

Julie 2016
36
ERDWURMS
– onlosmaaklik deel
van grondinteraksies
C
harles Darwin, bekend vir sy werk op natuurlike seleksie,
het die volgende te sê gehad oor erdwurms: “Dit is te
betwyfel of daar baie ander diere is wat so ‘n belangrike
rol in die geskiedenis van die wêreld gespeel het as hierdie
nederige georganiseerde wesens.”
Erdwurms maak ‘n besondere groot bydrae tot die volhoubare
werking van grond-ekostelsels. Deur die funksies wat hulle in die
grond verrig, het hulle indirek ‘n invloed op ander organismes,
plantegroei en mense. Daarom is interaksies met erdwurms van
uiterste belang vir die funksionering van grondstelsels.
Grondstelsel
Daar word na erdwurms verwys as die ingenieurs van die grond van-
weë die fisiese, chemiese en biologiese veranderinge wat hulle in ‘n
grondprofiel teweegbring. Hierdie veranderinge kan die habitat en
aktiwiteite van ander organismes in die grond-ekosisteem beïnvloed.
Erdwurms beïnvloed die grond-ekosisteem op verskeie maniere:
Deur die hersirkulering van dooie plantmateriaal tot kompos
(afbreek van mis en plantreste om organiese materiaal in die
grond te vorm) en hersirkulering van blaarafval onder boorde en
in woudareas.
Deur die verhoging van voedingstofbeskikbaarheid. Eerstens
deur organiese materiaal dieper in die grond in af te neem
wanneer hulle tonnels grawe, dié materiaal te verteer en so-
doende voedingstowwe beskikbaar te stel aan plantwortels;
tweedens is hulle gietsels (mis) ryker aan voedingstowwe as
die omliggende grond.
Hulle verbeter die grond se struktuur wanneer hulle grawe op
soek na voedsel. In dié proses maak hulle die gronddeeltjies
los en vorm ook tonnels deur die boonste grondlae. Hierdie
tonnels laat dan lug deur die grond en dreineer reënwater vanaf
die oppervlak.
Erdwurms dra by tot gewasproduksie deurdat hulle die grond-
kwaliteit verbeter.
Hulle dien as voedsel vir predatore aangesien voëls sowel as
ander grondfauna op hul voed.
Grondmikroörganismes
Grondmikroörganismes is noodsaaklik in grond vir die volgende
redes:
Dit speel ‘n sleutelrol in die vrystelling van nutriënte vanaf or-
ganiese materiaal en die beskikbaarstelling daarvan aan plante
vir opname.
Dit is betrokke by die afbreek en mineralisasie van komplekse
organiese materiale en kan ook mensgemaakte organiese kom-
ponente afbreek om sodoende besoedeling te beperk of teë
te werk.
Die welbekende wortelswam, ook mikorisa genoem, produseer
glomalien, ‘n klewerige stof wat grondpartikels saambind om
groter en meer stabiele aggregate te vorm. Dit is een van die
belangrike meganismes wat grond teen wind- en watererosie
beskerm.
Hierdie belangrike grondmikroörganismes is meer aktief in gronde
waar erdwurms teenwoordig is. Die rede hiervoor is omdat gietsels
en tonnels, wat ryk is aan beskikbare voedingstowwe, oor die al-
gemeen groter mikrobiese populasies en mikrobiese biomassa as
die omliggende grond bevat.
Erdwurms kan ook mikrobiese aktiwiteit bevorder deur middel
van hulle verteringsprosesse, wat hoë fosfatase-aktiwiteit in erd-
wurmgietsels meebring en vervolgens fosfaatbeskikbaarheid aan
plante in die grond bevorder. Erdwurms verlaag verder ook die
voorkoms van wortelsiektes soos byvoorbeeld wortelvrot by koring,
deurdat hulle op die swamme wat die siektes veroorsaak, voed.
Grondfauna
Die invloed van erdwurms op die populasies en aktiwiteit van
grondmikrofauna, naamlik protosoë en nematode, is wyd bestudeer.
Aalwurms en protosoë se beweging in grond is beperk aangesien
hulle grondvog benodig om te beweeg. Die voedingsaktiwiteite van
erdwurms in die grond mag moontlik hierdie mikrofauna beïnvloed
deurdat hulle verplaas word na verskillende grondlae wanneer die
erdwurms byvoorbeeld organiese materiaal aftrek in die grond in.
Daar is bevind dat erdwurms en protosoë ‘n betekenisvolle invloed
op mekaar het. Die teenwoordigheid van erdwurms bevorder mees-
tal protosoë-aktiwiteit en -biomassa in die grond en protosoë is
weer belangrik in erdwurms se dieet omdat dit seksuele volwassen-
heid bevorder. Aalwurmgetalle in grond is aansienlik laer in die
teenwoordigheid van erdwurms. Die rede hiervoor is dat dit saam
met plantreste en grond ingeneem en verteer word en sodoende
vanuit die grond verwyder word.
Mense
Erdwurms help mense op die volgende wyses:
Sodra erdwurms gevestig is in weidingslande, verhoog wei-
dingsproduktiwiteit. Dit geskied deurdat infiltrasie en die ver-
werking van dooie plantmateriaal wat op die oppervlak lê,
verbeter. Sodoende word verliese aan materiaal en voeding-
stowwe deur erosie beperk.
Hulle fasiliteer en versnel die proses van mynrestourasie:
Deurdat hulle grondvrugbaarheid verhoog en afvalmateriaal
hersirkuleer, help hulle om funksionerende ekostelsels beide
bo en onder die grond te herstel.
Erdwurms kan gebruik word in ekotoksikologiese toetse om
grond te evalueer in terme van besoedeling.
Vermikompos kan gebruik word om grondkwaliteit te verbeter:
Vermikompostering verwys na die gebruik van erdwurms (die
kompos-erdwurm
Eisenia fetida
of
Eisenia andrei
word meestal
gebruik) om tuin-, plaas-, en voedselafval af te breek om so-
doende ‘n hoë kwaliteit kompos te verkry.
Slotsom
Erdwurms vervul ‘n legio belangrike rolle in die grond. Hierdie
grondingenieurs se rol is dus onlosmaaklik deel van
hul interaksies met ander organismes wat slegs tot
voordeel van gewasproduksiesisteme kan wees.
FOKUS
Bemesting
Spesiale
CHARNÉ MYBURGH,
LNR-Instituut vir Graangewasse, Potchefstroom
Die kompos-erdwurm
Eisenia fetida
of
Eisenia andrei
word meestal
gebruik om tuin-, plaas-, en voedselafval af te breek om sodoende ‘n
hoë kwaliteit kompos te verkry.