Background Image
Previous Page  99 / 116 Next Page
Basic version Information
Show Menu
Previous Page 99 / 116 Next Page
Page Background

97

March 2016

Só sê ‘n paar van ons gesoute produsente

“Nie een van ons het al ‘n droogte soos vanjaar

beleef nie. Ek boer al van 1961 af, maar niks kan

met hierdie jaar vergelyk nie! ‘n Mens kan net

jou geloof behou en vasbyt.

“As ek vir ‘n jong produsent raad kan gee:

Gaan praat onmiddellik met jou finansierder.

Moenie net wegbly nie. Dit gaan nou oor

oorlewing. Diegene wat vee het, moet die vee

net aan die lewe probeer hou.

“Ek glo die banke en landboubesighede sal ver agteroor buig om

ons produsente te probeer help, want dit is nie in hulle belang om

produsente links en regs uit te verkoop nie. Grondpryse sal in duie

stort en die balansstate van produsente wat nog solvent was, sal só

nadelig geraak word, dat meer en meer produsente finansieel in die

knyp sal raak,”

Cerneels Claassen

(voormalige voorsitter: NAMPO

en produsent van Reitz).

“Hoe bly ek staande in die moeilike omstandighede? Deur geloof.

Jy moet vashou aan die Here. Dit is al oplossing vir moeilike tye

in die landbou. Nie een van ons kan iets aan die weer verander nie

– daar is net Een wat wolke maak om reën te bring en dit hou my

nederig. Ons moet meer bid.

“Ek glo ‘n produsent moet vee aanhou. My

oupa se raad was dat jy vir elke hektaar wat

jy plant, een bees moet aanhou. As daar dan

‘n droogte of ‘n misoes is, kan jy 'n bees of

twee verkoop en jou grond behou,”

William

Matasane

(oud-Graan SA-hoofbestuurslid,

Ontwikkelende Graanprodusent van die Jaar

2010 en produsent in die Senekal-omgewing).

“Ek dank ons Hemelse Vader dat Hy my steeds die geleentheid gun

om te mag boer ondanks die droë jare tydens die 31 jaar wat ek

boer. Wat maak die huidige droogte anders as voriges? Die woord

‘droogte’ het die versamelnaam vir gebrek aan reën, die inploffing

van die wisselkoers, swak wêreldekonomie,

hoë rentekoerse, stygende insetkostes, on-

sekerhede oor grondhervorming en korrupsie

binne die regering geword.

“Droogte in die Swartland, Vrystaat, Limpopo

of waar ook al, verskil nie van mekaar nie.

Droogte respekteer nie landsgrense, lyndrade

of kleur nie – dit het nie eers respek vir die bank-

bestuurder of die koöperasiebestuurder nie.

“Kan jy alleen die uitdagings en eise van ‘n droogte oorkom? Nie

eers amper nie. Deel die frustrasie, vrees en woede met iemand. Hoe

meer jy dit deel met ander, hoe ligter raak die las wat jy self dra. Maak

tyd om met jou buurman te gesels: Hy is in dieselfde bootjie as jy.

Moet asseblief net nie mekaar in ‘n depressie in kla nie. Gelukkig het

ek ‘n Hemelse Vader wat nie omgee om na my relaas en noodkreet

te luister nie.

“Baie vroeg in my boerderyloopbaan het ek besef dat my vrou pre-

sies moet weet wat in my boerdery en finansies aangaan. Te veel

sien ek in my omswerwinge – en hier wil ek die befaamde woorde

van Prof Kassier gebruik – dat vroutjies ‘n sjampanje-lewenstyl hand-

haaf terwyl die boerdery skaars ‘n Coco Cola-inkomste het. Deel jou

kommer met jou gesin, dit is reg en billik dat hulle presies moet weet

wat aan die gang is. Vroue het die vermoë om baie innoverend te

dink en te kan aanpas.

“Leef binne jou vermoë. Doen dit wat jy kan, met die middele wat

jy het, maar ongelukkig gaan jy daardie groot projekte wat beplan

is, net kan aanpak as jy die middele het of jy sal dit moet uitstel tot

omstandighede jou toelaat om dit te doen.

