90
Maart 2014
Triasiene dra positiewe lading by lae grond pH wat maak dat dit sterk
bind aan negatief-gelaaide gronddeeltjies (hoe meer negatiewe
lading daar op gronddeeltjies is, hoe hoër is KUV); by pH 7 (neutraal)
en hoër (alkalies) dra triasiene nie lading nie en is gevolglik swak aan
grond gebind en dus vrylik beskikbaar vir opname deur plantwortels.
Fisiese faktore
Grondtekstuur verwys na die sand-, slik- en klei-inhoud van grond.
Die sandfraksie het sodanig geen invloed op onkruiddoders
nie en die kleifraksie speel ‘n belangrike rol. Kleiminerale
verskil baie wat betref hul vermoë vir vaslegging (adsorpsie)
van onkruiddoders. Kaolinietklei oorheers in goedgeloogde
grondtipes, terwyl montmorilloniet die dominante kleimineraal
in “swaar” grondtipes (byvoorbeeld turfgrond) is. Die baie
groter KUV (negatiewe ladingskapasiteit) van montmorilloniet as
kaoliniet (± 10 groter), maak van eersgenoemde kleimineraal ‘n
baie sterker vaslegger van onkruiddoders wat positiewe lading
dra in grond – verwys bespreking van triasiene onder die grond
pH-faktor. Klei se rol by vaslegging van onkruiddoders verklaar
waarom die voorgeskrewe dosis van onkruiddoders laer is in
ligte grond en dan styg namate die klei-inhoud (kleipersentasie)
van grond toeneem. Dit kom basies daarop neer dat minder
onkruiddoder nodig is vir onkruidbeheer op ‘n sandgrond omdat
dit weens relatief swak vaslegging meer vrylik beskikbaar is vir
plantopname as in ‘n swaarder grond.
Sandgrond se struktuur is gewoonlik swak weens lae organiese
materiaalinhoud, terwyl turfgrond ‘n goeie struktuur het
danksy die hoë organiese fraksie daarin. Sogenaamde swaar
gronde kan barste ontwikkel waarlangs onkruiddoders weens
“voorkeurvloei” dieper as wat wenslik is die grond kan binnedring
– dit is een manier waarop ondergrondse waterbronne met
plaagdoders besoedel kan raak.
Die organiese fraksie van grond wat lading dra, met ander
woorde die humusfraksie en nie die vars of ongekomposteerde
organiese materiaal nie, is ordes belangriker as kleiminerale,
wat betref die vaslegging van onkruiddoders in grond – humus
het bindingsposisies vir neutrale, positief- en negatief-gelaaide
onkruiddoders. Omdat die organiese materiaalinhoud van
grond egter oor kort afstande op ‘n land kan varieer, word
dosisvoorskrifte eerder op die minder variërende klei-inhoud
gebaseer.
Water is die medium waarin onkruiddoders deur plantwortels
opgeneem word. By lae grondvog neig onkruiddoders om sterk
aan gronddeeltjies te bind en is gevolglik nie vrylik beskikbaar vir
plantopname nie – ligte reën of besproeiing binne enkele dae ná
onkruiddodertoediening aan grond, word op sekere etikette as
‘n vereiste vir effektiewe onkruiddoderwerking gestel. In oornat
grond en met hoë reënval bestaan die risiko dat die onkruiddoder
(opgelos in water) die grondprofiel té diep binnedring – vir
onkruiddoders om deur onkruid opgeneem te word, moet dit ten
minste in die wortelsone en daar waar onkruidsaad ontkiem in
genoegsame hoeveelhede teenwoordig wees.
Opsommend
Uit die voorafgaande bespreking staan bepaalde faktore en
kombinasies van faktore uit as hoofbepalers van onkruiddoder-
werking en -effektiwiteit. Onder toestande wat bevorderlik is vir
plantopname (gewas plus onkruid) van onkruiddoders moet in ag
geneem word dat ‘n “oormaat” opname daarvan weliswaar goeie
onkruidbeheer in die hand werk, maar terselfdertyd verhoog dit die
risiko van gewasskade (
lees meer hieroor in Deel 17
).
Toestande wat by uitstek bevorderlik is vir ‘n “oormaat” opname van
grondtoegediende onkruiddoders, is die kombinasie: Onkruiddoder
wat swak op gronddeeltjies gebind is plus hoë grondvog plus ligte
grond – in praktyk duik so ‘n situasie maklik op waar klei-inhoud
<10% is en die humusfraksie laag is, byvoorbeeld waaisandgronde
in die Noordwes Provinsie en die Vrystaat.
Aangesien gewasplante ten beste onkruiddoderverdraagsaam en nie
onkruiddoderweerstandbiedend is nie en daar soveel faktore is wat
onkruiddoderwerking beïnvloed, is dit uiters belangrik dat gebruikers
van onkruiddoders nougeset moet hou by etiketvoorskrifte.
Vir meer inligting, kontak gerus vir dr Charlie Reinhardt by
083 442 3427.
Bronne en verdere leesstof
Cobb, A. & Reade, J.P.H. 2010.
Herbicides and plant physiology
. Wiley-Blackwell.
Klingman, G.C. & Ashton, F.M. 1982.
Weed science: Principles and practices
.
John Wiley & Sons, New York.
Weed Science Society of America. 2007.
Herbicide handbook
, 9th ed. Lawrence,
KS, VSA.
Akkurate toediening van onkruiddoders is in alle situasies uiters belangrik. Toediening aan sandgrond (<10% klei) vra spesiale sorg aan die kant van
alle betrokkenes in die waardeketting (registrasiehouer/verkoopsagent/boer) – enige bykomende faktor wat die beskikbaarheid van die onkruid-
doder vir plantopname verder kan verhoog, kan moontlik ‘n verswarende uitwerking op gewasverdraagsaamheid hê, veral by hierdie grondtipe.
Foto: Charlie Reinhardt
OP PLAASVLAK
Plaagbeheer
Ken jou ONKRUIDDODER