

Julie 2016
34
Effektiwiteit van KAN
teenoor ureum by mielies
S
tikstof (N) word normaalweg onder relatiewe hoë reënval beter
benut wanneer dit later toegedien word – teen vier tot agt weke
na-plant – vergeleke met voor-planttoedienings (Grove
et al
., 1980).
Daarteenoor het toedienings teen twee weke na-plant hoër op-
brengs gelewer wanneer dit relatief droog is vergeleke met toedie-
nings teen vyf en nege weke na-plant (Adriaanse en Human, 1993).
‘n Nitraat-N:ammonium-N-verhouding van 1:1 het hoër opbrengs as
‘n 1:0- of 0:1-verhouding gelewer wanneer dit twee weke na-plant
toegedien is (Adriaanse en Human, 1993). Net so is aangetoon dat
kombinasies van nitraat en ammonium meer effektief was onder
veldtoestande as enige van die twee vorms afsonderlik (Adriaanse,
1990 en Adriaanse en Human, 1991).
Wanneer KAN in grondwater oplos, is dit reeds in ‘n 1:1 nitraat-
N:ammonium-N-verhouding en gereed vir gewasopname. In kontras
hiermee, is ureum nie tot dieselfde mate geredelik beskikbaar vir
opname wanneer dit in grondwater oplos nie. Die tempo van direkte
ureumopname is stadiger as dié van ammonium-N of nitraat-N.
Ammonium-N sal ook direkte ureumopname inhibeer. Selfs wanneer
nitraat-N-konsentrasies 25% minder is as ureum-N-konsentrasies,
sal dit vinniger opgeneem word as ureum-N. Ureum word deur die
proses van hidrolise slegs na ammonium omgeskakel en dan verder
deur die proses van nitrifikasie na nitraat.
Hierdie prosesse mag ‘n paar dae tot verskeie weke duur. Lae
temperature, nat toestande en lae pH sal hierdie prosesse vertraag.
Verder is ureum meer toksies, meer loogbaar en meer vervlugtigend
as KAN (Adriaanse, 2012a). Verskeie studies het hoër opbrengs vir
KAN teenoor ureum aangetoon wanneer dit oor jare en oor lokaliteite
vergelyk is (Adriaanse, 2012a; Adriaanse, 2012b; Mangle en Hawkins,
1995; Levington Agriculture, 2009; ITGC, 2004 en Avails, 1998).
Die doel van die studie was om KAN en ureum met betrekking tot
die volgende onder spesifieke droë omstandighede te bestudeer:
Die optimale tyd vir N-toedienings.
Die effektiwiteit van KAN teenoor ureum oor N-peile wat drie
weke voor-plant, met-plant en drie weke na-plant langs die rye in
die grond gebandplaas is.
Die effektiwiteit van KAN teenoor ureum by verskillende N-peile
oor tye van toediening.
Materiaal en metodes
Navorsing deur die LNR-Instituut vir Graangewasse (LNR-IGG) in die
Viljoenskroon-distrik is oor ‘n drie jaar-tydperk vanaf 1998 tot 2000
op dieselfde persele onderneem. Die grond was van die Avalon-
grondvorm met ‘n sagte plintietlaag wat wissel in diepte van 1,2 m
tot 1,7 m. Die klei-inhoude vir verskillende diepte-inkremente was
9,1% van 0 cm tot 15 cm, 10,4% van 15 cm tot 30 cm en 16% van
30 cm tot 60 cm. Die proef is elke jaar voorafgegaan deur ‘n rip-op-
die-ry-bewerking tot op ‘n diepte van 0,6 m tot 0,7 m.
Behandelings het uit vyf stikstofpeile (35 kg tot 175 kg N/ha), drie
tye van toediening (voor-plant, met-plant of na-plant) en twee
N-bronne (KAN of ureum) plus twee kontroles (0 kg N/ha) bestaan
wat faktoriaal gekombineer is in ‘n ewekansige blokontwerp en
twee keer herhaal is. Toediening was drie weke voor-plant, met-
plant of drie weke na-plant 10 cm tot 15 cm vanaf die rye op ‘n
diepte van 10 cm met die hand. Behalwe in die geval van die kontrole,
is 20 kg N van elke N-peil in die vorm van KAN saam met 30 kg P/ha
(dubbelsuperfosfaat 20%) en 30 kg K/ha (kaliumchloried) 5 cm weg
en 5 cm dieper as die saad met ‘n gespesialiseerde planter met
planttyd gebandplaas.