“Dit is krities om oop kaarte met jou kredietverskaffers te speel.

Maak so gou moontlik ‘n afspraak met jou bank of landboubesigheid

en lig hulle in oor wat by jou aan die gebeur is. Droogte is nie swak

bestuur of onoordeelkundige besluitneming nie. Jy hoef werklik nie

skuldig te voel om met hierdie mense te gesels en oplossings vir

die pad vorentoe te soek nie. Vir hierdie instansies is jy belangriker

as wat jy dink.

“Behou kontak met en lidmaatskap van jou bedryfsorganisasie of

georganiseerde landbou. Ons kan nie as individue met die regering

of provinsie, banke en landboubesighede onderhandel nie. Dit is

in hierdie tye dat hierdie organisasies dit namens ons doen en

moet doen.

“Die heel belangrikste in hierdie droogtetye is om jou visie, denke en

perspektief positief te hou. Vermy klakouse en doemprofete. Soms is

dit nodig om meer gereeld met kort vakansies te gaan – ek praat nie

van oorsese reise nie. Veral as jy voel alles loop skeef.

“Ons Hemelse Vader sal weer voorspoed gee en weet net: Hy sal

niks oor jou pad bring wat jy nie kan hanteer nie – al lyk die omstan-

dighede baie donker,”

Andries Theron

(vise-voorsitter: Graan SA en

produsent van Moorreesburg).

Volgens onlangse studies wat deur finansiële instellings gedoen

is, kan verwag word dat die wisselkoers moontlik tot rondom

R18 per dollar kan verswak. Die gevolg is dat inflasie gaan styg. Die

Reserwebank het reeds begin om die rentekoerse te verhoog.

Ongelukkig gaan ‘n verswakking in die wisselkoers ons produksie-

koste ook negatief raak. Inteendeel: Dit doen al klaar. Die effek van

die lae oliepryse het ons in ‘n mate reeds verby gegaan en as die

oliepryse begin styg, gaan ons lang krokodiltrane huil.

Die klein besighede op die platteland word net so erg soos die

landboubedryf geraak. Met ‘n drastiese daling in die ekonomiese

aktiwiteite, is die werkloosheid op die platteland weer en vinnig aan

die styg. Dit is nie die internasionale besighede wat die mense op

die platteland in diens neem nie, maar plekke soos die verfwinkel,

die klein motorhawe, die kafee op die hoek en sulke onderneming

wat in hierdie droogtejaar die spit afbyt.

Daar word algemeen gepraat van die voorwaartse en terugwaartse

bindings in die landbousektor. Dit is só dat vir elke rand wat die

saaibedryf maak, daar R1,27 is wat buite-om gemaak word. Neem

dus die inkomste van ‘n klein dorpie weg, dan gaan ‘n mens ellende

sien. Om jou werk te verloor en stapelvoedselpryse styg deur die

dak, is twee klappe gelyk.

Invoerrealiteit

Dit is maklik om te sê: Voer in. Die vraag is: Van waar en teen watter

prys en kan die infrastruktuur dit hanteer, maar nog meer kan die

verbruiker dit bekostig?

Witmielie-invoere het vir seker sy uitdagings en dit teen ‘n prys.

Maar hierdie invoere en droogte het beslis ‘n impak op die res

van die ekonomie. Die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP)

voorspel dat die land se reëlegroei met 3,38% van die gemiddeld

van die afgelope drie jaar kan daal.

Dit sal ‘n negatiewe effek op die regering se spandering hê en die

ergste is dat daar ‘n drastiese daling in die werksgeleenthede ver-

wag kan word. Met ‘n daling in werksgeleenthede kan verwag word

dat die misdaadsyfer sal styg.

As alles rondom die droogte saamgevat word, is daar nie baie

positiewe punte nie. Die negatiewe aspekte is baie meer en almal in

hierdie mooi land van ons gaan die gevolge daarvan voel.