

Februarie 2017
34
‘n Kykie na onkruid- en
swambeheer op kanola
K
anola, as ‘n wisselbou-opsie, bied vele voordele. Dit bied
toegang tot onkruiddoders met ander metodes van wer-
king wat grasse kan beheer.
Weens sy groeiwyse en sterk kompeterende eienskappe, verhoed
die kanolaplant dat onkruide later kan ontkiem en ontwikkel. Verder
het dit ‘n positiewe uitwerking op siektedruk van graansiektes. Die
penwortel dring die grond diep binne, wat kanale skep waardeur
vog en voedingstowwe kan indring en daaropvolgende gewasse
bevoordeel.
Onkruidbeheer
Produsente behoort, waar moontlik, die grasonkruide in die wissel-
bougewasfase onder beheer te bring en in die graanfase die breë-
blaaronkruide uit te roei. Die rede vir hierdie stelling is veelvoudig.
Eerstens, selektiewe grasdoders wat in die graanfase benut kan
word – met die uitsondering van trifluralien (wat in elk geval net ‘n
mate van grasbeheer verskaf weens die metode van aanwending)
– is relatief duur.
Tweedens, weens die ontwikkeling van weerstand teen groepe A
(FOPs en DIMs) en B (sulfonielureums of SU’s) is die oorblywende
opsies beperk. ‘n Verdere rede vir genoemde stelling is dat daar oor
tyd geselekteer is vir veral raaigras wat later in die seisoen ontkiem.
Die onkruiddoders blyk voldoende beheer te verskaf vir die eerste
paar weke na toediening, maar later in die seisoen (einde Julie/
Augustus) kom ons agter dat daar grasonkruide tussen die
graanrye staan. Die onkruiddoder het “uit bene” gehardloop en
vandat die gewasse in rye geplant word, is daar voldoende spasie
vir laat ontkiemende onkruide om te ontwikkel en saad te stort.
Ongelukkig is daar, in die geval van graangewasse, gewoonlik geen
onkruiddoderopsie tot ons beskikking wat hierdie laat ontkiemers
nog kan beheer nie.
Die grondslag vir die suksesvolle verbouing van kanola lê in die
vestiging van die gewas. Die saadgrootte maak die diepte van plant
meer kritiek as gewasse met groter sade. Die belangrikste by kanola
is om ‘n egalige en eweredige stand te kry: Egalig ten opsigte van
opkoms en ontwikkeling van die saailing en eweredig versprei oor
die oppervlakte vir optimale benutting van vog en voedingstowwe,
asook beter beskerming teen laat ontkiemende onkruide.
Kanola wat egalig ontwikkel, maak bestuursbesluite, insluitend
tydsberekening van swambespuitings asook platsny/doodspuit en
oestye, meer akkuraat.
Faktore wat ‘n invloed op ‘n egalige en eweredige stand uitoefen,
sluit in vogstatus met plant, voorbereiding van ‘n ferm en gelyke
saadbed, hoeveelheid plantreste op die oppervlakte, saadkwaliteit
en grootte en plantdiepte.
‘n Ferm en egalige saadbed, sonder groot kluite, maak dit vanself-
sprekend veel makliker om die saad konstant op die regte diepte te
plaas. ‘n Groot hoeveelheid plantreste op die oppervlakte belemmer
die plantproses en vertraag ontkieming van kanola.
Plante wat deur ‘n mat plantreste moet groei, is langer en yler en sal
makliker vrek as gevolg van saailingverwelksiekte. Daar is verskeie
opsies wat oorweeg kan word om bogemelde probleme te bowe
te kom.
Een opsie is om die fyn kaf tydens oes in ‘n nou windry te gooi en
in die herfs te brand. Dit sal terselfdertyd baie onkruidsade ver-
nietig, terwyl net ‘n beperkte deel van die totale grondoppervlakte
sodoende gebrand word.
Indien daar nie ‘n mat plantreste agtergelaat word nadat ‘n graan-
gewas se strooi gebaal of deur diere benut is nie, is die benutting
van trifluralien om ‘n land van swaar grasdruk te bevry, ‘n opsie wat
sterk aanbeveel word.
Die trifluralien word voor plant breedwerpig oor die land uitgespuit
en met ‘n tandimplement ingewerk. Hiermee kan ‘n gunstige saad-
bed geskep word en die onkruiddoder, wat deur beide UV-ligstrale
en vervlugting benadeel word, binne die grond geplaas word waar
dit optimale grasbeheer kan verskaf.
Dit is ook die ideale tyd om kalk toe te dien of ‘n ploegbank op te
breek sou dit nodig wees. Ek kan hoor hoe die bewaringsbewustes
my uitkryt as ‘n sondaar, maar ek is geneig om met dr John
Kirkegaardt saam te stem, wat tydens die twee Kanolasimposiums
wat die Proteïennavorsingstigting (PNS) aangebied het, gesê het
dat in Australië “most no-till adopters continue some strategic
tillage for a range of sound agronomic reasons”.
As dit verkies word bo die benutting van die geleentheid om die
doeltreffendste eenjarige grasdoder tot ons beskikking tot sy
volle potensiaal te benut – en om veral raaigras onder die knie te kry
– dan weet ek nie.
Ander onkruiddoderopsies wat grasbeheer by kanola bied, sluit
in metazachlor (Butisan), triasiene (onder andere atrasien en sima-
sien), imasamoks (Cysure) en propisamied (Kerb).
Metazachlor is ‘n uitstekende eenjarige grasdoder wat saailinge
tydens ontkieming dood. Dit word algeheel oor die grondopper-
vlakte gespuit tydens of direk ná plant. Dit benodig reën (onge-
veer 15 mm) om dit in die ontkiemingsone van die saad in te loog
om sy werk te doen.
Die produk moet vroeg genoeg na ontkieming van die saad inge-
loog word om deur die kolioptiel opgeneem te word, anders sal
grasse wat bo die oppervlakte verskyn, nie langer beheer word
nie. Weens die onbetroubaarheid van reën rondom planttyd, word
baie min metazachlor egter gespuit.
Die triasiene kan met plant of vroeg na-opkoms van die onkruid
gespuit word. Simasien word verkies vir die vooropkomsbespui-
ting, terwyl atrasien, wat ook deur die blare opgeneem word, vir die
na-opkomstoediening verkies word.
Let wel: Triasien kan net op triasien-tolerante (TT) kanolakultivars
gebruik word. Die TT-kultivars se opbrengspotensiaal is egter 10%
tot 20% laer as die konvensionele of Clearfield (CL)-kanolakultivars.
FOKUS
Kanola
Spesiale
CHRIS CUMMING,
PNS konsultant