

Desember 2014
38
AKTUEEL
Produsente wat tot dusver suksesvol bygedra het tot volhoubare
voedselproduksie sou dit lankal aan hul eie velle gevoel het. Die
druk waaronder hedendaagse kommersiële produsente gebuk
gaan is multifaktoriaal van aard – alleenlik toepaslike kennis,
ervaring en tegnologie kan die vele uitdagings wat daar in primêre
voedselproduksie bestaan, suksesvol die hoof bied.
Langtermynskattings van menslike populasiegroei wys op minstens
3 miljard meer mense teen 2050 as vandag se 6,5 miljard. Van nou
tot dan sal primêre voedselproduksie (gewas- en diereproduksie)
nie kan byhou indien die tegnologie en praktyke wat produsente ge-
bruik nie dramaties gaan ontwikkel en verbeter nie. Nuwe en
verbeterde tegnologie benodig mense met kennis en kennis word
gebou deur opleiding; en buitendien, wie gaan die opleiers oplei?
In die strewe na langtermynvolhoubaarheid sal produsente verskeie
uitdagings moet kan trotseer:
Politieke druk – bes moontlik ‘n faktor wat die produsent min tot
niks aan kan verander.
Minderwordende landbougrond – groeiende bevolkings plaas
druk op landbougrond wat die onus op produsente plaas om
meer per eenheid grondoppervlak te produseer volgens die
konsep van “volhoubare intensivering”.
Minderwordende plattelandse bevolking – ‘n afname in plaaslike
menslike hulpbronne en markte lei tot ‘n verlies aan kundigheid
en die verswakking van plattelandse openbare infrastruktuur.
Klimaatsverandering – aardverwarming is reeds ‘n werklikheid
wat tot onstabiliteit in ander klimaatsfaktore, soos reënval kan
lei. Die vermoë van veral gewasplante om by klimaatsverande-
ring aan te pas, sal afhang van hoe vinnig saadmaatskappye
genetiese verbetering kan bewerkstellig en tot watter mate.
Stagnering van groei in gewasopbrengste – die gemiddelde
opbrengs van ons belangrikste gewasse het sedert die
tagtigerjare verdubbel danksy die verhoging van die “genetiese
opbrengsplafon” deur middel van innovasie in tegnologie
wat insluit produksie-insette, soos bemesting, onkruid- en
plaagbeheer en saad. Teen 2050 sal produksie minstens
nog ‘n keer moet verdubbel; dit kan ten beste bereik word
met versnelde genetiese verbetering van gewasse, oftewel
“genetiese modifikasie” deur middel van GM-tegnologie.
Uitputting van natuurlike hulpbronne – dit is algemene kennis
dat ons water- en grondbronne oor tyd net minder gaan
raak; derhalwe moet daar meer met minder per eenheid
grondoppervlak geproduseer kan word.
Toegang tot wêreldmarkte – die kwaliteit van produkte en die
terugspoorbaarheid van praktyke sal hopelik sterker tel as
politiek wat poog om markte te begrens.
Beskikbaarheid van nuwe tegnologie – ingevoerde tegnologie
sal waarskynlik nog baie ver die toekoms in die Suid-Afrikaanse
landboutoneel oorheers. Op sigself is dit nie ‘n nadeel nie, maar
dan moet daar minstens plaaslike kundigheid in die vorm van
goed opgeleide mense in plek wees ten einde te verseker die
tegnologie word doeltreffend oorgedra en toegepas.
Die mate waartoe produsente bostaande uitdagings sal oorkom, sal
wissel van persoon tot persoon en van streek tot streek en selfs van
plaas tot plaas. Die “kopklem” kan met ‘n “kopskuif” van negatief na
positief verander word, mits daar voldoende ondersteuning in die
vorm van toepaslike kennis en tegnologie aan produsente beskik-
baar is.
Kommersiële produsente het hulself met groot sukses reeds onaf-
hanklik van die staat se gebrekkige voorligtingsdiens gemaak. Dit,
anders as in ontwikkelde lande, maak Suid-Afrikaanse produsente
grootliks afhanklik van voorligting wat deur diensverskaffers
(chemiese en saadmaatskappye) gelewer word – sodanige diens
is argumenteerbaar nie objektief nie, aangesien die verkoop van
produkte deur die adviseur daaraan gekoppel is.
Alhoewel die kennis en ervaring van diensverskaffers/adviseurs in
die privaat sektor in die meeste gevalle bo verdenking behoort te
wees, kan dit produsente loon om groter klem te plaas op die vlak
van opleiding en ervaring van diegene op wie se advies staatge-
maak word. Té veel gevalle waarby miljoene rande se skade betrokke
kan wees, word jaarliks gerapporteer en in baie gevalle is dit te wyte
aan verkeerde advies deur ‘n persoon wat as deskundige optree.
Almal betrokke in die landbou behoort skerper ingestel te wees op
goeie, toepaslike opleiding, hetsy gesetel in eksterne adviseurs, die
plaasbestuurder/voorman, of in die produsent self. Suid-Afrika is
tans geseënd met baie mense wat oor die nodige kundigheid en
ervaring beskik om produsente doeltreffend te ondersteun, maar
hierdie korps van kundigheid is in die algemeen op die ouderdoms-
vlak van 50 en ouer. Waar gaan die nuwe geslag kundiges vandaan
kom en wie gaan hulle oplei?
Vir meer inligting, kontak gerus vir dr Charlie Reinhardt by 083 442
3427 of
dr.charlie.reinhardt@gmail.com .Opleiding, navorsing en voorligting
SA Graan/
Sasol Nitro fotokompetisie
Almal betrokke in die landbou behoort skerper ingestel te wees op goeie, toepaslike opleiding, hetsy gesetel in eksterne adviseurs, die plaasbestuur-
der/voorman, of in die produsent self.