64
Mielie-invoere verloop vlot
danksy graanhanteerders
G
egewe die droogte en ‘n geskatte kleiner mielie-oes is
‘n doeltreffende mielie-invoerprogram broodnodig om
voedselsekerheid vir Suid-Afrika se bevolking te verseker.
Die graanhanteringsketting is in hierdie opsig besig om
homself uitstekend van die taak te kwyt.
Teen Maart vanjaar is meer as ‘n miljoen ton Suid-Amerikaanse
geelmielies reeds deur die Kaapstad-, Oos-Londen-, Durban- en Port
Elizabeth-hawens ingevoer en witmielie-invoere vanaf die VSA en
Mexiko volg binnekort. Hierbenewens handhaaf die graanhande-
laars, hawe-owerhede, Transnet en vervoermaatskappye steeds
die normale invoere van kommoditeite soos koring, graansorghum,
sojabone, sonneblomsaad en oliekoek vir die veevoerbedryf.
“Die reuse taak word uitstekend verrig en die graanhanteringsket-
ting verdien ‘n pluimpie hiervoor,” het me Annatjie Loio, president
van die Graanhanteringsorganisasie (Gosa), by hul 33ste jaarsimpo-
sium op Langebaan in die Wes-Kaap op 16 Maart vanjaar gesê. Sy is
tydens die simposium herkies as Gosa se president.
Volgens Loio is die landbousektor tans in die knyp weens die droog-
te, ‘n verswakking in die rand én ‘n gebrek aan leierskap deur die
regering. Hoewel die swakker rand ‘n direkte gevolg van die rege-
ring se aanstelling van drie ministers van finansies in een week is, is
dit die verbruiker wat daaronder ly en hoër pryse moet absorbeer.
Die ekonoom, dr Roelof Botha, het tydens die simposium gesê
die ministers van finansies-debakel kos die land tans ‘n maande-
likse invoerrekening van R9,3 miljard, wat gelykstaande is aan
200 000 lae-kostehuise oftewel 37 Nkandla’s per maand. Op ‘n
positiewe noot reken hy egter dat ‘n krediet-afgradering vir die land
op hierdie stadium onwaarskynlik is.
Suid-Afrikaners moet besef dat klimaatsverandering ‘n verdere ne-
gatiewe impak op die landboubedryf kan hê. Prof Kobus van der Walt
van die Noordwes Universiteit het tydens die simposium genoem
dat statistiek toon dat globale temperature teen die einde van die
eeu met tot 11°C kan styg, met ekstreme weerstoestande wat
algemeen kan voorkom. Hy verwag ‘n fisiese waterskaarste in 2025,
wat die plaaslike landbousektor gaan dwing om gewasse meer doel-
treffend met minder water te produseer.
Ander sprekers by die simposium was die strateeg, dr Clem Sunter,
mnre Steve Hochfeld van Hochfeld Grains, Marion Delport van die
Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP), die motiveringspreker,
Rian Truter en die politieke analis, dr Piet Croucamp.
Laasgenoemde was, saam met mnre Kallie Schoeman van Schoe-
man Boerdery en Johan van der Watt van Absa, deel van ‘n inte-
ressante paneelbespreking. Konsolidasie in die landbousektor is
bespreek en hoe die droogte verdere momentum aan konsolidasie
kan verleen.
Afgevaardigdes na die simposium het bestaan uit graanhanteerders
soos Afgri, Senwes, NWK, Suidwes, OVK, BKB asook die verwer-
kings- en distribusiebedrywe, finansierders, graanhandelaars, inset-
verskaffers en statutêre rolspelers.
Loio het melding gemaak van die goeie bywoningsyfer en sty-
gende ledetal wat die organisasie in staat stel om as medium vir
bedryfspesifieke inligting op te tree. Tydens ‘n algemene jaarver-
gadering is Gosa se raad eenparig herkies waarna die fasilitering
van opleidingswerkswinkels in die bedryf bespreek is.
AKTUEEL
ELMARIE HELBERG,
namens die Graanhanteringsorganisasie van Suider-Afrika
Ekonomiese en klimaatsvooruitsigte was aan die orde van die dag
tydens vanjaar se Gosa-simposium. Sprekers soos dr Roelof Botha
(links) en prof Kobus van der Walt het weer eens beklemtoon hoe
belangrik effektiewe bestuur is, of dit nou van ‘n land se finansies,
of ‘n boerdery se waterverbruik is. By hulle staan Annatjie Loio.