

Foton het in 2013 die Tunland bekendgestel en ‘n nuwe beperkte
model, bekend as die Granite, is pas by die reeks gevoeg.
Volgens die ritrekenaar is die gemiddelde brandstofverbruik tussen
7 liter en 7,3 liter per 100 km in die stad en op die oop pad – ‘n
uitstekende syfer vir ‘n voertuig in hierdie klas.
Vergeleke met ‘n paar van sy mededingers is die enjin ‘n bietjie
raserig en wéét jy jy ry met ‘n dieselbakkie. Dit is egter nie ‘n groot
probleem nie en insittendes kan mekaar steeds hoor – selfs al praat
hulle nie hard met mekaar nie. Die hele reeks kom met ‘n vyfgang-
handratkas as standaardtoerusting. Nogtans is die koppelaar en
die rathefboom nie so swaar soos wat ‘n mens sou verwag nie en
enigiemand behoort hom maklik te bestuur. Die ritgehalte is nie
heeltemal op dieselfde standaard as dié van sommige mededingers
nie, maar ook dít is nie ongemaklik nie.
Die sleepkapasiteit van die hele reeks is 2,5 ton. Dit klink nie juis
indrukwekkend as ‘n mens dit met dié van sommige mededingers
vergelyk nie, maar ‘n mens moet regtig ‘n baie swaar woonwa of
sleepwa sleep om ‘n hoër sleepvermoë te regverdig.
Die vraag is natuurlik of die Granite die moeite werd is as mens dit
met die Luxury vergelyk. Die Luxury 4x2 se prys is R319 995, ter-
wyl die Granite net R10 000 duurder is. Dit maak die Granite
uitstekende waarde vir geld – veral omdat sy waarborg pleks
van drie jaar of 100 000 km soos die res van die reeks, vyf jaar of
150 000 km is. Dít alleen maak die Granite die moeite werd, asook
die feit dat die bykomstighede wat standaardtoerusting op die
Granite is, baie duurder sou wees as ‘n mens dit afsonderlik
sou aanbring.
Natuurlik is die afwerking van die Granite ‘n kwessie van persoonlike
smaak. Om die Granite se prys verder in konteks te plaas, moet
hy met sy mededingers vergelyk word. Die Toyota Hilux 2,4
GD-6 SRX se prys is R442 700 en dié van die Ford Ranger 2,2 XLS
is R442 900. Dit beteken dat die Granite meer as R100 000 goed-
koper as sy vernaamste teenstanders is.
Daar is egter ‘n paar dinge wat ‘n mens in gedagte moet hou. Die
belangrikste is dat die Hilux, die Ranger en die Isuzu KB deur geves-
tigde landwye handelaarsnetwerke gerugsteun word. Dit is veral
belangrik vir plattelandse eienaars. Dan is daar die kwessie van
herverkoopwaarde – dit is nie duidelik of die Tunland in hierdie
opsig met die gevestigde mededingers kan saamgesels nie. Aan
die ander kant is ‘n bakkie gewoonlik ‘n langtermynaankoop en
die gemiddelde bakkie-eienaar steur hom nie noodwendig aan
modegiere en foefies nie.
As ‘n mens die Tunland egter met sy Chinese mededingers ver-
gelyk, lyk dinge sommer baie beter. Die GWM Steed 6 Xscape
se prys is hoër as dié van die Tunland en daar is eintlik min te
kies tussen hulle. GWM is egter goed verteenwoordig op die
platteland en nie noodwendig in stedelike gebiede nie. Daarby
is die feit dat twee van GWM se passasiersmotors aan die mark
onttrek minder as twee jaar nadat hulle bekendgestel is, verdag.
Boonop is ‘n diensplan slegs ‘n opsie op hierdie model. Die JMC
Vigus SLX-diesel se prys is R309 900, maar ‘n vooraanstaande
Suid-Afrikaanse motortydskrif het die Steed 6 bo die Vigus gekies
toe hierdie twee teen mekaar getoets is.
Die Tunland 4x2-modelle kom met ‘n diensplan van twee jaar of
40 000 km as standaardtoerusting, maar hierdie tydperk kan sekerlik
verleng word. As ‘n mens die prysverskil tussen die Tunland en
sy mededingers in aanmerking neem, is dit dalk ‘n goeie idee om
sommer daarvoor te begroot en ‘n verlengde diensplan by die prys
in te reken.
Teen R329 995 is die Granite egter uitstekende waarde vir geld. As
jy bereid is om sonder ‘n paar geriefskenmerke, waarvan sommige
werklik onnodig is, klaar te kom en die effens raserige enjin en
stamperige rit nie vir jou ‘n probleem is nie, sal hy ‘n aangename
verrassing wees.
39