

40
Beste Grootneef
l
angenhoven het gesê dat as jy iemand met iets wil gooi,
gooi met water. Hy kan dit immers nie teruggooi nie. Die
meeste studente by Wits het sweerlik nog nie tot daar in die
Versamelde Werke gevorder nie. Nadat hulle die
security
voor die Hoofgebou met klippe bestook het, gooi die wagte
die studente toe met dieselfde klippe terug! En toe kla die lot
studente dat hul menseregte aangetas word...
Dit is soos om met ‘n stok in ‘n bynes te karring en daarna te kla as
die bye jou piets. Ai, ons hier in die Suidland is so goed daarmee om
ons eie tragedies te skryf. Die tragedie van die jaar is egter duisende
jongmense wie se drome in die sloot af is.
Buurman vertel my anderdag van die boks wat hy gekoop het. Die
boks word so vier voet onder die grond in die middel van die land
geïnstalleer. Waterpas. En dan wag jy. Want die boks het ‘n rat-
werk vol positiewe energie met ‘n 360
o
-straal alkant toe.
Buurman sê die boks straal soveel positiewe energie uit dat jou
mielies sal groei asof daar ‘n spilpunt loop. Geen kunsmis is
nodig nie en goggas en wurms neem die wyk as die straal hul tref.
Dit is soos reëndruppels vol stikstof – die ene positiewe energie.
Op die foto’s van die boks waarin die boks verpak was, lyk dit be-
hoorlik asof mielies die hele land wil toerank.
Buurman sê verder jy kan die boks ook in die middel van die veld
installeer. Solank dit net waterpas in die gat sit voor jy dit weer
toegooi. Weiding soos jy nie sal glo nie. Die beeste glo blinkvet en
nie ‘n bosluis op ‘n bok, bees of skaap wat in daardie kamp loop nie.
Die boks met positiewe energie hou ook ongediertes soos rooi-
jakkalse, kraaie en ystervarke uit jou veld.
Die hele boks en al die positiewe energie kos jou net R200/ha. On-
gelukkig loop die straal deur ‘n doringdraad
en sal die buurman so ver die straal slaan, ook
die voordeel ontvang. Maar wie sal nou om-
gee om so bietjie positiewe energie te deel?
Met die boks veilig onder die grond – volgens
aanwysings vier voet diep en presies water-
pas, wag ons nou net vir die reën. Want die
boks laat los eers die positiewe energie as ‘n
duim reën geval het.
Ek vra vir Buurman die agent se telefoon-
nommer. Toe verduidelik Buurman daar is nie
‘n nommer nie, jy antwoord sommer op ‘n
e-pos en betaal die geld in die wonderboks-
rekening in. Jy klik net op die e-pos vir die
aantal hektare wat bestraal moet word en
stuur die bewys van betaling deur.
Die boks kom dan met ‘n koerier tot op die
dorp, alles ingesluit by die R200/ha. Hulle stel
sommer die boks vooraf in ook, vir die aantal hektare waarop die
boks sy werk moet doen.
Ek sit toe en dink die aand op die suide-stoepie oor die boks vol
positiewe energie. Die ding kan mos op ‘n klomp plekke gebruik
word. Die eerste wonderboks sal ek in die middel van die Bokke se
kleedkamer plant. Dalk straal die boks soveel positiewe energie uit
dat die Bokke soos Simson dwarsdeur ‘n hele horde Filistyne en
All Blacks werk – voor rustyd. Daarvoor sal ek sommer R400/ha
betaal. Hulle moet die ding net só stel dat die ander span nie ook van
die positiewe strale kry nie.
Teen 12 Desember brand die son toe soos dit net in die Vrystaat
kan. My en Buurman se positief-bestraalde mielies lyk soos uie
teen drie uur in die middag. Ek vra toe maar so oor die heining, wat
geword het van al die positiewe energie. Buurman laat weet toe
so effe verleë, dat hy die boks gaan opgrawe het om te kyk of hy
dalk aan die ratwerk kan stel. En toe hy die boks oopmaak, was dit
vol van boggerôl...
Die boks lê nou agter die stoor en ‘n swerm bye het daar ingetrek.
Hy het probeer om die boks se agent te kontak, maar al sy e-posse
kom terug. Dalk is die man net weg op vakansie of iets.
Toe ek met die bakkie huis toe ry, dink ek toe só daaraan: Ons
mense is só honger vir hoop, hulle sal selfs daarvoor betaal.
Met genade hoef ons egter nie ons hoop te vestig op ‘n boks vol
positiewe energie teen R200/ha nie. Daarvoor is die Groot Geskenk
aan die herders op die ope velde gegee. Die Geskenk van Genade
hou ook nie net vir een seisoen nie, maar vir ‘n ewigheid.
Geseënde Krismis op die Oosgrens!
Kleinneef
E-POSSE
aan Groot neef
Die boks
Lesers is welkom om ‘n e-pos aan Kleinneef te stuur by
kleinneef@graingrowers.co.za.
Desember 2016