18
Oktober 2015
FOKUS
Diere
Spesiale
Skaapboerdery se potensiaal
in mielieproduserende gebiede
S
kape is ‘n goeie alternatief om die winsgewendheid van die
boerderyeenheid te verskans. Weiding- en voedingshulp-
bronne op ‘n tipiese plaas in die somersaaigebiede met ‘n
graanopbrengspotensiaal van 4 ton/ha tot 5 ton/ha, bied
groot geleenthede vir intensiewe skaapboerdery.
Om ‘n eenheid van 500 mediumraamgrootte teelooie te bedryf, kan
op so min as 135 ha gedoen word. Ongeveer 60 ha soja- en mielie-
reste, 60 ha meerjarige someraangeplante weiding en 15 ha weimie-
lies word benodig om ‘n teelooi-eenheid van 500 aan te hou.
Die kapitaalbelegging in grond per teelooi is aansienlik laer as by-
voorbeeld Karoogronde waar afhangende van die gebied, 1 500 ha
tot 3 000 ha nodig is vir ‘n ooi-eenheid van 500. Kontrole en beheer
oor diefstal en ongediertes op ‘n kleiner oppervlakte is baie goed-
koper en makliker as op groot oppervlaktes.
Oesreste vir oorwintering teen lae koste
In ‘n tipiese voervloeibeplanning bied oesreste goeie gehalte wei-
ding vir vier tot ses wintermaande teen ‘n lae koste. Met die uitbrei-
ding van sojaboonaanplantings, is sojaresteweiding reeds vanaf
April beskikbaar en afhangende van beskikbare oppervlaktes, kan
skape vir ses tot agt weke op sojareste loop en dan op mieliereste vir
die volgende ongeveer vier maande.
Volwasse skape benut sojareste baie goed omdat hul behoefte aan
deurvloeiproteïen baie laer is as dié van lakterende ooie en lammers.
Sojaresteweiding is ‘n uitstekende prikkelvoer vir ooie en in prikkel-
voedingsproewe is gevind dat sojabone lampersentasie met 14,3%
verbeter het, in vergelyking met ‘n negatiewe kontrole.
Drakragriglyn van sojareste
Skape benut die reste (plantmateriaal) baie beter as byvoorbeeld
mieliereste en die drakragriglyn van sojareste is vyf tot sewe klein-
vee (KVE)-eenhede (KVE – ‘n 45 kg - 50 kg skaap) vir ‘n weiperiode
van 80 tot 100 dae.
Selfs die growwer plantmateriaal en stingels word baie goed benut.
Die rou sojaboon is hoog in proteïen (ongeveer 36%), maar dit het
sekere beperkinge in die vorm van nievoedingsfaktore, soos byvoor-
beeld tripsien- en chemotripsien-inhibeerders en ‘n laag verteerbare
aminosuurprofiel. Dit veroorsaak dat lammerooie op sojareste dik
en taai biesmelk het, min melk produseer en gevolglik groei lam-
mers swak.
Prosessering van sojabone is nodig om die nievoedingsfaktore op
te hef en die voedingspotensiaal te ontsluit. Die resteweiding kan
nie geprosesseer word nie en daarom moet die regte lekaanvulling
gegee word om die beperkinge te oorkom. Lekke soos byvoorbeeld
Voermol Molovite bevat goeie gehalte natuurlike proteïen (geen
ureum nie) en is die standaard aanbeveling op sojareste.
Vir lammerooie moet een sak Voermol Procon 33 met drie sakke
Molovite gemeng word om die deurvloeiproteïen te verhoog en gee
vir hoogproduseerders, soos tweelingooie en speenlammers, die
volgende mengsel: 500 kg Molovite, 300 kg Procon, 200 kg mielie-
meel en 10 kg voerkalk.
Drakragriglyn van mielieresteweiding
Die drakragriglyn van mielieresteweiding is nege tot twaalf KVE/ha
vir ‘n weiperiode van 90 tot 120 dae. Beweiding van mieliereste
moenie ten koste van langtermyngraanproduksie geskied nie.
Mnr I.A. Koster (persoonlike mededeling) het in ‘n langtermynstudie
oor 17 jaar gevind dat die graanopbrengs met 280 kg/ha gedaal het
(5,33 ton/ha teenoor 5,61 ton/ha) waar alle reste verwyder is in
vergelyking met proefpersele waar geen reste verwyder is nie.
By bogenoemde veelading word ongeveer 40% van die reste verwy-
der, met ander woorde meer as die helfte van die reste word op die
land gelaat vir die instandhouding en opbou van organiese materi-
aal. Indien reste nie bewei word nie, verdwyn ongeveer 21% oor die
winter as gevolg van wind en verwering.
Die energiewaarde van vars gestroopte lande is hoog, veral waar ‘n
redelike hoeveelheid graan in die oesproses vermors is. Die hoeveel-
heid mielies op ‘n vars gestroopte land wissel baie en navorsing met
behulp van slukdermgefistelleerde skape toon aan dat ‘n skaap tot
800 g mielies binne ‘n halfuur vreet.
Skape wat nie op graanvoeding aangepas is nie, ontwikkel suurpens
met verliese tot gevolg. ‘n Verdere probleem met mieliereste is dat
die proteïenwaarde marginaal tot laag is, veral vir diere met ‘n hoë
voedingsbehoefte, soos lammerooie en speenlammers. Tekorte aan
kalsium, magnesium, sink, koper en selenium (veral op rooi gronde)
kom ook voor.
HENDRIK VAN PLETZEN,
Voermol Voere
Sojabone is ‘n goeie prikkelvoer en het lampersentasie met 14,3%
verhoog bo ‘n negatiewe kontrole.