

53
July 2016
OP PLAASVLAK
Bestuurspraktyke
Die verspreiding van kultivars met verskillende groeiseisoenlengtes
hou die volgende voordele in:
Dit verlaag die risiko vir hitte- en droogtestres.
Dit verminder die gevaar dat alle kultivars tydens die midsomer-
droogte blom en bestuif.
Die bestuiwingsperiode word verleng.
Sommige kultivars kan vroeër gestroop en bemark word.
Die impak van siektes en plae kan verlaag word.
Dit is ook belangrik dat alle vinnige kultivars nie later geplant
word nie, maar dat vinnige en mediumgroeiers vroeg en laat geplant
word om risiko te versprei.
Staanvermoë
Staanvermoë is belangrik, want dit vergemaklik die oesproses.
Kultivars wat vroeg omval, het ook opbrengsverliese tot gevolg om-
dat sapvloei- en fotosintetiese prosesse beïnvloed word.
Dit is ook baie belangrik dat mielies wat teen hoë plantestande
geplant word, ‘n goeie staanvermoë het.
Siekteverdraagsaamheid
Siekteverdraagsaamheid is baie belangrik, want sekere siektes kan
die totale oes vernietig. Dit is ook belangrik om te kyk na die effek
wat bestuurspraktyke soos monokultuur op die kultivar het. Die
kultivar kan nie al die foute regmaak nie. Maak seker jy ken die siek-
tes in die omgewing en kies dan kultivars met die beste weerstand.
Biotegnologie-eienskappe
Kies biotegnologie-eienskappe wat inpas by jou praktyke en ge-
bruik dit tot jou voordeel. Gebruik die nuutste en ook die mees effek-
tiewe tegnologie.
Agronomiese eienskappe
Agronomiese eienskappe is baie belangrik en verskeie daarvan
kan ‘n rol in kultivarkeuse speel. In ligte sandgronde in die Vrystaat
moet kultivars sterk opkom en groeikragtig wees om vinnig uit die
wind uit te kan kom.
Kultivars vir verskillende stelsels
Kultivars is ontwikkel om aan verskillende vereistes te voldoen.
Daarom is daar ultra-kort-, kort-, medium- en langgroeiers en ander
kultivars wat meerkoppig is. Ander kultivars is weer bekend vir
hulle vermoë om te spruit. Behalwe vir hierdie bekende verskille, is
daar kultivars wat besondere sterk wortelstelsels het en sodoende
die vermoë besit om binne byvoorbeeld ‘n direkte plant-stelsel goed
te vaar.
Jy as produsent kan dus ‘n kultivar kies wat binne jou plantvenster
en verwagte midsomerdroogte inpas, maar ook binne jou boer-
derystelsel. Die regte kultivar sal gekies moet word en op die regte
manier bestuur moet word.
Dit mag aspekte soos plantpopulasie en bewerking insluit. Hoe
korter die kultivar, hoe minder sal die kultivar vir ongunstige
toestande verdraagsaam wees. Gewoonlik sal hierdie kultivars se
plantpopulasie ook ‘n bietjie hoër moet wees. Praat gerus met jou
verteenwoordiger of landboukundige om jou met hierdie aanbeve-
ling vir jou spesifieke gebied te help.
Jy as produsent moet seker maak of die kultivar enkelkoppig
of meerkoppig is. Hierdie aspek sal ook help om te besluit hoeveel
die kultivar sal aanpas as daar baie gunstige omstandighede voor-
kom, of hoe die kultivar sal reageer as die omstandighede baie
ongunstig raak.
Soms mag dit wees dat ‘n kultivar baie spruite maak wat dalk
in goeie omstandighede die opbrengs dramaties kan verhoog,
maar as dit baie ongunstig raak, die opbrengs baie kan benadeel.
Weer eens is daar vir elke kultivar ‘n stel reëls wat toegepas
moet word. As die reëls nie optimaal vir die kultivar toegepas word
nie, kan dit die opbrengs erg benadeel en aan die kultivar ‘n slegte
naam besorg.
Maak seker dat jy die kultivar volgens sy eie stel reëls bestuur.
Samevatting
Kultivars moet geselekteer word met soveel inligting as moontlik
tot jou beskikking.
Kultivars se prestasie wissel oor seisoene heen en daarom is
meerjarige data noodsaaklik.
Veelvoudige lokaliteite is ook noodsaaklik om omgewingsfaktore
uit te skakel.
‘n Pakket van drie tot vyf produkte word aanbeveel om onbe-
heerbare risiko’s te minimaliseer.
Maak seker dat die kultivar volgens die optimale produksieprak-
tyk vir die kultivar bestuur word.
Geen kultivar, al het dit ‘n baie hoë opbrengs, sal elke keer elke
proef wen nie. Hoe meer data ingesamel en vergelykings gedoen
word, hoe groter is die kans dat jy die regte kultivarkeuse sal maak.
Wees versigtig om nie net op opbrengs te fokus en ander agro-
nomiese eienskappe te ignoreer nie.
KULTIVARKEUSE:
Hoe om die regte een te kies