SA Grain October 2013 - page 111

Padindrukke van Subaru
se nuwe Foresters
S
ubaru het onlangs hulle vierde geslag Forester-reeks in Suid-
Afrika geloods. Alhoewel die nuwe model Forester baie lyk soos
die vorige model, is dit ‘n kompleet nuwe voertuig. Dit het meer
bykomstighede en het ‘n nóg sterker onderstel.
Daar is vyf modelle in die nuwe reeks met ‘n keuse van ‘n 2,5 liter wat
126 kW aantree, ‘n gatskop turbo-ondersteunende 2 liter wat 177 kW na
die speelveld bring en ‘n 2 liter, sonder die turbo, wat 110 kW ontwikkel.
Laasgenoemde enjin is slegs beskikbaar in die intreevlak Forester 2.0
X-model. Hierdie model is net beskikbaar in ‘n ses-spoed ratkas. Die ander
vier modelle het die CVT-ratkas wat beteken dat die ratkas voortdurend
aanpassings doen ten opsigte van die enjinspoed en die spoed van die
voertuig.
Behalwe die permanente vierwielaandrywing wat ‘n mens assosieer met
Subaru, het die nuwe Foresters ook Subaru se sogenaamde “X-funksie”
(“X-mode”). Dit is ‘n gerekenariseerde stelsel, wat sorg dat die regte dinge
tussen die ratkas, enjin en wiele onmiddellik gebeur. Met die kombinasie
van vierwielaandrywing en die X-funksie, is daar min voertuie wat so
padvas is soos die nuwe Foresters.
Die Foresters ry almal gemaklik en op die oop pad sal die 2.0 XT-model
met sy 177 kW-enjin menige sportiewe motors die hakskene wys.
Al die Foresters is baie weelderig en uiters goed, met die beste wat
motortegnologie bied, toegerus. Al die modelle het byvoorbeeld as
standaard ‘n agterste videokamera met ‘n skermbinnekant, sewe lugsakke
binne, ‘n USB-punt en Bluetooth om onder meer telefoonoproepe hande-
vry te hanteer asook ‘n spoedkontrole.
Verdere pluspunte is die 220 mm grondvryhoogte en die drie jaar/
75 000 km onderhoudsplan.
Die prys van die 2.0 X-model is R329 000. Die topmodel van die 2,5 liter
enjins is die 2.5 XS premium wat R429 000 kos en die vinnige 2.0 XT kos
R529 000.
Subaru se Forester-reeks kompeteer op dieselfde sportiewe nutsvoertuig
(SNVs) speelveld as Huyndai se iX35 en Santa Fe; Kia se Sportage en
Sorento; die Audi Q5 en die BMW X1. As jy egter kyk wat veral die
Forester 2.0 XT bied en as jy nie omgee om ‘n paar sentimeter voor en
agter op te offer nie, is hierdie model ‘n verstandige alternatief vir die
BMW X5.
Wiele vir die plaas
GERRIE SMIT, LID VAN DIE
SA MOTORSKRYWERSGILDE
Rubrieke
109
October 2013
Die Subaru Forester het permanente
vierwiel-aandrywing wat hom laat klou
soos min ander voertuie in sy klas.
Subaru se vinnige en luukse Forester XT
is die topmodel in die Forester-reeks.
1...,101,102,103,104,105,106,107,108,109,110 112,113,114,115,116
Powered by FlippingBook