

Junie 2015
46
‘n Droogte is nooit lekker nie,
maar wat leer ons daaruit?
E
lke produksieseisoen is uniek en gewoonlik nie sonder
kinkels nie. Dié kinkels bied vir ons ‘n geleentheid om
aanpassings te maak en te leer uit ons foute. Die groot
vraag bly egter of ons die kinkels reg verstaan en of ons
net aannames maak?
Indien daar aannames gemaak word, kan dit selfs tot groter foute
lei en baie skade berokken. Dikwels weet ons nie eers van die foute
of skade nie, want ons het niks om dit mee te vergelyk nie. Die ver-
gelyking is gewoonlik die buurman se gewas wat dalk twee dae later
of vroeër geplant is en moontlik nog ‘n ander gewas op gehad het
gedurende die vorige seisoen. Is so ‘n vergelyking regverdig?
In baie gevalle word daar ook op die regte manier vergelykings
getref, sonder enige foute, maar die reën bly net weg en die droogte
vertroebel enige positiewe resultate wat beproef is. Die afge-
lope produksieseisoen het ons maar net weer eens die impak van
‘n droogte besef in groot dele van die Noordwes-Vrystaat en die
Noordwes-mielieproduksiegebiede. Groot dele van die ander mielie-
produserende gebiede het ook deurgeloop onder droogteskade.
Die weer (reënval, reënvalverspreiding, temperatuur en wind) het
steeds die grootste invloed op mielieproduksie in die grootste deel
van Suid-Afrika. Die weer (spesifiek wind) was die hoofdryfveer
vir bewaringsbewerking/stoppelbewerking/rip-op-ry-praktyke wat
vanaf die vroeë 70’s baie suksesvol in die Noordwes-Vrystaat en
Noordwes Provinsie toegepas word.
Wat het hierdie praktyk so suksesvol gemaak op die sanderige
gronde van die Noordwes-Vrystaat en Noordwes Provinsie? Die
antwoord is dat met hierdie praktyk het ons nie net daarin geslaag
om die verwoestende effek van die wind beter te beheer nie, maar
ook om met dieper bewerking, mieliewortels toegang te gee tot
groter volumes nat grond.
Die plantbeskikbare grondvog (mm/m) en kapasiteit (diepte van
die gronde) is bepalende grondeienskappe wat die gewasopbrengs
sal beïnvloed. Watertafelgronde kon dus deur hierdie praktyk tot
hul reg kom, veral in die jare waar reënval beperk of swakverspreid
voorgekom het. Die praktyk word vandag nog baie suksesvol toe-
gepas op sanderige watertafelgronde.
Ons het met redelike droë grondprofiele die vorige produksiesei-
soen (2013/2014) geëindig. Die gevolg hiervan was dat heelwat
primêre bewerking eers ná goeie reën, laat in die 2013/2014-
seisoen plaasgevind het. Opvolgreën het dit moontlik gemaak om
reeds bewerkte grond in November 2014 te plant. Die grondvog
was nie ideaal nie, (droë laag op 30 cm - 50 cm) maar ten spyte
daarvan het die mielies en vroeë sonneblomme goed opgekom.
Goeie opvolgreën vroeg in die seisoen het vir dié aanplantings die
deurslag gelewer.
Goeie algehele reën was skaars die seisoen en die dele wat
meer reën gekry het, kon op ‘n afstand gesien word. Op die oog
af, volgens visuele waarnemings, het dit gelyk of sonneblom en
sojabone die droogte beter hanteer het as mielies. Mielies wat op
sonneblomlande van die 2013/2014-seisoen geplant is, het erge
droogtestremming getoon, veral waar daar laat sonneblomme
geplant was tydens die 2013/2014-seisoen.
Die meeste gewasse is aan erge droogtestremmingstoestande
blootgestel. Lande met voldoende vog, soos oorlêlande, kon die
OP PLAASVLAK
Droogte / Produksieseisoen / Aannames / Vergelykings
Bestuurspraktyke
KOBUS VAN ZYL,
landboukundige: Omnia Kunsmis
1: Swak en onegalig bestuifde mieliekoppe.
1