SA Grain December 2013 - page 49

‘n Ander benadering in algebeheer sal wees om die opbou van
voedingstowwe in die water te minimaliseer. Enige materiaal wat in die
water ontbind, sal ‘n bron van voedingstowwe wees (soos byvoorbeeld
blare en visreste). Selfs ‘n oormaat viskos kan nadelig wees in die opbou
van voedingstowwe.
Gewone filters kan baie van die ongewensde items uit die water verwyder.
Só ‘n filter bestaan uit verskillende sponse met verskeie digthede
waardeur die water vloei. Die growwer sponse sal eerstens die groter
afvaldeeltjies opvang waarna die water deur fyner en fyner sponsdele
vloei. In plaas van die sponse kan die water ook deur ‘n sandfilter vloei
om vastestofdeeltjies te verwyder.
Biologiese filters is ook baie suksesvol om goeie waterkwaliteit te
verseker. Tydens die afbreekproses van afvalstowwe in die water word
ammoniak vrygestel wat in oormaat toksies kan wees vir visse.
Die filters tree op as broeiplek vir nuttige bakterieë wat die ammoniak
(bron van stikstof) omskakel na nitriete – met nitrate as eindproduk.
Nitrate is ‘n goeie bron van stikstof vir plante en is minder skadelik vir
visse. Dit is ‘n sogenaamde “nes” vir die bakterieë in die filterboks en
is niks anders nie as poreuse produkte of produkte met ‘n groot buite-
oppervlak.
Hier is plastiese pype wat in baie kort lengtes gesny is, baie effektief
aangesien die bakterieë hulself aan die buitenste sowel as die binneste
wand kan vasheg. ‘n Gekartelde pyp (soos dié wat in swembaddens
gebruik word) vergroot ook weer eens die buite-oppervlak. Alternatiewelik
kan gebakte klei en sekere poreuse klipsoorte ook gebruik word.
Waar biologiese filters gebruik word, is dit belangrik dat water
aanhoudend daardeur moet vloei om die bakterieë aan die lewe te hou.
As alge ‘n verdere groot probleem is, kan die dammetjie se water oor ‘n
spesiale UVC-lig gepomp word. Die lig is gewoonlik in ‘n pyp gehuisves
en soos die water daaroor vloei, vernietig dit skadelike kieme. Alge en
bakterieë staan nie hier ‘n kans op oorlewing nie. Let asseblief daarop dat
dit slegs die alge in die water sal verwyder en nie die alge wat teen die
dammetjie se rante groei nie.
Daar is ook vloeistofprodukte beskikbaar wat alge kan beheer deurdat dit
‘n dun lagie op die wateroppervlak vorm (ietwat blou-groen). Die produk
is nie skadelik vir visse en waterplante wat bo die wateroppervlak uitgroei
nie. Hierdie produk se sukses lê daarin dat dit minder sonlig toelaat om
die water binne te dring sodat dit die fotosintese van alge sodoende kan
beperk.
‘n Skoon dammetjie sal nie net die padda en sy nooi lok nie, maar sal
ook ‘n veilige kuierplek wees vir ander gevinde en geveerde vriende. Hoe
lekker sal dit dan nie wees om agteroor te sit (ná die korrekte beplanning
van die visdam) en die water-toevlugsoord te geniet nie!
Vir navrae, skakel David Viljoen van Mercury Designs by 011 894 2430 of
082 468 3142, of stuur vir hom ‘n e-pos na:
.
1...,39,40,41,42,43,44,45,46,47,48 50,51,52
Powered by FlippingBook