

April 2017
52
Die produksie van ‘n
goeie gehalte kalf bekyk
I
n die afgelope paar jaar word daar wêreldwyd al meer druk op
die diereproduksiebedryf geplaas om hul gebruik van antimikro-
biese middels (antibiotika) dramaties te verminder. Die reaksie
is gegrond op die persepsie dat oorgebruik en misbruik van dié
middels weerstandige organismes kweek, wat die sogenaamde
super bugs
teweegbring.
Hierdie verwikkelinge het ‘n groot impak op alle bedrywe, wat pro-
dusente gaan forseer om meer klem op die voorkoming van siek-
tetoestande te lê, in plaas daarvan om diere gesond te spuit met
alles wat hul moontlik in die hande kan kry.
Die beesbedryf gaan definitief daardeur geraak word, wat die
produksie van “sterker” kalwers, as ons dit so kan stel, kan noodsaak.
Baie faktore speel ‘n rol as dit by siektevoorkoming kom. Dit gaan
hand aan hand met die produksie van ‘n gesogte kalf. Hierdie be-
stuursfaktore sluit onder andere in: Voeding, parasietbeheer, ge-
sondheid, higiëne, genetika en voorkoming van siektes – wat die
inenting van die diere kan insluit.
Oor die algemeen is die enigste bron van inkomste van ‘n speen-
kalfboerdery die verkoop van kalwers. Dit is dus belangrik dat elke
koei elke jaar ‘n kalf produseer en dat die regte keuses gemaak
moet word as dit by vervangingsverse kom.
‘n Goeie kuddegesondheidsprogram is van kardinale belang en is
essensieel om ‘n goeie, gesonde, sterk kalf te produseer. Enting
van diere teen die belangrikste siektes is noodsaaklik – veral vir die
koeie op strategiese tye voordat hulle kalf.
Aanbevole entings vir die koei sluit in:
Virussiektes
Beesvirusdiarree (BVD)
Aansteeklike beesrinotrageïtis (IBR) longontsteking
Bees respiratoriese sinsitiale virus
Paraïnfluensavirus
Slenkdalkoors
Knopvelsiekte
Driedagstywesiekte
Bakteriële siektes
Mannheimia haemolytica
Pasteurella multosida
Histophilus somni
Brucella abortis
(Brusellose)
Sponssiekte
Miltsiekte
Lamsiekte
Enige multiklostridiale produk
Enige bakteriële siekte wat ‘n probleem op die plaas is,
byvoorbeeld
E. Coli.
Indien rooiwater en galsiekte ‘n probleem in jou area is, moet dit
nie geïgnoreer word nie. Ongelukkig bestaan daar nie ‘n generiese
kuddegesondheidsprogram nie en elke kuddeprogram moet in
samewerking met ‘n veearts saamgestel word om die beste resul-
tate vir jou spesifieke omstandighede en area te verkry.
‘n Volledige, tydige, korrek-toegediende entingsprogram verseker
hoë teenliggaamkonsentrasies in die kolostrum om passiewe im-
muniteit met geboorte na die kalf oor te dra. Dit gee aan hulle ‘n
beter kans op oorlewing en beter groei kan verwag word. Hierdie
entstowwe moet verkieslik op drie maande-ouderdom herhaal
word, wanneer die passiewe immuniteit van die kalwers begin daal
en die kalf se eie immuunstelsel optimaal begin funksioneer. As die
kalwers gespeen word, moet hulle weer geënt en ontwurm word.
Aandag moet geskenk word aan die toediening van lewendige
of geïnaktiveerde entstowwe (dooie entstowwe) – veral wanneer
dragtige koeie geënt word. Sommige lewendige entstowwe kan
aborsies veroorsaak, wat ekonomiese verliese tot gevolg het.
Geïnaktiveerde (dooie) entstowwe
Dooie entstowwe moet vir dragtige teeldiere en kalfies wat nog
suip, gebruik word. Op hierdie wyse word die kalf van geboorte af
beskerm – mits kalwers genoeg (ongeveer 800 ml in vleisbeeste)
kwaliteit kolostrum binne ses ure na geboorte inneem. Gebruik
altyd die entstof soos deur die vervaardigers aanbeveel. Die eerste
toediening met ‘n dooie entstof moet altyd vier tot ses weke later
met ‘n skraagdosis opgevolg word.
Lewendige entstowwe
Lewendige entstowwe moet gebruik word in situasies waar ‘n
vinnige immuunsisteemreaksie verlang word. In voerkraalomstan-
dighede is onmiddellike beskerming belangrik omdat die hoë
bevolkingsdigtheid en die gevolglike siekteverspreiding dit vereis.
Die diere is gestres en ‘n vinnige, doeltreffende immuunsisteem
reaksie is noodsaaklik, omdat beeste oor ‘n kort tydperk aan hoë
virusladings in die omgewing blootgestel word. Lewende entstow-
we behoort verkieslik nie vir beeste jonger as vier maande toegedien
te word nie.
Interne parasiete soos rondewurms en lewerslak kom algemeen in
beeste voor. Hierdie verskuilde parasiete veroorsaak swak produk-
sie en kan selfs tot vrektes lei. Interne parasiete word op die veld
opgetel soos die diere wei.
Tekens van groot wurmladings is diarree, swak groei, boepens
(
potbelly
)-voorkoms en swak of growwe haargroei. Ontwurming
moet strategies deur die jaar gedoen word om die wurmgetalle
onder beheer te hou. Kontak ook jou veearts om deur middel
van mismonster en ander metodes te besluit wanneer gedoseer
moet word.
Optimale voedingsbestuur is natuurlik van uiterste belang om te
verseker dat die bogemelde beginsels optimaal werk. Jy kan nie ‘n
ondervoede kalf of koei reg spuit of doseer nie. Al die belangrike
voedingselemente is uiters belangrik vir ‘n goeie funksionerende
immuunstelsel en -reaksie.
OP PLAASVLAK
Siektevoorkoming / Inenting / Kuddegesondheidsprogram
Diere
DRS SHAUN MORRIS, EBEN DU PREEZ
en
PIERRE JANSEN VAN VUREN,
S & E Feedlot Consulting