SA Grain December 2013 - page 47

Renault Duster maak sin
R
enault se nuwe Duster sportnutsvoertuig (SNV) wat in September in
Suid-Afrika geloods is, is een van daardie voertuie wat verandering
gaan bring.
Die Duster maak sin. Dit is ‘n sterk, harde, middelslag SNV met die klem
op sterk en het so pas met Indië se Motor van die Jaar-titel weggestap.
Indië is ‘n land waar die ekonomie met rasse skrede groei en omdat geld
meer beskikbaar raak, word daar baie meer voertuie in Indië verkoop
as in Suid-Afrika. Blykbaar is hulle paaie egter nie so wat wonders nie:
Dieselfde gehalte van paaie wat ons tussen Vryburg en Wolmaransstad
of tussen Clocolan en Marquard teëkom; meer sloot as pad. Daarom, as
die Indiërs reken die Duster is ‘n motor van die jaar, moet ‘n mens kennis
neem, want dis wraggies moeilik om die E300 deesdae op ‘n teerpad uit
te vat.
Daar is vier modelle in die reeks Dusters. Twee met ‘n 1,6 liter petrolenjin
en twee met ‘n turbo-ondersteunde 1,5 liter dieselenjin. Een van die twee
dieselmodelle het ook ‘n 4x4-aandrywing, terwyl die ander drie modelle
net voorwielaangedrewe is.
Hierdie dieselenjins het ‘n kraglewering van 80 kW en bereik sy maksimum
wringkrag van 240 Nm by 1 750 omwentelinge in die 4x4-weergawe en by
2 250 omwentelinge in die 4x2-weergawe. ‘n Baie lae brandstofverbruik
van 5,5 liters/100 km in die 4x2-weergawe en 5,3 liters/100 km in die
4x4-weergawe is by die dieselmodelle te kry.
Selfs op die rofste veldpaaie, hanteer die 4x4-weergawe, die Duster
1.5 dCi Dynamique 4x4, met gemak. Die hoë grondvryhoogte
(210 mm) word ondersteun deur gunstige naderings-, oorbruggings- en
vertrekhoeke (30, 23 en 36 grade onderskeidelik) – wat maak dat ‘n mens
hierdie flinke SNV omtrent orals kan neem.
Die ratkasverhoudingstelling van die sesgang-handratkas in die 4x4-
weergawe is aangepas sodat dit ‘n kort eerste rat (5,79 km/uur teen
1 000 omwentelinge) het, wat sorg dat ‘n mens selfs die ergste
veldtoestande, steil hellings, swaar ladings of voertuigsleep sal kan
hanteer, sonder om die koppelaarskyf te brand.
Die Duster 1.5 dCi Dynamique 4x4 is toegerus met ‘n elektroniese
stabiliteitsprogram (ESP) en ‘n hoëverrigtingsvierwielaangedrewe-
beheerstelsel afkomstig van Nissan (as deel van die Renault-
Nissan-samewerking). Hierdie instinktiewe beheerstelsel pas by alle
padoppervlaktes aan en stel ook die bestuurder in staat om tussen
die volgende drie gange te kies: Tweewielaandrywing vir paaie met
goeie greeptoestande (krag en wringkrag word slegs na die voorste
wiele toegevoer); AUTO vir onbestendige, uitdagende padoppervlaktes
(opsporing van tollende wiele en die outomatiese verspreiding van krag
en wringkrag om heeltyd vastrapvermoë te verseker) en LOCK (sluit) vir
meer uitdagende veldpaaie (permanente toevoer van krag en wringkrag
na al vier wiele).
Soos met alle Renaults in Suid-Afrika het die Duster ‘n vyf jaar/
150 000 km waarborg en ‘n drie jaar/ 45 000 km diensplan. Diensintervalle
vir beide die petrol- en dieselenjins is 15 000 km.
Renault SA spog dat hulle 95% van al die onderdele altyd beskikbaar het
en binne 24 uur by enige Renault handelaar kan aflewer.
Pryse
1.6 Expression 4x2
R194 900
1.6 Dynamique 4x2
R204 900
1.5 dCi Dynamique 4x2
R219 900
1.5 dCi Dynamique 4x4
R239 900
Wiele vir die plaas
GERRIE SMIT, LID VAN DIE
SA MOTORSKRYWERSGILDE
Die Renault Duster 1.5 dCi Dynamique 4x4 is
‘n geharde gesinsportwa met 4x4-aandrywing
om vir uitdagende terreine kans te sien.
Die Renault Duster met voorbeelde van toebehore,
is in Oktober tydens die Johannesburgse Interna-
sionale Motorskou aan die publiek bekend gestel.
Rubrieke
45
December 2013
1...,37,38,39,40,41,42,43,44,45,46 48,49,50,51,52
Powered by FlippingBook