

Opleiding, navorsing en voorligting:
Die kopklem waarin produsente verkeer vra kopskuiwe hierin
V
olhoubare landbou die wêreld oor is gebou op die drieledige
fondasie van opleiding, navorsing en voorligting. Daar
word globaal aanvaar dat dit mank sal gaan met primêre
voedselproduksie en voedselsekerheid as slegs een van
hierdie drie pilare verswak is of ontbreek (sien
Figuur 1
).
Dit is algemene kennis dat voorligting van staatskant af aan spesifiek
kommersiële produsente in ons land, oneffektief is en selfs totaal
ontbreek. Landbounavorsing in Suid-Afrika is problematies omdat
dit gefragmenteer is tussen die Landbounavorsingsraad (LNR)
op streeksvlak en die Departement Landbou, Bosbou en Visserye
(DLBV) op nasionale vlak.
In die najaag na internasionale status, wat gemeet word aan
internasionale publikasies, doen ons universiteite deesdae in baie
gevalle landbounavorsing waarvan relatief min van die uitkomstes
plaaslik relevant is.
Gelukkig is daar in die LNR en universiteite steeds eilande van
uitnemendheid waar ‘n goeie balans tussen fundamentele en plaaslik
relevante navorsing behaal word. Die algemene tendens van minder
navorsing vergeleke met die situasie ‘n dekade of twee gelede kan
toegeskryf word aan kwynende menslike hulpbronne (spesifiek wat
betref spesialis navorsers) en begrotings.
Suid-Afrikaanse landbou is in die gelukkige posisie dat daar inno-
verende planne in georganiseerde landbou en die privaat sektor
gesmee word om landboupraktyke met toekomstige uitdagings tred
te laat hou. Graan SA is in alliansie met die LNR en eersgenoemde
is ook betrokke by opleiding. Die landbouchemiese maatskappy
Villa Crop Protection (Edms) Bpk het in 2012 betrokke geraak by
opleiding in oesbeskerming met die stigting van die Villa Academy
(Edms) Bpk.
Laasgenoemde instansie het onlangs aansoek by die Departement
Hoër Onderwys en Opleiding gedoen vir registrasie/akkreditasie van
twee kwalifikasies: Hoër sertifikaat (een jaar) en diploma (drie jaar)
in oesbeskerming.
Die afgelope dekade of twee was daar verreikende omwentelinge
in landbou-opleiding in Suid-Afrika. Landboufakulteite aan verskeie
universiteite is met Natuurwetenskapfakulteite saamgesmelt om
superfakulteite te skep waarin die fokus van opleiding en navorsing
op primêre voedselproduksie, wat toepaslik vir Suid-Afrikaanse
landbou is, in baie gevalle getaan het.
Landboukolleges is klaarblyklik slegter daaraan toe, met opleiding
wat drasties verswak het tot ‘n vlak wat onlangse ingryping van
staatskant genoop het – tyd sal leer of die jongste nasionale plan
om landboukolleges te laat herleef suksesvol gaan wees. Onder die
tros nuwe universiteite wat onlangs gestig is, is daar ‘n enkele een
wat op landbou toegespits gaan wees – dit is bestem om die Laeveld
Landboukollege in Nelspruit te vervang – tyd sal leer watter kwaliteit
opleiding en navorsing daar bedryf gaan word.
Bostaande skets ‘n taamlik somber prentjie wat betref die toe-
komstige beskikbaarheid van innoverende kennis en tegnologie
wat nodig is om die Suid-Afrikaanse produsente van primêre voed-
selprodukte voldoende te bemagtig. Die ander kant van die storie
is die positiewe een, waar oplossings gesoek word met behulp van
die kennis gesetel in mense en tegnologie wat ontwikkel en bedryf
word deur sulke mense.
37
December 2014
AKTUEEL
CHARLIE REINHARDT,
buitengewone professor in Onkruidwetenskap: Universiteit van Pretoria en dekaan: Villa Academy
NAVORSING
ONDERSTEUNING
VIR PRODUSENT
VOORLIGTING
OPLEIDING
Figuur 1: Suksesvolle produsente steun op adviseurs wat oor toepaslike kundigheid en ervaring beskik; suksesvolle adviseurs steun op hulle beurt op
kennis wat deur opleiding en navorsing opgebou is.