man is dan gebel om te hoor waar trek die skeerspanne
in die omgewing en dan is ‘n week “bespreek”.
So week of wat voor die skeerspan sou opdaag, is die skuur uitgepak
en skoongevee om dit te omskep in ‘n skeerhok. Die wolklastafels is van
die balke gelig en in die middel van die skuur geplaas. Gewoonlik was
die tafels se sparre pikswart en bedek met so ‘n lagie ou wolvetjie van die
vorige seisoen. Daarna is die wolhokke langs die mure staangemaak, in
die orde wat die BKB-man gevra het.
Twee tydelike kampies is ook gespan, een voor die skuur waar die
skeerders die skape kon uitvang en dan weer aan die ander kant van die
skuur ‘n kampie waar die geskeerde skape laat los is. So paar dae voor
die groot skeer sou begin, is die troppe skape in kampe, nie te ver van die
werf af nie, ingejaag. Die skape is dan sommer uitgesoek met die hamels,
ou ooie, lammerooie en ramme, elk in ‘n eie trop.
Die skeerders is laat haal van waar hul die vorige week klaargemaak het.
Die meeste was destyds Lesotho-burgers. Met die afklimslag het hul met
kooigoed, bagasie, skaapskêr en slypsteen aangestryk na die skeerhok,
om dinge deur te kyk. Elk het dan sonder om te veel te praat, vir homself
nes geskrop.
Die klank van skaapskêre op slypstene sal my altyd bybly. Die manne het
so halwe emmertjie water by hul gehad om oor die steen te drup en dan
is die skêre met ‘n geoefende hand heen en weer oor die nat slypsteen
getrek. Ou Neef, daardie skêre se twee lemme was naderhand so blink
en skerp soos ‘n slagmes!
By die deur waar die skape ná die skeer-aksie laat los is, het ‘n sak met
mieliepitte gehang. Dit was die “lootjies”. Soos wat elke skaap geskeer
is en laat los is, is ‘n mieliepit deur die skeerder gevat. Meeste het hul
lootjies in ‘n ou twaksak gedruk, want daardie lootjie is later omgeskakel
in harde kontant. Aan die einde van die skeertyd, het die skeerders hul
lootjies voor hul uitgepak vir die groot tel, elke lootjie was een geskeerde
skaap werd.
Kyk, daardie skeerders was taai! Hulle het in die vanghok die grootste ooi
ligvoets aan die agterpoot gevang, opgelig en in die skeerhok ingedra.
Die skaap is dan op die agterstewe sitgemaak tussen die skeerder se
knieë, waarna dié dan gebukkend die wol eers aan eenkant en dan aan
die ander kant van die skaap geskeer het. Elke snysel ‘n hand-aksie. Ou
Neef, om jou lootjie te kry deur geboë ‘n skaap met jou knieë vas te druk
en dan met ‘n skaapskêr wol te skeer van vroegdag tot laatmiddag, gee ‘n
nuwe betekenis aan om jou brood met sweet te verdien!
Gewoonlik was daar so jongetjie tussen die skeerders wat die vagte
wol van die skeerders bymekaargemaak het. Dit was ook ‘n kuns om
die vag soos ‘n kombers na binne toe te vou en dan op die woltafel
oop te gooi, sodat dit oopgesprei het vir die klas-aksie. Die wolklasser
het dan “afgerond” en die tipes wol op grond van lengte en karteling
in die verskillende hokke geplaas. Sodra ‘n hok vol was, is bondels van
hierdie wol aangedra na die wolpers. Die wol is dan met ‘n pers-aksie in
die wolbaal gedruk, tot die baal tot barstens toe vol was.
Met elke vol baal, is ‘n stensil gebruik om aan die een kant die tipe wol
se kode in swart op te verf, met die produsent se besonderhede aan
die ander kant van die baal. Die boepensbaal is dan verskuif na die
stoor langsaan, om later met trekker en sleepwa na Steynsrus se stasie
gekarwei te word, al die pad na die Baai vir die wolveiling.
‘n Paar weke het dan verbygesleep, tot op die blye dag dat die woltjek in
die posbus geland het. Daardie wolgeldjie het deur die jare gehelp om die
wolf van die deur weg te hou.
Ou Neef, dis tog jammer dat skaapboerdery so moeilik geraak het. Wat
kan dan nou mooier wees as ‘n spierwit trop geskeerde skape wat koers
kry die veld in?
Al wat van daardie dae oor is, is die onthou van die klank van skaapskêre
oor ‘n slypsteen, die geblêr van skape om die plaaswerf en die oliegeur
van pas geskeerde wol.
Groete op die Oosgrens
Kleinneef
Rubrieke
1...,88,89,90,91,92,93,94,95,96,97 99,100
Powered by FlippingBook