Grondmonsterneming: Hou dié in gedagte
Grondontledings word gedoen om te bepaal
wat die grond se vermoë is om die nodige
plantvoedingstowwe aan die betrokke gewas te
voorsien. Die grondontledings word in verband
gebring met die voedingstofopname van die
gewas, die aanvulling van plantvoedingstowwe
deur bemesting en die beplanningsopbrengs. Uit
plantvoedingsprogramme wat hierdie faktore in
ag neem, word riglyne dan neergelê wat in ‘n
gegewe situasie geldig sal wees.
Ten einde ten volle van hierdie riglyne gebruik
te maak, is dit noodsaaklik dat grondmonsters
wat geïnterpreteer word, verteenwoordigend van
die betrokke land is. Om dit te bereik, word die
volgende standaardprosedures by die hantering
van grondmonsters vereis:
• Homogene eenhede, wat ook prakties vir ge-
wasverbouingsdoeleindes is, moet gemonster
word. (Homogeniteit word deur vorige
gewasprestasie, gronddiepte, grondkleur,
grondtekstuur en topografie bepaal.)
• ‘n Grondmonster moet ‘n homogene eenheid
van nie meer as 50 ha verteenwoordig nie.
• Homogene eenhede moet duidelik en af-
sonderlik genommer word.
• Probleemkolle moet apart aangedui en ge-
monster word.
• By die neem van die monster moet alle
vreemde materiaal (gras, stokke, los klippe)
by die monsterpunt verwyder word. In die
geval van baie klipperige gronde moet ‘n
skatting van die klippersentasie per volume
gemaak word.
• Op elke homogene eenheid moet 20 - 40
monsters eweredig oor die volle oppervlakte
van die land geneem word. Opvallend swak
kolle, wenakkers, vergaderplekke van diere
ensovoorts moet vermy word.
• Die aanbevole diepte vir monstering vir die
bogrond is ongeveer 200 mm, dit wil sê die
0 mm - 200 mm-gedeelte van die bogrond
word gemonster. Ondergrondmonsters word
in die 200 mm - 600 mm-laag van die profiel
geneem.
• Indien die land geploeg is, moet monsters
lukraak oor die hele oppervlakte geneem
word. As die rye van die vorige oes nog sig-
baar is, moet die submonsters lukraak tussen
en in die rye geneem word.
• Om resultate te kan vergelyk, moet daar elke
keer op ongeveer dieselfde tyd van die jaar,
óf tydens dieselfde fase van die verbouings-
program gemonster word, maar minstens
een keer elke drie jaar.
• Die 20 - 40 monsters waaruit ‘n finale
monster saamgestel word, moet op ‘n skoon
sak saamgevoeg word. Klonte word stukkend
gemaak, vreemde materiaal word verwyder
en die grond word deeglik gemeng. Nadat
dit in ‘n dun lagie oopgesprei is, word klein
skeppies eweredig oor die volle diepte en
oppervlakte geneem, en in ‘n skoon plastiek-
sakkie of kartonhouer geplaas. Hierdie
finale monster, verteenwoordigend van ‘n
homogene eenheid, moet ‘n massa van
0,5 kg - 1 kg hê.
• Bykomende gegewens oor die eienskappe van
die grond, klimaat asook die produksie- en
bemestingsgeskiedenis moet voorsien word,
aangesien aanbevelings nie bloot op grond-
ontledings gebaseer kan word nie.
Skrywer: Lientjie Visser, Bestuurder: LNR-
Kleingraaninstituut Ontledingslaboratorium
G
RAANGIDS
2014
74