67
March 2015
Die buffels moes ook ‘n jaar terughoutydperk in die aanwesigheid
van bruinoorbosluise op hulle bestemde plaas deurloop en dan ‘n
finale vyfde negatiewe toets ondergaan voordat hulle as siektevry
gesertifiseer kon word.
Buffelteelprojekte waar daar van besmette teeldiere gebruik ge-
maak is, is in 2011 gestaak. Om beeste met buffelsiekte te besmet
deur besmette bruinoorbosluise en dan weer gekontroleerd te
behandel (buparvaquone, langwerkende tetrasikliene of butalex)
blyk tans die beste praktyk te wees om beeste te immuniseer teen
die siekte.
Dit lei tot immuniteit teen buffelsiekte, maar ook tot ‘n parasiet-
draertoestand in die bees. Hierdie praktyk word nie in Suid-Afrika
toegelaat nie, omdat ‘n draertoestand in die bees geskep word.
Gereelde en volgehoue dip van die beeste om die bruinoorbosluise
te elimineer en te verhinder om te parasiteer op die beeste, is suk-
sesvol. Daar moet gewaak word teen transplasentale (die buffel-
fetus raak in die baarmoeder besmet) oordraging van buffelsiekte.
Buffelkalwers moet getoets word vir buffelsiekte.
Bestuur van ‘n buffelsiekte-uitbreking
by beeste
Buffelsiekte kom tans by beeste voor in die genoemde twee areas
en dele aangrensend tot die areas. Uitbrekings van buffelsiekte
moet aan die naaste staatsveearts gerapporteer word.
Indien buffelsiekte bevestig word, sal die volgende beheermaat-
reëls deur die staatsveearts ingestel word:
Die plaas word onder kwarantyn geplaas. Geen diere mag in of
uit die plaas geneem word nie.
‘n Dipprogram wat die bruinoorbosluise vernietig, word ingestel
vir beeste ooreenkomstig bestaande protokol. Dit sal die buffel-
siekte-oordraging verminder.
Die bron van besmetting wat gewoonlik rondlopende buffels is,
moet verwyder word.
Daar is doeltreffende terapeutiese middels beskikbaar waarmee
besmette beeste elders in Afrika vir die bees-aangepaste
Theileria
-
stamme gebruik word. Hierdie behandeling word nie in Suid-
Afrika toegelaat nie, omdat die behandeling nie die besmetting
steriliseer nie.
Hierdie behandeling kan buffelsiektedraertoestande in beeste ver-
oorsaak en die beeste kan die rol van die buffel oorneem as die
Theileria
-parasiet beesaangepas raak. Daar is dan ‘n definitiewe
risiko van terugverandering van besmetting na Ooskuskoors en
Januariesiekte-sindroom. Tans is daar geen doeltreffende entstof
in Suid-Afrika vir beeste teen buffelsiekte beskikbaar nie.
Toets van buffels vir buffelsiekte
Die toetsing van buffels vir buffelsiekte word deur ‘n battery van
toetse gedoen. Die molekulêre diagnostiese toets is die mees
gevorderde toets. Indien die parasietvlak in die buffel baie laag is
en daar gemengde besmettings van
Theileria
-parasiete is, raak die
bloedtoets gekompromitteer. Hierdie battery van toetse bestaan
uit die mikroskopiese demonstrasie van die parasiete in smere van
die limfknope, milt of bloed, die aantoon van parasietspesifieke
teenliggame in die bloed asook die demonstrasie van die parasiete
se deoksiribonukleïen-suur (DNS) in bloedmonsters.
Die staatsveearts is verantwoordelik vir die finale interpretasie van
die toetsresultate, wat gebaseer is op die huidige toetsresultate, die
vorige toetsgeskiedenis van die dier, waar die buffels van afkom-
stig is, die aanwesigheid van bruinoorbosluise op die plaas en die
toetsresultate van die buffelkudde op die plaas.
Met “probleemplase” vind die ondersoeke onder die toesighouding
van die plaaslike staatsveearts plaas, wat die volgende aksies kan
insluit:
Bosluise word van die buffels en die plantegroei versamel om te
kyk of die vektor (bruinoorbosluis) aanwesig is.
Plaaslike beeste met ingeplante mikroskyfies vir identifisering
van die brandwagbeeste word saam met verdagte buffels wat
moontlik die buffelsiektebesmetting het, op dieselfde weidings
gesit om moontlike oordraging van besmetting te monitor.
Onbesmette bruinoorbosluise word op buffels wat positief
getoets is vir buffelsiekte gesit om op hulle te voed. Hierdie
bosluise word dan weer onder gekontroleerde toestande op
beeste gesit om te bepaal of hulle die besmetting kry.
Buffelboerdery op plase
Buffelboerdery in die privaat sektor het die afgelope jare baie
toegeneem in Suid-Afrika as gevolg van ‘n verskeidenheid van
faktore. Na raming is daar tans meer as 20 000 buffels in privaat
besit. Geregistreerde eiendomme om met buffels te boer, was met
die laaste navraag 1 918. Na raming is meer as 90% van die boge-
noemde buffels wat op plase en natuurreservate voorkom, siektevry
(skoon buffels) en die plase is buite die bek-en-klouseer asook
buffelsiektebeheerde areas.
Alle buffels wat in die endemiese besmette gebiede van bek-en-
klouseer en buffelsiekte voorkom, is agter wildweringsheinings in
die nasionale parke, provinsiale reserwes en wildsplase/buffel-
projekte in privaat besit. Al die bogenoemde plekke is in die ver-
klaarde siektebeheerde gebiede.
Vir navrae, kontak dr Jan du Preez by
jan.dupreez@mpo.co.za .Kaart 1: ‘n Kaart van Suid-Afrika met die geografiese verspreiding van die
bruinoorbosluis (
Rhipicephalus appendiculatus
) wat die vektor (oordraer)
van buffelsiekte is. Die kolletjies verteenwoordig 1 556 bevestigde gevalle
van die bruinoorbosluise se teenwoordigheid.
Kaart: Arthur Spickett
Kaart 2: In Suid-Afrika is buffelsiekte blykbaar beperk tot twee gebiede
(die rooi-geel kol en areas om dit) waar besmette buffels (draers) en die
bruinoorbosluis aanwesig is. Die twee gebiede is die oostelike laeveld
van Mpumalanga en die Limpopo provinsie langs die Kruger Nasionale
Wildtuin en sekere gebiede in Noord-KwaZulu-Natal.