Die mieliekultivar PAN 6479 is by rywydtes van 1,5 m geplant. Plant-
datums was 18 Desember 1997, 23 November 1998 en 5 Desember
1999 by effektiewe plantestande van 26 514, 27 083 en 25 069 plante/
ha onderskeidelik vir die drie seisoene. Slegs die resultate van die
laaste seisoen is geselekteer om die spesifieke effek van ‘n droë
periode na-plant te ondersoek. Behandelingseffekte oor seisoene is
voorheen gerapporteer (Adriaanse, 2012a en Adriaanse, 2012b).
Reënval
Reënvalverspreidingsverskille tussen seisoene word in
Tabel 1
aangedui. Reënval vir die groeiperiode van die eerste seisoen
(1997/1998) was die laagste, gevolg deur die tweede seisoen
(1998/1999) en dan die derde seisoen (1999/2000) wat die hoogste
was. Die eerste effektiewe reën het egter later na-plant vir die
laaste seisoen gekom as vir die ander seisoene. Voorts was die
hoeveelheid effektiewe reën, die maksimum reën binne 30 dae na-
plant en die totale reënval vir die 30 dae-periode na-plant baie laer
vir die laaste seisoen in vergelyking met die eerste twee seisoene.
Slegs die resultate van die laaste seisoen is daarom vir verdere
bespreking geselekteer.
Resultate en bespreking
Optimale tyd van N-toedienings
Die mees effektiewe tyd van N-toediening vir beide N-bronne was
drie weke na-plant, gevolg deur voor-planttoedienings en dan
met-planttoedienings wat minder effektief was (
Grafiek 1
). Hierdie
tendens was soortgelyk oor seisoene soos wat voorheen gerap-
porteer is (Adriaanse, 2012a en Adriaanse, 2012b.), behalwe vir
KAN wat beter oor seisoene presteer het wanneer dit met-plant
toegedien is teenoor voor-planttoedienings.
Die effektiwiteit van KAN teenoor ureum by
tye van toediening oor N-peile
KAN was meer effektief as ureum oor N-peile – veral vir met-
planttoedienings, maar ook vir voor-plant- en na-planttoedienings
(Grafiek 1). Die opbrengs wat met KAN verkry is, was 3,2 t/ha
hoër as wat met ureum vir met-planttoedienings verkry is (Grafiek 1).
Ammoniakvergiftiging weens die bandplasing van ureum by
rywydtes van 1,5 m, wat hoë konsentrasies onder droë toestande
tot gevolg gehad het, was waarskynlik hoofsaaklik hiervoor
verantwoordelik. Onvoldoende reën na-plant sou die vertikale
verspreiding van ureum beperk het en dit dus verder gekonsentreer
het. Ammoniakvervlugtiging van ‘n diepte van 10 cm in ‘n sande-
rige grond het waarskynlik ook tot die negatiewe effek van gekon-
sentreerde ureum bygedra.
Die risiko van ‘n opbrengsverlies weens ‘n droë periode na-plant
sal verseker baie minder wees wanneer KAN by voorkeur bo ureum
gebruik word (Grafiek 1). Die uitstel van N-toedienings tot drie weke
na-plant was ook betekenisvol beter as om alle N met-plant toe te
dien vir beide N-bronne (Grafiek 1). KAN-toedienings teen drie
weke na-plant was ook betekenisvol beter as ureumtoedienings
voor-plant (Grafiek 1).
PROMOSIE-ARTIKEL
– verskillende tye van toediening en onder droë omstandighede
ERIK ADRIAANSE,
bestuurder: Produkontwikkeling en Tegniese ondersteuning, Sasol