DR CHARLIE REINHARDT, BUITENGEWONE PROFESSOR, UNIVERSITEIT VAN
PRETORIA EN DEKAAN: VILLA ACADEMY
Onkruiddoder-selektiwiteit verwys na die vermoë van onkruiddoders
om tussen plantsoorte te onderskei wat betref skadelike uitwerking – ‘n
onkruiddoder wat selektief is, beheer of beskadig sekere soorte plante
en ander weer nie.
Die ruuste onderskeid wat in selektiwiteit van onkruiddoders getref word,
is tussen sogenaamde grasdoders (onkruiddoders wat grasse beheer) en
breëblaardoders, dit wil sê onkruiddoders wat plante anders as grasse
en uintjies beheer.
Vanselfsprekend is onkruiddoder-selektiwiteit ‘n vereiste wanneer
grasdoders in grasgewasse en breëblaardoders in breëblaargewasse
gebruik word. In die vorige artikel (Deel 16) in hierdie reeks is
beveiligingsmiddels (
safeners
) behandel as een van die maniere om
onkruiddoder-selektiwiteit te bewerkstellig. Omdat onkruiddoder-
beveiligers sintetiese chemikalieë is, kan hierdie toepassing as
“mensgemaakte” onkruiddoder-selektiwiteit beskou word.
Inherente of natuurlike onkruiddoder-selektiwiteit is wanneer plante die
natuurlike vermoë het om onkruiddoders wat binne-in die plantsisteem
teenwoordig is teen so ‘n vinnige tempo onskadelik te stel dat die plant
nie beskadig word nie. Ideale onkruiddoder-selektiwiteit is wanneer die
gewasplant die vermoë het om ‘n onkruiddoder vinnig onskadelik te stel
en hierdie vermoë ontbreek in die onkruide wat in die gewas voorkom.
Gewassoorte met die natuurlike vermoë om onkruiddoders te weerstaan
weens vinnige onskadelikmaking ná die onkruiddoder in die plantsisteem
beland het, het nie weerstand teen daardie onkruiddoder nie. Sulke
gewassoorte is egter ten beste onkruiddoder-verdraagsaam aangesien
verskeie faktore die gewas se reaksie teenoor die onkruiddoder bepaal.
Die belangrikste faktore wat plante se verdraagsaamheid teenoor
onkruiddoders bepaal, is die volgende:
Plantfaktore
Ouderdom
Posisie en stadium van ontwikkeling van groeipunte
Tempo waarteen onkruiddoder binne-in die plant onskadelik
gestel word
Genetiese modifikasie, byvoorbeeld Roundup Ready tegnologie
Onkruiddoder-eienskappe
Manier van werking (kontak of sistemiese werking)
Manier van toediening
Stabiliteit in die plantsisteem, dit wil sê weerstand teen afbraak/
inaktivering binne-in plante
Omgewingsfaktore
Klimaat en grondeienskappe
GM-gewasse is nie weerstandbiedend teenoor bepaalde onkruiddoders
nie, maar word as onkruiddoder-verdraagsaam beskou. Belangrik in die
geval van GM-gewasse is dat, danksy tegnologie wat op langtermyn-,
deurtastende navorsing berus, daar by hierdie gewassoorte ‘n sterk mate
van verskansing of beskerming is teen bogenoemde faktore wat ‘n plant
se onkruiddoder-verdraagsaamheid beïnvloed.
Planteienskappe en onkruiddoder-
selektiwiteit
In die algemeen is plante op hul gevoeligste vir onkruiddoders tydens
jong groeistadia en wel ná ontkieming van saad, tydens opkoms en in
die saailingstadium. Op ‘n jong stadium is daar swak ontwikkeling van
strukture en verbindings soos haartjies en was op blaaroppervlaktes,
met die gevolg dat daar ‘n beter kans vir opname van blaartoegediende
onkruiddoders is by jong as by ouer plante.
Jong plante groei aktief en ‘n vinnige metabolisme is bevorderlik vir
die opname van onkruiddoders deur beide wortels en blare asook die
translokasie van onkruiddoders na die gevoelige sones of “setels van
werking” binne-in plante. In ouer plante kan relatief stadiger groei die
opname en translokasie van onkruiddoders beperk.
In sekere gevalle is die posisie van die plant se groeipunt bepalend vir
onkruiddoder-verdraagsaamheid; byvoorbeeld, 2,4-D onkruiddoder kan
met veiligheid in mielies gebruik word eers nadat die groeipunt bogronds
is en selfs dan moet die onkruiddoder met valarms toegedien word om
te verhoed dat dit in die kelk van plante beland, dit wil sê in die nabyheid
van die gevoelige groeipunt.
Deel 17
Ken jou onkruiddoder
Onkruiddoder-selektiwiteit
Onkruidbeheer
Insette/Produksie
34
Februarie 2014